Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só moedig staat xenofobie aan
Amanda Gouws

Kollegas aan die Universiteit van die Witwatersrand het in 2008 ’n boek Go Home or Die Here gepu­bliseer wat die xenofobiese geweld, wat in daardie jaar soos ’n veldbrand deur Suid-Afrika versprei het en waarin 62 mense dood is en 200 000 verplaas is, raak vasvat.

Baie min mense is gestraf vir die wrede geweld teenoor buitelanders, ten spyte van spesiale howe wat dit ondersoek het.

Die afgelope twee weke het buitelanders in Durban en Soweto weer erg onder xenofobiese geweld deurgeloop. Suid-Afrikaners plunder die winkels van buitelanders na hartelus en brand dit dan af.

Wat hierdie keer die geweld ontketen het, is gerugte dat goedere wat verkoop word, veral kos, nie aan standaarde voldoen nie. Hoekom dit dan plunder?

Die verklarings vir sulke geweld, soos dat plaaslike mense en buitelanders meeding om skaars bronne, hou nie veel water nie, veral omdat onlangse aanvalle deur kinders uitgevoer is.

Dit is ’n soort “negrofobie” wat spruit uit die verwerping van buitelanders uit Afrika deur swart Suid-Afrikaners op grond van stereotipes – dat hulle primitief is en dat hulle teer op Suid-Afrikaners, alhoewel baie immigrante werk skep en bydra tot die ekonomie.

Een van die groot redes hoekom xenofobie nie hok geslaan kan word nie, is omdat die polisie medepligtig is.

’n Gesaghebbender verklaring is dat swart Suid-Afrikaners eers onlangs self burgerskap gekry het en dat hulle dit nie met mense van ander Afrikalande wil deel nie. Dit is gegrond op ’n nasionalistiese inheemsheid (indigeneity).

Een van die groot redes hoekom xenofobie nie hok geslaan kan word nie, is omdat die polisie medepligtig is. Hulle is traag om mense wat hierdie soort geweld pleeg, in hegtenis te neem.

Soms moedig hulle selfs xenofobie aan om sodoende onwettige immigrante te kan arresteer. Hulle skeur ook soms die geldige dokumente van buitelanders op sodat hulle gedeporteer kan word.

Daar is glo ’n slagspreuk onder polisielede wat lui dat buitelanders “mobiele outomatiese tellermasjiene” is wat maklik afgepers kan word.

Gemeenskapspolisiëring dra ook by tot die polisie se gedrag. Hierdie vorm van polisiëring verg dat polisielede die vertroue van die gemeenskap wen. Gevolglik is dit moeilik om oortreders in hegtenis te neem as dit beteken dat dit die vertroue van die gemeenskap gaan skaad. Dit is beter om anderpad te kyk.

Die weerloosste groep onder die buitelanders is vroue, wat dikwels verkrag of seksueel aangerand word. Hierdie verkragtings word nie aangemeld nie omdat vroue die polisie vrees en ook verneder word as hulle wel verkragting aanmeld.

Die belangrike vraag is of dit xenofobiese geweld is en of dit tipiese Suid-Afrikaanse seksuele geweld is wat baie vroue in Suid-Afrika te beurt val en wat ook nie altyd aangemeld word nie.

Die departement van binnelandse sake is nog ’n staatsinstelling wat die lewe van immigrante ’n absolute hel maak deur aansoeke vir werkpermitte en wettige dokumente te laat sloer.

Die nuwe Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak maak voorsiening vir swaar strawwe vir roof met verswarende omstandighede en verkragting wat as ’n haatmisdaad bewys kan word. Die polisie is verantwoordelik vir die afdwinging van hierdie wet. Dink die regering werklik dit kan werk as jy wolf skaapwagter maak?

Die feit dat staatsinstellings soos die polisie en binnelandse sake nie wette afdwing as dit by immigrante kom nie, gee legitimiteit aan xenofobiese geweld.

Dit beteken dat die staat aandadig is en dat xenofobiese geweld net erger gaan word omdat daar geen risiko’s aan verbonde is nie.

  • Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Mening  |  Geweld  |  Xenofobie  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.