Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só kry jy Zuma, Ace, Niehaus in SA uit jou kop
Charles Smith

Hoe kry ’n mens hierdie land wat so diep in jou hart gemessel is, uit jou kop uit in tye soos dié?

Die beelde van jou landgenote wat plunder en afbrand uit woede oor ’n voormalige president wat in die tronk sit oor sy weiering om vrae te antwoord oor beskuldigings dat hy die land geplunder het, was verwoestend.

Hoe bly ’n mens hier, het ek gewonder. Hoekom gee ’n mens nog om? Hoekom probeer jy ’n lewe hier maak as jy na Amerika, Kanada, Europa of Australië kan uitwyk? ’n Rekordgetal van ons doen dit reeds, veral nou. Dit is nie dat dit ’n verrassing was nie. Plundering gebeur sporadies en dit is gewoonlik gekoppel aan xenofobiese aanvalle. Die ANC voed die monster al lank. En monsters in die ANC het chaos geskep as rookskerm om die land te stroop.

Iewers moes die armoede, geskep deur die ANC, die voorbeeld van diefstal wat betaal, die aanhitsing, die vals beloftes wat beleid soos onteiening sonder vergoeding skep, ’n afgetakelde, swak polisie, vrot ministers en swak uitvoering ontplof. En dit het. Die skade is yslik. Jou hart breek.

Ek was dié week op die plaas. Ek het die beelde gesien as ek sein gehad het terwyl ek in die veld geloop en gery het. Ek het later my foon gebêre. Die nuus is verwoestend as jy ’n plaas aan die gang en diere aan die lewe probeer hou te midde van bittere koue, stormwinde, Covid-19 en brande. Jy moet mense motiveer en rekeninge betaal. Die plunderaars en politici veroorsaak dat kos, goedere en brandstof se pryse bly styg.

Om my het die grond van my vadere gelê, wit, bruin én swart. Hul huise, krale, tekeninge, werktuie, beendere van hul diere en hul grafte is hier.

Om my het die grond van my vadere gelê, wit, bruin én swart. Hul huise, krale, tekeninge, werktuie, beendere van hul diere en hul grafte is hier. Jy hoor hul stemme in die wind. Ek sien hoe die kinders lag en in die veld loop met hul velskoene. Jy ruik die rook van kosvure. Almal eet en lewe op en van die plaas.

Weke voor die plundering het ek vir die werkers dié boodskap gegee: Elke dag maak ons iets reg. ’n Hek, ’n stuk heining, ’n masjien, ’n deur of ’n klipmuur. Dit is wat ons doen. Ons maak die plaasbakkie en trekker reg. Die 120 jaar oue kraalmuur word oorgebou en kalwers word daarin gespeen. Heinings word herstel. Só kry ons Jacob Zuma, Ace Magashule, Carl Niehaus en die plunderaars uit ons kop.

Met tange, grawe, troffels, gaffels, spuite en hande. Ons praat oor hoe mooi die beeste en die skape is, al is dit winter. Ons praat oor die kinders, skool, familie. Ons maak wildspotte van bok- en vlakvarkvleis van die plaas. Ons braai lammerstertjies. Ons harte word vol.

Ek sien hoe die land hande vat, kos en klere insamel, trokke gepak en winkels oorgebou word. Ons het meer bouers as brekers in die land. Saam is ons sterker. Ons is broos, maar gereed vir die taak. Dis taai, maar dis wat ons ken.

Dis óns land hierdie. Elkeen s’n wat werk, bou, kos voorsien en goed is vir ander. Die brekers sal ons nie onderkry óf verdryf nie. Maak elke dag iets reg en beter. Dis ons leuse.

  • Smith is Netwerk24 se nuushoof in Bloemfontein.
Meer oor:  Charles Smith  |  Plundering  |  Politiek  |  Voorvaders  |  Beelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.