Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só kan grondwa deur drif kom

Dit was amper voor die hand liggend dat die voorneme van die ANC om ’n beleid van die onteiening van grond sonder vergoeding te wettig, op ’n nasionale krisis en polarisasie sou uitloop.

Dit is presies wat gebeur het. Maar verlede week was daar tekens van toenadering tussen die belangrikste rolspelers, naamlik die regering, georganiseerde landbou en Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote.

Die situasie is vererger met die ondeurdagte toetrede tot die debat deur pres. Donald Trump van Amerika, wat uit die bloute op sy geliefde seepkis, Twitter, laat weet het dat hy sy minister van buitelandse sake versoek om ondersoek in te stel na Suid-Afrika se grondkwessie, asook na die “massiewe” voorkoms van plaasmoorde.

Trump se ingryping (soos met die meeste van sy Twitter-aankondigings) het uiteenlopende reaksies ontlok. Dit is deur onder andere pres. Cyril Ramaphosa in sterk taal veroordeel.

Suid-Afrika kan met reg Trump se uitlatings as inmenging in die binnelandse sake van ’n onafhanklike land vertolk.

Die punt is egter dit: Wat ’n mens ook al van Trump dink, hy is die leier van die wêreld se enigste supermoondheid en sy woord dra gewig. Sy uitlatings en opdrag oor Suid-Afrika kan nie net weggeskel word soos wat ons regering waarskynlik reken nie.

Dit is nie duidelik of dit met Trump se twiet verband hou nie, maar die vergadering tussen ons belangrikste handelsvennote en georganiseerde landbou (verteenwoordigend van alle belanghebbendes, insluitend opkomende boere) is ’n stap in die regte rigting.

Die grondkwessie is nie net ’n emo­sionele een nie, maar ook hoogs kompleks. Soos ons al in Suid-Afrika geleer het, is dit die soort kompleksiteit wat net deur eerlike en reguit dialoog bygelê kan word. Maklik sal dit nie wees nie. Ons het nie meer ’n Nelson Mandela wat met die krag en sjarme van sy persoonlikheid taai situasies kon ontlont en die gesprek op koers hou nie.

Ramaphosa kom wel uit die Mandela-skool van onderhandeling. Hy moet net sy magiese slag soos met die skryf van ons Grondwet herontdek en besef dat hierdie nie die soort probleem is wat jy in streng wit en swart terme opgelos gaan kry nie

Ongelukkig is Ramaphosa uitgelewer aan die morsige interne politiek van die ANC en vrees vir die groeiende krag van die EFF se populisme.

Suid-Afrika kan met reg Trump se uitlatings as inmenging in die binnelandse sake van ’n onafhanklike land vertolk. Enige land met selfrespek sal dit doen. Dit beteken egter nie dat die probleem sommer sal verdwyn nie. Die Amerikaners se uiteindelike bevindings oor Suid-Afrika sal hier en elders in die wêreld gewig dra. Dit sal dwaas wees om dit te ignoreer of weg te wens.

Ongelukkig is Ramaphosa uitgelewer aan die morsige interne politiek van die ANC en vrees vir die groeiende krag van die EFF se populisme.

Dit is nou belangrik dat die onderskeie partye aanhou soek na oplossings deur konstruktiewe dialoog en die herstel van wedersydse vertroue.

Deelnemers aan verlede week se gesprek tussen adj.pres. David Mabuza en verteenwoordigers van die landbousektor was optimisties oor wat hulle van die ANC en die land se nommer twee gehoor het. Mabuza was ook optimisties dat daar ’n weg tot almal se bevrediging gevind kan word. Dit is belowend en moet opgebou word.

Die regering het ’n verpligting om leiding te gee – die soort leiding wat oplossings kan bring en nie die uitdagings sal vererger nie.

Die vind van ’n volhoubare oplossing vir die grondvraagstuk is van nasionale belang. Dit beteken dat al die rolspelers bereid sal moet wees om ’n middeweg te vind, baie soos wat met die grondwetlike onderhandelinge in die 90’s gebeur het. Ons is dus nie op vreemde terrein nie.

Wat nodig is, is die politieke wilskrag en bereidwilligheid deur al die betrokkenes om die wa deur die drif te trek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.