Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só oorleef jy op die Vlakte

Hy was onlangs ook amper deel van die misdaadstatistieke, maar gelukkig het sy oorlewingsinstink ingeskop toe twee rowers hom gekonfronteer het, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

’n Week of wat gelede het ek so amper-amper ook deel van die misdaadstatistieke geword.

Ek was kort voor agt op ’n Sondagoggend met ’n skouersak wat ek skuins oor my bors gedra het op pad na ’n vergadering.

As ek by my voorhekkie uitstap, moet ek ná sowat  tien meter uit my straat links draai. Dan is dit sowat 100 meter se stap na die bushalte.

Aan die einde van daardie straat is daar ’n stegie tussen twee huise waar ek moet deur om by die bushalte uit te kom.

Dié omgewing is berug vir rooftogte, veral vroegoggend.

Ek het pas die eerste draai gevat toe ek twee jong manne naby die huis by die stegie sien staan.

Die waarskuwingsligte het onmiddellik geflikker, want in ons gesin is die credo: “Wees te alle tye bewus van jou omgewing.”

Ek het die moontlike gevaar berekenend tegemoet gestap. Die jong manne het ietwat te stadig beweeg, wat my laat dink het hulle is dalk nie moeilikheidmakers nie. Dalk is dit net onskuldige seuns van die omgewing wat voor my grootgeword het?

Die jonger een het my vir 50c gevra. Kyk, op die Vlakte stop jy nie by iemand wat 50c by jou wil hê nie – jy maak nie jou beursie oop en gee nie.

Nee, nee. Dis om moeilikheid na jouself aan te trek. Ek sê toe ek is jammer, maar ek het nie 50c nie, en stap verder in die hoop dat hulle my sal uitlos.

Maar dis asof iets my waarsku en ek draai om, op dieselfde oomblik dat die tweede kêrel iets in sy 50c-maatjie se oor fluister en in my rigting drafstap.

Boeta, as ek nie 50c vir jou maatjie het nie, waar moet ek nou twee rand kry?

“Het die ou nie vir my ’n twie rand ’ie?” vra die snaar.

Toe weet ek: nou moet ek selfgeldend optree. Kliphard en beslis sê ek: “Boeta, as ek nie 50c vir jou maatjie het nie, waar moet ek nou twee rand kry?”

Só ’n reaksie het hulle nie verwag nie en dit was asof hulle vir ’n oomblik gevries het. Maar hulle het nog ’n dreigende tree nader gegee en ek het geweet hulle gaan my beroof en dat dinge vir my lelik kan raak.

Hulle het my beskou as iemand wat iets het wat hulle kan roof. Die kyk in hul oë het verklap dat hulle tot alles in staat is om te kry wat hulle gedink het ek mag hê – hul lus vir dwelms dryf hulle.

‘Niemand gaan vandag gerob word nie’

Toe skop my oorlewingsinstinkte in.

“Manne, kom ek sê julle sommer nou net hier: Hier gaan nie vandag iemand gerob word nie! Julle twee moet nou maak dat julle wegkom, anders gaan julle seerkry . . . baie seerkry. So lóóp nou! F*k*f nou! Voordat julle bloed loop!”

Soos ’n wafferse bouler wys ek vir hulle in watter rigting hulle moet stap. Ietwat uit die veld geslaan, gee hulle ’n tree of wat terug. Hulle het glad nie só ’n aanval van iemand wat so ordentlik lyk verwag nie.

Toe ek dít sien, buit ek die situasie verder uit. “Ja, lóóp nou, ek het nie tyd vir julle soort nie!”

“Wat bedoel die ou ‘soort ’ie?’ ” gee die twee rand-vent ’n tree nader.

Toe besef ek dat ek my hardegat-rol voluit moet vertolk.

“Presies wat ek sê, Boeta! Julle gaan nou omdraai en my uitlos anders bel ek die Boere (lees polisie)!”

Terugskouend kan ek maar net dink aan hoe gelukkig ek eintlik was. ’n Week of wat gelede is ’n jong vrou op dieselfde plek op ’n Maandagoggend van haar handsak, beursie en selfoon beroof. En op die koop toe het die karnallies haar nog teen die grond gegooi ook.

Ek weet nie waar ek die teenwoordigheid van gees vandaan gekry het nie, maar die volgende oomblik pluk ek my selfoon uit, maak asof ek dit ontsluit, pons kamma-kamma nommers op die skerm en sê: “Hallo, hallo, is dit die polisie?

“Dankie tog. Ek is pas deur twee jongens hier vasgedruk. Ja, hulle wil my beroof. Twee van hulle. Hulle staan hier reg voor my. Een het ’n cream-jassie en ’n scarf en blou keppie op. En die ander een het ’n blou jersey met geel strepe aan en altwee het blou jeans aan.”

Hulle het grootoog ’n tree of wat agteruit gegee en omgedraai. Die volgende oomblik slaan hulle in ’n ligte jakkalsdraffie oor.

“Offisier, hulle begin nou draf in die rigting van Belhar-Oos.” Ek praat skielik baie harder. “Hulle is nou al bykans 20 meter van my af. Julle moet gou maak,” sê ek nou nog harder.

Die twee rand-outjie het vir oulaas omgekyk en toe laat skraap om sy eie bas te red.

En het kliphard vir die twee papbroeke gelag. Ek wonder net wat ek sou gemaak het as my foon begin lui het terwyl hulle nog voor my gestaan het? Gelukkig was die geluksgodin aan my kant.

Terugskouend kan ek maar net dink aan hoe gelukkig ek eintlik was. ’n Week of wat gelede is ’n jong vrou op dieselfde plek op ’n Maandagoggend van haar handsak, beursie en selfoon beroof. En op die koop toe het die karnallies haar nog teen die grond gegooi ook.

Ek weet dat ek my sterre kan dank. Maar vir eers het ek, soos die slagspreuk van die Survivor-reeks sê, die twee skurkies ge-outwit, ge-outlast en ge-outplay.

Glo my, dis al manier om op die Kaapse Vlakte te oorleef.

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.