Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só lyk ’n staatsgreep in Afrika

Was dit wat ons die laaste week of wat in Suid-Afrika gesien het ’n staatsgreep of ’n poging tot ’n staatsgreep? Liesl Louw-Vaudran het gaan kyk hoe staatsgrepe gewoonlik verloop.

Zimbabwe, 2017: ’n Selfie saam met ’n soldaat. Foto: Getty Images

Burgers van baie onstabiele lande in Afrika ken al die tekens.

Buitelanders word soms deur ambassades of die Verenigde Nasies gewaarsku, maar ook nie altyd nie.

Die patroon is gewoonlik min of meer dieselfde: Eers is daar maande of weke van massaprotes teen die regering. Dit kan wees oor enigiets van broodpryse of korrupsie tot die regering se hantering van die veiligheidsituasie.

En dan op ’n dag raak die strate skielik leeg en soldate neem stelling in voor die parlement, die presidentswoning en die nasionale radio- en televisiestasie.

Tuis staar mense na die swart skerm wat hul gunstelingreeks op TV vervang het.

Op die radio speel militêre musiek.

Die internet is afgesny.

Kol. Assimi Goita, die leier van twee staatsgrepe, onlangs by ’n moskee in Bamako. Foto: Reuters

Ná ’n rukkie, gewoonlik hier net ná middernag, verskyn ’n kaptein – feitlik nooit ’n generaal of ’n kolonel nie – op die skerm. Agter hom staan ’n span van sy manskappe op aandag.

Hy lees ’n kwaai verklaring voor: Die weermag het ingegryp om mense te beskerm teen die vergrype van die president en sy korrupte regering. Om orde te herstel.

Die president en die eerste minister is in huisarres, maar hulle is veilig. Moenie bekommerd wees nie. ’n Militêre raad word saamgestel, wat aan bewind sal bly vir 18 maande totdat nuwe verkiesings gehou kan word.

Die grondwet is opgeskort en ’n noodtoestand geld. Grense is gesluit en die lughawe is toe. Mense moet kalm wees en by die huis bly. Niks sal gebeur nie. Ons doen dit vir julle.

Maar almal is vreesbevange.

Die internasionale gemeenskap stuur afgevaardigdes en boikot die nuwe militêre junta. En van daar is dit ’n afdraande pad totdat demokrasie en stabiliteit herstel kan word.

En dan was daar Zimbabwe . . .

Die Zimbabwiese weermag het in 2017 beheer oorgeneem voordat Emmerson Mnangagwa wyle Robert Mugabe as president vervang het. Foto: Getty Images

Dit het al telkemale gebeur: van Mali tot Madagaskar en van Egipte tot Lesotho.

Elke situasie wyk op sy eie manier af van die patroon, maar die kernbestanddele is gewoonlik daar: ’n meerderheid ontevrede burgers, ’n korrupte elite, ’n verdeelde regerende party, swak staatsinstellings, geen onafhanklike media of howe nie en veiligheidsmagte wat verpolitiseerd is. Laasgenoemde is waarskynlik die grootste gemene deler.

Lande in Afrika waar die weermag grotendeels uit die politiek bly, het ’n kleiner risiko om ’n staatsgreep te beleef.

Senegal, bekend vir die professionaliteit van sy weermag, het sedert onafhanklikheid nog nooit ’n staatsgreep beleef nie, terwyl dit al die geval was in feitlik al sy buurlande en in die streek. Dit sluit in Mauritanië, Mali (wat onlangs weer ’n vyfde staatsgreep sedert onafhanklikheid beleef het – die tweede in minder as 18 maande), Niger, Guinee, Burkina Faso, Ivoorkus en Tsjad.

Min het Zimbabwiërs toe geweet dat die regime wat oorneem, amper erger sou wees as dié van Mugabe.

Ghana en Nigerië het ook ná onafhanklikheid talle kere deurgeloop. Kleiner lande soos Guinee-Bissau, Gambië, Liberië en Sierra Leone het ook almal reeds ’n staatsgreep of drie beleef.

In die laaste paar jaar was daar ook magsoornames in plekke soos Soedan en Algerië, waar populêre opstand die deurslag gegee het, asook die sogenaamde Arabiese Lente tien jaar gelede.

En dan was daar die staatsgreep in Zimbabwe in 2017 wat nooit amptelik hierdie stempel gekry het nie.

Emmerson Mnangagwa het van die struwelinge in die regerende Zanu-PF en die verswakte toestand van wyle doupres. Robert Mugabe gebruik gemaak om mag oor te neem sonder enige internasionale teenstand.

Liesl Louw-Vaudran

Hy kon ook op ’n baie gefrustreerde en uitgehongerde burgery staatmaak, maar dit was nie juis ’n faktor in hierdie paleisrevolusie nie. Mnangagwa was immers van die binnekring.

Nadat hy in November 2017 deur Mugabe (en sy vrou, Grace) afgedank is en na Suid-Afrika gevlug het, glo uit vrees vir sy lewe, was daar ’n paar weke van verwarring en onsekerheid. En toe skielik, onverwags, kom die berigte van ooggetuies dat weermagvoertuie aan die buitewyke van Harare opgemerk is.

Is dit? Nee, dit kan nie wees nie. Ja, dis is ’n staatsgreep, het mense uiteindelik uit die Zimbabwiese hoofstad laat weet.

Goedgelowige Zimbabwiërs het met vlae die strate ingevaar en selfies saam met die soldate geneem. Mugabe en Grace is onder huisarres geplaas en ná baie valse beloftes en ontmoetings is hy uiteindelik na die parlement gedwing, waar hy amptelik bedank het.

Die slinkse Mnangagwa en sy soldate het gesê, nee, dis nie ’n staatsgreep nie. Alles het grondwetlik gebeur. Die buurlande en die internasionale gemeenskap was maar te bly om van Mugabe ontslae te raak en het nie oor semantiek gekibbel nie.

Min het Zimbabwiërs toe geweet dat die regime wat oorneem, amper erger sou wees as dié van Mugabe.

Suid-Afrika is tot nou toe sulke scenario’s gespaar.

• Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Arabiese Lente  |  Grace Mugabe  |  Robert Mugabe  |  Emmerson Mnangagwa  |  Nigerië  |  Zimbabwe  |  Madagaskar  |  Ghana  |  Mali  |  Tsjad  |  Staatsgreep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.