Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So Malema, wil jy regtig hê ons moet vir jou stem?

Dit sou vir alle minderhede goed wees om op Julius Malema se stellings te reageer, skryf Danny Titus.

Danny TitusFoto: Lerato Maduna

Menseregte in ons landjie is weer in die kollig. Die een reg waarvoor vir eeue gestry is, is tans in volle swang. Dís nou die reg om te stem.

Ai! As ek maar meer duidelikheid gehad het oor wat om met my stemreg te doen! Maar terwyl ons fundamentele regte ons aandag voortdurend vereis, is dit die Menseregtekommissie (MRK) se uitspraak oor Julius Malema, EFF-leier, wat nou onder die soeklig is in die Afrikaanse media. Ander dinge wat ons aandag vereis, is geweld teen vroue en kinders, vroue wat vermoor word, geen respek vir die reg op lewe nie, openbare protesoptogte, diensleweringsprotesoptogte en toegang tot gesondheidsorg. Hierdie is ’n paar dinge wat uitstaan en wat ook toon hoe ver die gaping is tussen ons regte op papier en die uitvoering daarvan vir miljoene Suid-Afrikaners. Maar dit is die kwessie van vryheid van spraak, haatspraak en die grondwetlike beskerming van dié regte wat nou die aandag verg.

Aldus die verslag kan vryheid van spraak nie sterker weeg as ander grondwetlike regte nie.

Die MRK se verslag verwys na die konstitusionele hof wat al bevind het dat “uitdrukkings wat skok, aanstootlik is of steurend is grondwetlike beskerming (behoort) te geniet”. Aldus die verslag kan vryheid van spraak nie sterker weeg as ander grondwetlike regte nie. Dit moet opgeweeg word teen die reg tot gelykheid.

Die verslag kyk na die Grondwet en gelykheidswetgewing en hoe dié twee teen mekaar opgeweeg moet word. Dan kyk die verslag na die vyf stellings van Malema. Die eerste gaan oor grondbesetting. Hy verwys na kolonialisasie – waar wit mense swart mense hier gekry het en van hulle doodgemaak het. Dan die gewraakte stelling dat hy nie vra dat wit mense doodgemaak (afgeslag) word nie . . . ten minste nie nóú nie. Aldus die MRK se objektiewe toets is dit nie haatspraak nie.

In sy tweede stelling het Malema gesê dat in Durban alles strategies aan Indiër-families gegee word, veral groot tenders. Hy vra dat Indiër-mense Afrikane respekteer. Volgens hom behandel hulle Afrikane sleg – slegter as Afrikaners. Dis nie anti-Indiër nie, sê hy, dis die waarheid.

Die kommissie bevind dat albei groepe deur apartheid benadeel is, maar dat Afrikane veel erger benadeel is. Hy bevind ook hier geen haatspraak nie.

Sy derde stelling gaan oor die lied “Kiss the Boer” wat ’n sinspeling op “Kill the Boer” is. Hier bevind die MRK dat die lied figuurlik en polities is en dat dit beoordeel moet word deur die deursnee, redelike luisteraar en nie ’n spesifieke groep nie.

Die Menseregtekommissie (MRK) se uitspraak oor Julius Malema is tans onder die soeklig in die Afrikaanse media.Foto: Tebogo Letsie

Stelling vier is waar hy vertel dat ons nie almal op dieselfde manier onderdruk is nie. Indiërs het allerlei hulpbronne gehad wat Afrikane nie gehad het nie – bruin mense ook. Die meerderheid Indiërs haat Afrikane, nie almal nie.

Benewens die Afrikaanse media se fokus op die eerste stelling is daar duidelike spiese wat op ander Suid-Afrikaanse minderhede soos Indiërs en bruin mense gerig is.

Die bevinding is dat objektief en binne konteks gesien, wás dit so. Dan is daar die laaste stelling deur Godrich Gardee van die EFF wat op sosiale media gesê het die leier van die DA, Mmusi Maimane, is ’n “garden boy”. Die bevinding hier is dat dit nie bedoel is om seer te maak of om haat aan te wakker nie.

Aldus die MRK kom die stellings neer op robuuste politiek. Dit is wel aanstootlik of onthutsend – maar dit is nie haatspraak nie. Die stellings moet grondwetlik beskerm word.

Nou ja, dis genoeg om die land (of ’n deel daarvan) aan die praat te hê. Enkele partye het aangedui dat die howe die uitspraak van die MRK onder oë moet neem en ’n gesaghebbende uitspraak hieroor moet lewer. Andersins rus daar ’n verantwoordelikheid op Suid-Afrikaners om hulle behoorlik te vergewis van die feite. Die MRK se volledige uitspraak is op hul webwerf.

Malema het die hok behoorlik geskud. Benewens die Afrikaanse media se fokus op die eerste stelling is daar duidelike spiese wat op ander Suid-Afrikaanse minderhede soos Indiërs en bruin mense gerig is. Dit sal daarom juis vir alle minderhede goed wees om hierop te reageer.

Die ironie is dat Malema en sy party wil hê dieselfde minderhede moet vir hulle stem. Daai is ’n stem wat ek nie aan Malema en sy party durf gee nie. Nou ja, waar staan die ander partye hieroor? Vryheidsfront? Sjoe!

*Danny Titus is uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Die menings in hierdie rubriek is die skrywer se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Julius Malema  |  Danny Titus  |  Menseregtekommissie  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.