Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So praat Ace en Des die waarheid
Gert Coetzee

Dat ou Ace Magashule en Des van Rooyen nou die waarheid só kan praat. Sweerlik voer hulle ’n agenda in die mou. “Wys my een ANC-leier wat nie met die staat sake gedoen het nie . . . ” sê Magashule. Wie stry?

Die eerlike Van Rooyen beaam hy het die Guptas telkens ontmoet. Net só.

Dit is gemeensaak dat die ANC korrup is. Wat Magashule, Van Rooyen en ander nie besef nie, is dat hulle deur hul regverdiging van korrupsie eintlik sê korrupsie is nie verkeerd nie.

Hier is wat hulle sê gedekodeer.

Magashule: Botsings van belange bestaan nie. Alle ANC-leiers doen sake met die staat, daarom mag almal dit doen. Dit is nie onwettig nie, daarom is dit reg. As wetgewing kom wat ANC-leiers verbied om met die saak sake te doen, sal hy dit nakom. Nét as almal dit nakom. Hy weet hy is veilig. Van Rooyen, die kortste minister van finansies (9 tot 13 Desember 2015), as hy voor die Zondo-kommisie sê staats­kaping lê by witmonopoliekapitaal: Dus, net wit korrupsie bestaan. Gupta-ontmoetings en sakelui wat by Luthuli-huis instroom, is glad nie verkeerd nie. Ons is trots daarop. Dis ons vreetbeurt.

Aan substansie is sy getuienis hoogstens ligte vermaak.

Dat Olly haar vanity case sou vat en loop, was ook te goed om waar te wees.

Daar is die mislukte Mangaung-metro-munisipaliteit waar inwoners al geleer het om klein genades te tel – soos rommelverwydering die afgelope twee weke jou werklikwaar op die regte dag.

Toe tref ’n groot genade: Olly Mlamleli, kader-burgemeester, word in ’n geheime mosie uitgestem deurdat raadslede van die ANC met die opposisie saamspan teen haar. Of dit vir die ANC-raadslede téén Mlamleli oor skoon en bekwame regering gaan en of dit deel van die groot ANC-binnegeveg is, is onbekend. Hul teenstem gee wel vergesigte van wat in Suid-Afrika sou kon gebeur as oor partygrense heen in openbare belang in regerings van eenheid saamgewerk word.

Dat Olly haar vanity case sou vat en loop, was ook te goed om waar te wees.

Die ANC-vroueliga is opgesteek om die afvalliges aan te val. Die Vroueliga sê: “Geen weermag ter wêreld laat toe dat sy soldate na bevele van die vyand luister om sy eie mense aan te val nie.”

Vrystaatse ANC: Hulle is aangesê om dit reg te stel volgens partybeleid. Ons verwyder nie ’n burgemeester deur met die opposisie saam te werk nie. Dekodering: Dit gaan nie oor reg, verkeerd of bekwame regering nie. Selfs al is ’n ampsdraer hoe vrot, trek ons laer om. As verdienste die maatstaf is, is ons dalk volgende.

Een vir almal, almal vir een. Dis veilig, konsekwent en onaantasbaar.

Suid-Afrikaners buite die ANC lag oor pres. Cyril Ramaphosa se span van vyf, onder Ronald Lamola, minister van justisie, wat na Covid-19-korrupsie in eie geledere moet kyk. Hoe anders?

Of dit gaan verander? Nie onder die ANC nie.

’n Meningsopname in 2017 sê algemene redes vir korrupsie is: Hebsug, magsug, politieke- en mark-monopolie. Lae vlakke van demokrasie, swak burgerlike samewerking en lae politieke deursigtigheid. Prosedures word verontagsaam, hulpbronne gestroop en ampte gekoop en verkoop.

Oor hoe om die korrupsie-kultuur te snuit: Dit is altyd ’n stadige ommekeer. Dit sou begin met die nuwe instelling van reëls wat omkopery voorkom en gevolge vir die betrokkenes inhou.

Soms lui een moment verandering in. Soos dat die manne wat die waarheid so praat in ruil vir dienste met ’n oranje pak beloon word. Die land sal juig, maar die kans is skraal.

Waar die keerwal teen korrupsie begin, volgens die studie? By my en jou.

Om aan te hou die regte goed te doen. Korrupsie aan te hou belig. En politieke vergrype aan te hou teen te staan.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Anc  |  Mening  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.