Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só kan jy moord pleeg en daarmee wegkom
Erla-Mari Diedericks

’n Riller bied al die adrenalien van die reksprong sonder die dodelike uiteinde van die val. Erla-Mari Diedericks skryf oor hoe sy plek maak vir die lig om in te kom deur donker beelde uit haar brein te diep.

As jy eers iemand doodgemaak het, is daar geen omdraaikans nie.

’n Jaar gelede verander ek van koers. In plaas van die memoires waarvoor ek bekend geword het, skryf ek ’n sielkundige riller.

’n Sogenaamde domestic noir. Geweld in die vrou se onmiddellike omgewing beskryf uit ’n feministiese oogpunt en bla-bla-bla . . .

Dit klink baie slim. Amper asof verveelde skrywers eendag besluit het om ’n misdaad-intrige te verskuif na die binnekamers van ’n voorstedelike woonhuis en nou lees almal dit, want dis vars en nuut.

Nee.

Geweld was nog altyd die onwelkome gas aan huis, die skadu wat ’n vrou agtervolg, die waarskuwende stem in haar agterkop.

Dit is ’n ou, ou tema. Maar nou met ’n sterk, duidelike vrouestem.

Geweld was nog altyd die onwelkome gas aan huis, die skadu wat ’n vrou agtervolg, die waarskuwende stem in haar agterkop. Domestic noir klink half romanties, soos enigiets Frans, maar dit staan vir “domestic thriller”. Dus ’n huishoudelike riller.

En wat is die een ding wat die afgelope ruk (spesifiek tydens die pandemie) veelvuldig toegeneem het? Gesinsgeweld.

Boeke lewer kommentaar op die samelewing. Dit is dus glad nie verbasend dat al hoe meer skrywers en lesers hulself tot hierdie genre wend nie.

Soos in my boek.

’n Vrou wat deur haar ma mishandel is. Later deur haar man. ’n Vrou oorreed deur geldelike omstandighede om sekswerk te doen. Iemand wat haar agtervolg en teister. ’n Uiteindelike, taamlik grusame moord.

’n Vrou wat optree

Ons skryf hieroor, want dit is wat ons ervaar. Dit is wat elke dag gebeur. Ek werk in die aande met nuus vir Netwerk24.

Die boek se voorblad.

Die stories wat ek elke aand lees, kan ek nie vermy nie. Ek kan dit nie weglag, ignoreer of verder kliek nie.

’n Pa wat sy seun lewend begrawe. ’n Jong vrou wat smekend aanbied om verkrag te word deur vier mans in ruil daarvoor dat sy nie vermoor word nie. Hulle doen albei. ’n Vrou wat staan in haar stort, besig om die bloed van haar lyf af te was ná ’n aanval wanneer haar verkragters terugkeer. En haar wéér verkrag. ’n Bloedbesmeerde stoel gevind in ’n bebloede stort. ’n Vermiste vrou. So kan ek aangaan.

Interessante, meesleurende storielyne of die daaglikse nuus?

Partykeer hou die angs-oomblikke van mense my wakker. Deur hierdie donker beelde uit my brein op te diep en iets daarmee op papier te skep, maak ek plek vir die lig om in te kom.

En dit is dan ook waarom so baie mense deesdae psigologiese rillers (waarvan domestic noir deel is) lees. Want ons lewe in ’n gewelddadige wêreld wat chaoties en buite ons beheer voel. ’n Huishoudelike riller met ’n sterk vrouekarakter wat beheer neem, wraak neem, of die saak oplos, bemagtig die vroueleser. Die karakter doen dikwels wat die regte vrou nie kan nie. Sy tree op.

’n Reksprong sonder die val

Vir die leser – mans en vroue – bied die riller oplossings. Die legkaartstukke pas uiteindelik in mekaar, en raaisels en misdade word verklaar. Daar is orde aan die einde van die boek.

In werklikheid gebeur dit selde. Byvoorbeeld: Ons sal nooit regtig weet wat daardie aand in 2014 tussen Oscar Pistorius en Reeva Steenkamp gebeur het nie. Maar ’n skrywer plaas jou reg in die middel van die misdaad, soms selfs in die brein van die moordenaar.

Soos met wilde seks en sport, word dopamien vrygestel, en die brein vergoed jou met goedvoel-impulse omdat (volgens jou brein) jy ’n gevaarlike situasie oorleef het.

Wat ons bring by plesier. Sekerlik is rillers tog nie net gewild omdat lesers op ’n dieper vlak die ontvlugting van geweld soek nie? Dit is beslis nie die enigste of selfs die oorwegende faktor nie.

Die feit is: Rillers is lekker om te skryf. Dit is nog lekkerder om te lees. Dis soos ’n reksprong. Al die adrenalien van die sprong sonder die dodelike uiteinde van die val. Soos met wilde seks en sport, word dopamien vrygestel, en die brein vergoed jou met goedvoel-impulse omdat (volgens jou brein) jy ’n gevaarlike situasie oorleef het.

Jy en die karakter het ontsnap. En ek, die skrywer, het moord gepleeg – en daarmee weggekom.

*Dominique deur Erla-Mari Diedericks is tans in goeie boekwinkels beskikbaar. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Riller  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.