Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só oorkom ons geweld in ons samelewing

My vrou ontvang onlangs hierdie teksboodskap van ’n moeder van een van haar oudleerlinge: “Juffrou, ons gaan nou sy lyk uitken.” Die oorledene is die vrou se skoonseun wat vroegoggend voor sy huis vermoor is terwyl sy seuntjie in die bussie in hul huis se oprit op hom gewag het sodat hulle saam skool toe kan ry.

Bendegeweld; geweld op plase en in ons stede; geweld in kru, sigbare, fisiese vorme; verbale, psigologiese, seksuele en geestelike geweld; eksplisiete geweld en verskuilde geweld; persoonlike geweld en strukturele geweld; individuele geweld en institusionele geweld; geweld in die huwelik en huis, kerk en werk, samelewing en natuur . . . Ons is ’n gewelddadige samelewing.

Hoe oorkom ons geweld? Die drievoudige amp van Christus as priester, profeet en koning bied vanuit die Christelike tradisie riglyne vir optrede. Ons moet eerstens met priesterlike bewoënheid en empatie optree. Dis nou meer as ooit noodsaaklik dat slagoffers van geweld konkreet ervaar dat geloofsgemeenskappe, opvoedkundige instellings, alle vlakke van regering, die korporatiewe sektor, instansies van die burgerlike samelewing, die media en die veiligheidsmagte met hulle vereenselwig en dat hulle nie alleen is nie.

Die veiligheidsmagte moet ook ons gesamentlike solidariteit, omgee en waardering ervaar. Geweldenaars, van wie talle ons familielede is, moet ervaar dat ons hulle nie wil verwerp nie, maar dat ons liefde vir hulle gestalte kry in ons gesamentlike teenstand, wat ingestel is op hulle vervolging en dissiplinering, bekering, rehabilitasie en heling.

Ons profetiese verantwoordelikheid vra dat ons met wysheid goed nagevorste beleide, planne en besluite formuleer en implementeer.

Ons profetiese verantwoordelikheid vra dat ons met wysheid goed nagevorste beleide, planne en besluite formuleer en implementeer.

Die profetiese rol beteken ook dat ons die visie van ’n samelewing van menswaardigheid, vrede en nie-gewelddadigheid waar alle lewe gerespekteer word, lewend hou, en dat ons verraad teenoor hierdie visie in al sy gestaltes ontmasker en ondermyn.

Ons profetiese taak behels verder dat ons mense toerus en bewus maak van alle fasette van geweld, en hulle soveel as moontlik weerbaar maak te midde van soveel weerloosheid.

Ons koninklike dienskneg-rol impliseer dat ons doelgerig, sterk en met helende krag optree. Geweldenaars het nie die laaste sê nie. Alle bronne moet ingespan word om geweld te temper en uit te roei, en om ’n vreedsame samelewing te bou.

In hierdie situasie waar ons woonbuurte en ander ruimtes soos oorlogsones lyk, moet omsigtig besin word oor die gekwalifiseerde en ondersteunende rol van die weermag, wat juis soveel kundigheid het oor die bou van ’n samelewing van vrede en omvattende sekuriteit.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Misdaad  |  Geweld  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.