Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só pootjie staat weerlose vroue
Amanda Gouws

Daar is ’n sameswering van nie-samewerking van die staat om te voorkom dat vroue beheer oor hul eie liggaam kry. Daar kan geen sprake van geslagsgelykheid wees as vroue nie toegelaat word om hul eie voortplanting te beheer nie.

Daar is ongeveer 3,7 miljoen weeskinders in Suid-Afrika wat op aanneming wag. Luidens statistieke van die regering is by die 54% van die sowat 260 000 jaarlikse aborsies in Suid-Afrika gevaarlike agterstraataborsies.

Vroue in veral landelike gebiede het gebrekkige toegang tot voorbehoedmiddels. Daar is dus ’n verband tussen hierdie syfers.

Die verpligting om ongewenste swangerskappe te voorkom rus op die skouers van vroue. Hoewel kondome vrylik beskikbaar is, is daar steeds ’n groot weerstand onder mans om dit te gebruik. Dit beteken dat vroue die een of ander voorkomende middel moet gebruik. Dié wat dit nie kan bekostig nie, moet dit van klinieke kry.

Die veiligheid van van die middels wat gratis in klinieke uitgegee word, is al jare onder verdenking – soos dat dit moontlik vroue se vatbaarheid vir die vigsvirus vergroot.

Sedert verlede jaar is daar egter ’n tekort aan hierdie middels, glo weens tenderprobleme.

Dit is blykbaar meer aanvaarbaar vir fondse om die koste van ’n swangerskap as die koste van voorbehoeding te dra.

Intussen word van vroue verwag om ’n ander plan te maak, baie keer met middels wat kan faal. Vir diegene wat voorbehoedmiddels kan bekostig, betaal mediese fondse nie – dit is blykbaar meer aanvaarbaar vir fondse om die koste van ’n swangerskap as die koste van voorbehoeding te dra.

Wanneer voorbehoeding faal, is daar die opsie van aborsie. Aborsie is gewettig deur die Wet op die Beëindiging van Swangerskap van 1996 – juis om vroue beheer oor hul eie liggaam te gee.

Die implementering van die wet laat egter veel te wense oor. Mediese personeel in klinieke weier dikwels om aborsies uit te voer weens hulle eie godsdienstige of ander oortuigings.

Slegs 7% van die 3 880 openbare fasiliteite waar aborsies beskikbaar behoort te wees, doen dit. By talle ander is die mishandeling van pasiënte wat aborsies versoek, goed gedokumenteer.

Wanneer voorbehoeding faal en aborsie nie beskikbaar is nie, word kinders gebore wat dikwels vir aanneming gegee word. Maar selfs hier is die staat besig met dwarsboming.

Die tweede verreikende verandering is dat kinders by aanneemouers van hul eie kultuur geplaas moet word.

Daar is twee verreikende gevolge van die onlangse veranderings aan die Kinderwet. Die eerste is dat daar nie meer vir aannemingsdienste betaal mag word nie. Dit beteken dat professionele betalings aan diensverskaffers – soos maatskaplike werkers, sielkundiges en prokureurs – nie gedoen mag word nie.

Die logiese afleiding is dat drasties minder aannemings gaan plaasvind. Aannemings het in 2017-’18 reeds met sowat die helfte afgeneem. Dit sal ook aanneming oor grense voorkom omdat prokureurs daarby betrokke is.

Die tweede verreikende verandering is dat kinders by aanneemouers van hul eie kultuur geplaas moet word.

Dít beteken dat die gebruik om kinders by uitgebreide families – wat dit heel moontlik nie kan bekostig nie – te plaas, versterk word. Dit vergroot ook die las op die staat om bronne aan weeskinders te verskaf.

As die Life Esidimeni-tragedie ons iets geleer het, is dit dat die staat nie te vertrou is met die mees weerloses nie. Die meeste maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling het byvoorbeeld geen ervaring met aanneming nie.

Vroue kan net die bose kringloop van armoede, maatskaplike uitsluiting en te veel kinders ontsnap as hulle beheer oor hul eie liggaam het. Hoe maak die staat dit moontlik?

Gouws is ’n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Kinderwet  |  Aborsie  |  Aanneming  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.