Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só ’n polisiemag stel SA in gevaar

Twee skokkende stories het vandeesweek weer gewys hoe hopeloos die stand van sake in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is.

Die forensiese afdeling van die polisie wankel op die rand van ineenstorting weens ’n tekort aan geld én onvoldoende toerusting om DNS-toetse te kan doen. Dit het reeds daartoe gelei dat meer as 10 000 sake van seksuele oortreding feitlik stilstaan.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

En nie net word slagoffers van onder meer geslagsgeweld gefaal deur gebrekkige ondersoeke nie; dit blyk toe ook vandeesweek dat talle polisiebeamptes na bewering self vir die pleeg van misdaad verantwoordelik is.

Talle beamptes van die polisie se BBP-eenheid word strafregtelik aangekla weens ernstige misdade, onder meer moord en seksuele oortredings.

Bheki Cele, minister van polisie, het ook onthul dat geslagsgeweld-klagte in die 2019-’20-geldjaar teen 139 polisiebeamptes aangemeld is.

Dié krisisse is deels te wyte aan hopelose politieke aanstellings in die belangrike pos van nasionale polisiehoof en ander sleutelposte.

Nadat George Fivaz, wat deur oudpres. Nelson Mandela aangestel is, sy kantoor in 2000 verlaat het, het die een katastrofe ná die ander gevolg. Daar was die korrupte Jackie Selebi. Toe het oudpres. Jacob Zuma Cele aangestel.

Cele is ná ’n ondersoek na die polisie se huurkontrakte ongeskik bevind om polisiehoof te wees. Dat hy nou, getrou aan die ANC-gees van herontplooiing, as minister van polisie dien, moet heroorweeg word.

Cele is opgevolg deur Riah Phiyega, wat in ’n ondersoek aan bedrog, meineed en wangedrag skuldig bevind is.

Die Farlam-kommissie van ondersoek na die Marikana-slagting het ook verdoemende bevindings oor haar gemaak.

Al dié aanstellings was lojale ANC-kaders wat ontplooi is om na die pype van hul politieke meesters te dans. Ons het wel ná al die jare in genl. Khehla Sitole weer ’n beroepspolisieman as polisiehoof. Hy moet egter nog bewys dat hy die verrotte mag kan regruk.

Aan die politieke kant lyk sake byna ewe beroerd. Min. Nathi Nhleko se hoogste noot van roem was sy verdediging van Zuma oor Nkandla op die maat van “O Sole Mio”. Hy is opgevolg deur Fikile Mbalula, wat hom as knoeier onderskei het. En nou sit ons met die bombastiese Cele, wat self nie sy rol verstaan nie en maar alte graag inmeng in die polisie se operasionele sake.

Die gevolg is dat die bevelsketting agteruitgaan in die mate dat doeltreffende bevel en beheer te dikwels hopeloos ontoereikend is – of dit nou in ’n polisiekantoor, op ’n misdaadtoneel of in ’n gespanne opstandsituasie is.

En een van die simptome (daar is baie ander) is juis die toenemende eise oor menseregtevergrype deur polisiebeamptes waaroor Die Burger dikwels berig. Spesifiek twee neigings maak nou van dié situasie ’n plofbare kruitvat.

Eerstens is dit duidelik dat diensleweringsopstande al hoe gewelddadiger word. As ’n swak opgeleide polisiediens onder politiek gedienstige bevel dié situasies hanteer met dieselfde misplaaste geweld as dié wat ons toenemend sien, hou Dawie sy hart vas.

En dít bring ons by die tweede kommerwekkende neiging, naamlik dat die optrede en uitlatings van die Zuma-faksie toenemend geweldmotiewe begin gebruik. Selfde geld Julius Malema se EFF en regse elemente. Onlangs was sake weer op ’n naaldpunt in Senekal.

Onder dié omstandighede raak ’n polisiediens wat nie die grense van beheerste geweld ken nie ’n nasionale gevaar. En jy weet iewers eggo steeds die woorde van Cele se berugte instruksie: “Shoot to kill . . .”

En dan wonder Dawie: Hoe lank voor Marikana II, of nóg ’n Ficksburg, of nóg ’n paar Andries Tatanes?

Meer oor:  Dawie  |  Meningsberig  |  Uit My Politieke Pen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.