Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só klink die evangelie volgens Rassie

Die grondslag is nou gelê om verdere transformasie vreesloos deur te voer en die opvatting dat sogenaamde kwotaspelers die Springbokspan verswak die finale nekslag toe te dien, skryf Nico Botha.

By nadenke is die gedagte aan ’n evangelie volgens die Bokbreier Rassie Erasmus nie heeltemal gek nie. Foto: Mlungisi Louw

Omstanders het lekker gelag toe iemand in ’n gesprek oor Suid-Afrika se vertoning in die Wêreldbekerrugbytoernooi die volgende stelling oor Rassie Erasmus gemaak het: Hy is nie net ’n nasionale held nie – hy het sommer sy eie evangelie geskryf.

By nadenke is die gedagte aan ’n evangelie volgens Rassie nie heeltemal gek nie. Dis miskien allereers ’n evangelie om die steentjies wat deur die bouer verwerp is af te stof en in te messel en op ’n verrassende wyse te ervaar dat dié steentjies hoek- of sluitsteentjies geword het.

Rugbyliefhebbers sal onthou dat Faf de Klerk in ’n stadium oor die hoof gesien is en dat Cheslin Kolbe nooit regtig ’n kans gegun is nie. Maar het dié twee nie uiteindelik ’n deurslaggewende rol in die opgang by die Wêreldbeker gespeel nie?

’n Tweede element van die evangelie volgens Rassie is om in die aangesig van ’n glorieryke oorwinning steeds nie grootdoenerig te wees nie.

Daar is ook ander spelers vir wie Rassie ten spyte van kritiek ’n behoorlike kans gegee het. ’n Mens kan maar net bespiegel oor watter opgang spelers soos Gio Aplon en die talentvolle, maar helaas vergete Bertram Francis sou gemaak het indien hulle loopbane beter bestuur was.

Daar sal wel ’n hele aantal spelers wees (maak nie saak hoe hulle op grond van etnisiteit, ras en velkleur gedefinieer word nie) wat terugskouend miskien voel dat hulle nie altyd goeie kanse gebied is om hulself te bewys nie. In die skitterende vertonings van Faf en Cheslin vind hulle dalk ’n bietjie troos en bevestiging.

Ander Suid-Afrikaanse werklikhede

’n Tweede element van die evangelie volgens Rassie is om in die aangesig van ’n glorieryke oorwinning steeds nie grootdoenerig te wees nie. Kan hy aangehaal word waar hy triomfantelik sê dat Suid-Afrika die Engelse vermorsel het omdat hulle ’n klinkende oorwinning behaal het?

’n Mens staan verstom daaroor dat hy ná die wedstryd sê dat Suid-Afrika eintlik gelukkig was om te wen, omdat die wedstryd tot tien minute voor die einde nog in die weegskaal was. Het ons nie tog hier met ’n ander soort integriteit te make nie?

’n Derde element van die evangelie volgens Rassie is die vestiging van hoop. Dit val op hoedat die woordjie “hoop” tot ses maal voorkom in ’n korterige onderhoud met Rassie wat in die media verskyn het.

Dat die rugby-oorwinning vir ’n hele klomp Suid-Afrikaners hoop gebring het, kan nie ontken word nie. Maar vir 57 miljoen?

Op ’n interessante manier sinspeel hy op die druk waaronder Suid-Afrikaners verkeer. En dan sê hy dat rugby nie verdere druk moet veroorsaak nie, maar dat goeie vertonings soos in die Wêreldbeker hoop skep.

Dat die rugby-oorwinning vir ’n hele klomp Suid-Afrikaners hoop gebring het, kan nie ontken word nie. Maar vir 57 miljoen? Of moet ons met ’n eerlike aftreksom werk en sê dit is 57 miljoen minus tussen tien tot twaalf miljoen Suid-Afrikaners wat nie eens weet waar hulle volgende maaltyd vandaan kom nie?

Of die 55% van alle Suid-Afrikaners wat in hulle huishouding met minder as R920 per maand moet klaarkom? Want Rassie self lê die verband tussen hoop en dié werklikheid deur te verwys na werkloses of mense wie se geliefdes vermoor is.

Hieruit blyk die integriteit van die evangelie volgens Rassie: Dat die Wêreldbeker-oorwinning mense lank nog sal laat jubel en goed sal laat voel om ’n Suid-Afrikaner te wees, maar dat ons ’n aantal ander Suid-Afrikaanse werklikhede vierkantig in die oë moet kyk ten einde die oorwinning nog soeter te maak.

“Kwotaspelers”

Nico Botha

Die gevaar is groot dat ons, soos met die oorwinnings in 1995 en 2007, weer kan verval in die tipiese Suid-Afrikaanse tendens van minderhede wat voordeel trek, terwyl die massas met leë hande weggestuur word. Hierdie minderhede kan óf wees ’n groep mense wat voordeel trek uit ’n spesifieke politieke stelsel of die swart elite wat sedert 1994 groot opgang gemaak het ten koste van ander. Of natuurlik – soos ná 1995 en 2007 – die rugbyspelers wat met betrekking tot hulle sterstatus vir groter pakkette kan beding.

Die grondslag is nou gelê om verdere transformasie vreesloos deur te voer en die opvatting dat sogenaamde kwotaspelers die span verswak die finale nekslag toe te dien. Met die skitterende drieë van Kolbe en Makazole Mapimpi is daar hopelik nie ’n enkele Suid-Afrikaner in wie se woordeskat die term kwotaspeler meer voorkom nie.

Verder is die grondslag ook gelê om alle agterdog te bestry dat sommige spelers steeds voorgetrek word en altyd ’n beter kans het om gekies te word.

Maar om vir ’n oomblik tot die 57 miljoen-simboliek terug te keer: Sal dit nie ’n pragtige gesig wees as die meerderheid Suid-Afrikaners teen 2023 met die volgende Wêreldbeker-toernooi vasgenael voor die televisie sit omdat hulle deel voel van hierdie land omdat hulle werk, kos en al die ander basiese dinge het wat ’n menswaardige lewe verseker nie?

Maar dan is daar ook Suid-Afrikaners wat nie konstant onder die indruk gelaat moet word dat hulle eintlik geen sê meer het nie. ’n Mens kan maar net hoop dat die evangelie van Rassie volhoubaar sal wees.

*Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Faf De Klerk  |  Cheslin Kolbe  |  Nico Botha  |  Gio Aplon  |  Transformasie  |  Nasiebou  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.