Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só kan die ANC onttroon word

Sal die opposisie ooit daarin slaag om die ANC as regerende party van sy troon te stoot? Indien wel is dít wat hulle moet doen, skryf Pieter Labuschagne.

Pieter LabuschagneFoto: Sarel van der Walt

Alle aanduidings in onlangse steekproewe dui daarop dat die ANC weer die komende verkiesing gaan wen. Dit sal die ANC se sesde agtereenvolgende oorwinning wees, en beteken dat dié party vir amper drie dekades die politieke toneel in die land sal oorheers.

Die ANC word tans deur swak regering en onthullings oor skouspelagtige staatskaping en korrupsie geskud. Ten spyte van die onthullings is daar ’n kommerwekkende onvermoë by die opposisiepartye om die ANC se mislukkings uit te buit. Dit laat onvermydelik die vraag of die opposisie ooit daarin sal slaag om die ANC van sy troon te stoot?

Die enigste twee opposisiepartye wat sedert 1994 deur die 20%-steunbasisgrens kon breek, was die Nasionale Party in 1994 met 20,4% en die DA in 2014 met 22,23%.

Suid-Afrika kan in wese, beide de jure en de facto, as ’n eenpartystaat beskou word. Die ANC het in 1994 met 62,6% van die stemme as regerende party aan bewind gekom en vyf jaar later die steun na 66,4% opgestoot. In die 2004-verkiesing het die ANC sy steun met 69,6 % van die steun bereik. In 2009 het die party sy senit op 65,9% gestabiliseer en onder oudpres. Jacob Zuma het die ANC in die 2014 verkiesing tot 62,15% teruggesak.

Die enigste twee opposisiepartye wat sedert 1994 deur die 20%-steunbasisgrens kon breek, was die Nasionale Party in 1994 met 20,4% en die DA in 2014 met 22,23%. Die realistiese verwagting aan die einde van 2018 was gevolglik dat die DA sy steun in die Mei 2019 verkiesing tot oor die 30%-grens sou kon opstoot.

Dié steunbasis kon dan potensieel met die hulp van koalisievennote, soos die IFP, Vryheidsfront Plus, ACDP, Cope en Agang ’n opposisie-magsblok van ongeveer 40% steun gevorm het. Indien die EFF ook sy steun oor die 10%-drempel in die verkiesing sou kon opstoot, sou die ANC sy meerderheid in die Nasionale Vergadering verloor het.

Die ANC bestaan in hoofsaak uit twee sterk magsentrums, met pres. Cyril Ramaphosa wat die meer gematigdes en rasionele groep verteenwoordig.Foto: Tebogo Letsie

Dít hou die ANC sterk

Die DA se steun het egter ná die De Lille-sage en die waarneembare wegkalwing van veral wit steun na onder die 20%-vlak gedaal. Die mees onlangse peilings bevestig dat die DA sy steun weer tot vlakke van oor die 20% herstel het, maar die 30%-teiken is nie meer realisties nie.

Die ANC sal waarskynlik ook steun verloor, maar behoort steeds tussen 54 en 57% van die nasionale steun te verower, wat die nodigheid vir enige koalisievorming uitskakel.

Waarom kan die ANC nie van sy troon gestoot word nie?

Die politieke dinamika oor amper drie dekades toon duidelik dat die ANC nie op mediumtermyn deur die opposisie gestuit sal word nie. Die kernvraag is waaraan die ANC se volgehoue dominansie die afgelope drie dekades toegeskryf kan word.

*Die ANC is ’n amorfe massaparty wat op die “vang almal-beginsel” gebaseer is. Dié party het reeds vir dekades voor 1994 as vangnet vir uiteenlopende anti-apartheids-ideologieë gedien. Die ANC kon dus ’n inklusiewe tuiste aan geharde Staliniste, kommuniste en sosialiste tot by sosiaal demokrate en liberaliste bied, ten spyte van die afwesigheid van ’n enkele sterk samebindende ideologiese onderbou.

Die tweede hoofrede vir die volgehoue kohesie van die ANC is dat die samebindende gom persoonlike belange is, en nie soseer etiek en waardes nie.

In teenstelling is partye soos die DA ’n meer eksklusiewe party wat op ’n nou liberaal-demokratiese ideologiese basis gebaseer is.

*Die tweede hoofrede vir die volgehoue kohesie van die ANC is dat die samebindende gom persoonlike belange is, en nie soseer etiek en waardes nie. Die regerende party besit vir dekades die monopolie om begunstiging en poste toe te ken. Voeg daarby die toestaan van toelaes aan amper een uit elke vyf mense in die land en dié alleenreg op gunste en gawes bied ’n kragtige voordeel. Solank die ANC-regering die beskermheer is en alleenreg oor die netwerk van begunstiging, poste en toelaes besit, sal dit aan die party ’n konstante ondersteunings-toevoer bied.

*Die ANC, net soos Zanu-PF in Zimbabwe, word steeds deur die tradisionele deel van die bevolking as die bevryders van apartheid gesien – en die “bevryders” verdien om beloon te word.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, lei die meer radikale groepering in die ANC. Foto: Tebogo Letsie

Die strominge in die ANC

Wat is die ANC se achilleshiel en hoe kan opposisiepartye dit uitbuit?

Die ANC bestaan in hoofsaak uit twee sterk magsentrums, met pres. Cyril Ramaphosa wat die meer gematigdes en rasionele groep verteenwoordig en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat die radikale groep lei. Dié strominge in die ANC is egter meer kompleks as die aangeduide tweekoppige magsentrum en bestaan in werklikheid uit vele strominge en kleiner belangegroepe. Maar in die breë het die onderlinge verdelings in die party histories in twee hoofgroepe geval, wat tans die dinamika en die trajek van die party bepaal.

Die twee magsentrums word in ’n mate deur die opposisie se ongenuanseerde strategie gedwing om hul verskille eenkant te plaas, ten einde die opposisie verenig teen te staan.

Die ANC se achilleshiel is die duidelike verdelingslyn wat tussen die twee hoofgroepe bestaan – ’n swak plek wat nog nooit strategies deur die opposisiepartye uitgebuit is nie. Die opposisie se ongekwalifiseerde en ongenuanseerde Westminster-strategie om die regerende party in die parlement en elders aan te val, het nog altyd die twee ANC-hoofgroepe in mekaar se arms gedryf.

Die twee magsentrums word in ’n mate deur die opposisie se ongenuanseerde strategie gedwing om hul verskille eenkant te plaas, ten einde die opposisie verenig teen te staan.

Die verdere strategiese fout wat die opposisiepartye begaan, is dat hulle strategies onrealisties optree, asof hul die “regering in afwagting is”. Klein partye stel beleidsprogramme op met beloftes hoe hulle beter sal kan regeer, misdaad sal bekamp en werkloosheid sal verminder wanneer hul aan bewind kom. Dit is ’n tipiese Westminster-strategiese denkpatroon, wat realisties gesproke nie haalbaar in Suid-Afrika is nie.

Duiwe en valke

Die DA se amperse obsessie om die politieke mag oor te neem het daartoe gelei dat dié party in dieselfde korttermyndenke vasgevang is. Die DA is bereid om met die EFF (waarvan hy ideologies hemelsbreed verskil) ’n samewerkingsooreenkoms aan te gaan, net om te kan regeer.

In ’n diagrammatiese voorstelling kan die scenario só voorgestel word. Vir illustrasiedoeleindes word die ANC in sy twee faksies verdeel.

Grafika: Grafika24

Die DA in sy gretigheid om te regeer, het op munisipale vlak oor die ideologiese grens gereik om met die EFF ’n samewerkingsooreenkoms aan te gaan. Die ironie is dat dié twee partye ideologies en andersins hemelsbreed van mekaar verskil. Binne die ideologiese en politieke spektrum is die gematigde groep (duiwe) binne die ANC baie nader aan die DA-beleid as die radikale EFF se beleid. Die DA het egter in ’n tipiese Westminster-styl verkies om met ’n provokatiewe strategie die ANC as sy grootste “vyand” te beskou deur sy ideologiese “vyand” (EFF) as vennoot te omarm. Hierdie voordeel is korttermyn en het geen of min langtermynvoordele.

Op nasionale vlak verskil die DA en die ANC se beleid in sommige areas net in graad, soos byvoorbeeld oor grondhervorming. Dié verskille kan deur onderhandeling en kompromie baie naby aan mekaar gebring word. Die EFF se beleid oor die nasionalisering en staatsbeheer van grond is in teenstelling ligjare van die DA se beleid verwyder.

Die DA-leier Mmusi Maimane groet ondersteuners voor sy toespraak by die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes.Die mees onlangse peilings bevestig dat die DA sy steun weer tot vlakke van oor die 20% herstel het, maar die 30%-teiken is nie meer realisties nie.Foto: Deaan Vivier

Gematigde middelgrond

Die DA sou veel meer bereik het deur in die wandelgange in die metro’s waar hulle die sterkste party is, soos in Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai, toenadering tot die gematigdes in die ANC te soek. Dié wandelgang-diplomasie en gematigde middelpuntsoekende strategie sou die ANC-duiwe nader aan die DA kon posisioneer en sodoende geleidelik middelgrond tussen die partye kon bou. Dit kon op sy beurt weer die verdelingslyn in die ANC tussen die duiwe en die valke sterker aksentueer, die samewerking in die party verswak en potensieel op medium- en langer termyn tot ’n skeuring in die party lei.

Die aksentuering van waardes in die gematigde middelgrond van die politieke spektrum is die enigste werkbare oplossing vir die toekoms.

Oudpremier D.F. Malan het dekades gelede verklaar dat dié wat dieselfde innerlike oortuigings het, bymekaar gebring moet word. Die aksentuering van waardes in die gematigde middelgrond van die politieke spektrum is die enigste werkbare oplossing vir die toekoms. Indien die gematigde partye in Suid-Afrika en die duiwe in die ANC bymekaar kan kom, kan so ’n gematigde magsblok ontstaan.

Die pad vorentoe vir Suid-Afrika

In Suid-Afrika is die onlogiese pre-apartheidskonfigurasie van politieke partye nie volhoubaar nie. Die ANC se verskillende opponerende groepe, saamgebind deur belange en nie waardes nie, is onrealisties en nie in belang van demokrasie en die land nie.

Die ANC-valke is ideologies nader aan die EFF en die groep kan ná ’n skeuring naas dié party links op die politieke spektrum sy plek inneem. Die ANC-duiwe sal dan na die sentrum van die politieke spektrum kan beweeg om saam met die DA en ander gematigde partye ’n sterk gematigde party te vorm, wat sterk op sosiale demokrasie gebaseer is.

Die oogmerk moet wees om die ANC langs sy foutlyne te laat skeur.

Die DA en ander opposisiepartye se huidige strategie behoort dus te wees om met ’n medium- en langtermynstrategie hulle maksimaal daarop toe te spits om deur diplomasie die verdelingslyne in die ANC verder oop te beitel. Die oogmerk moet wees om die ANC langs sy foutlyne te laat skeur.

Die antwoord en hoop vir Suid-Afrika is die hersamestelling van die politieke spektrum en die vorming van ’n sterk gematigde sentrumparty, wat die magsbalans in die land beheer.

*Labuschagne is ’n emeritusprofessor aan die departement politieke wetenskap van Unisa. Menings in hierdie rubriek is die skrywer se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Ace Magashule  |  Pieter Labuschagne  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Anc  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.