Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só mors OB tyd en geld
Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer.Foto: tebogo letsie / city press

Adv. Busisiwe Mkhwebane, Suid-Afrika se openbare beskermer (OB), verf haar stadig maar seker in ’n hoek.

’n Mens kan maar net wonder hoeveel keer die OB in die land se howe pak slae gaan kry voordat sy die eer­bare weg volg en bedank.

Haar grootste verleentheid tot nou toe is die hooggeregshof in Pretoria se bevinding in 2017 dat haar aanbeveling oor die wysiging van die Reserwebank se konstitusionele mandaat irrasioneel is en tersyde gestel moet word.

Prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand het destyds uitgelig dat Mkhwebane se aanbeveling oor die Reserwebank se mandaat indruis teen die onafhanklikheid van die hoofstuk 9-instellings ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie – ’n duidelike teken van onbevoegdheid.

Meer as een party met parlementêre verteenwoordiging het al stappe aanbeveel om haar weens duidelike onbevoegdheid uit haar amp te verwyder.

Die arrogansie van die OB se opdrag aan pres. Cyril Ramaphosa om binne 30 dae tugstappe te doen teen Pravin Gordhan is verstommend.

Mkhwebane se jongste kleitrappery is ’n verslag waarin sy die ondersoekeenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) as onregmatig beskou. Volgens regskenners is die werksaamhede van dié eenheid geensins strydig met die Wet op Nasionale Strategiese Intelligensie nie.

Die arrogansie van die OB se opdrag aan pres. Cyril Ramaphosa om binne 30 dae tugstappe te doen teen Pravin Gordhan (destyds kommissaris van die SAID) is verstommend, aangesien bykans elke fiskale owerheid ter wêreld ’n soortgelyke ondersoekeenheid het wat inligting oor die nakoming van belastingwetgewing inwin.

Die OB se noue bande met die Jacob Zuma-gesinde faksie in die ANC is welbekend en is weerspieël in haar destydse vryery na die Guptas se TV-kanaal (ANN7) en die swak ondersoek wat oor die Vrede-suiwelprojek gedoen is.

Ongelukkig is die belangrikste tekortkoming van haar kantoor se bedrywighede in die debat oor haar oënskynlike partydigheid en onbevoegdheid tot nou toe misgekyk: dat veel ernstiger bedreigings geïgnoreer word.

Dit skreeu ten hemele dat die OB se kantoor skynbaar onbewus is van aangeleenthede soos die gemors by die staatsbeheerde onderneming PetroSA, wat in een jaar ’n rekordbedrag van R14,5 miljard verloor het. Dit is 29 000 keer soveel as die indirekte skenking van Bosasa aan Ramaphosa in sy ANC-leiersverkiesingsveldtog.

Die PetroSA-verlies kon vir die oprigting van sowat 150 000 laekostehuise aangewend geword het (behoorlike huisvesting vir meer as 500 000 arm mense).

’n Ernstige waterkrisis staar Suid-Afrika binne die volgende dekade in die gesig, maar die OB se kantoor oorweeg geen ondersoek na die redes vir die grootskaalse vermorsing van lewensbelangrike water by munisipaliteite nie.

Roelof Botha
Roelof Botha

Verder het die ouditeur-generaal bevind die meeste van die land se munisipaliteite is deurspek met korrupsie, bedrog en die wanbesteding van geld, wat tot onvoldoende instandhouding van infrastruktuur gelei het.

In die geval van paaie het al hoe meer slaggate in dele van die land voorgekom, wat tot ongelukke en ernstige beserings gelei het.

Die OB beskerm nie die land se burgers teen sulke wandade nie, maar vind die tyd om ’n uiters bekwame minister, wat as die nommer-een-vyand van die Zuma-faksie beskou word, van onbenullighede aan te kla.

Die kontras tussen die huidige OB en haar voorganger is net so skerp soos tussen Ramaphosa en sy voorganger, die nommer-een-staatskaper, Zuma.

Hopelik sal die howe eersdaags korte mette maak met die tyd- en geldmors van die OB en haar dwaalspoor in ’n doodloopstraat verander.

  • Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.
Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Cyril Ramaphosa  |  Roelof Botha  |  Ob  |  Presidensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.