Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só sal jy nooit rustig slaap nie

As die regering enige hoop het om die werkloosheidsprobleem op te los moet hy die jongste verslag van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming baie ernstig opneem.

Dié verslag getitel “Tien miljoen en steeds meer: Wat dit gaan verg om Suid-Afrika se werkbloedbad te stop?” wys grondliggende beleidskuiwe uit wat die regering dringend sal moet deurvoer (Die Burger publiseer Donderdag ’n opsomming van die verslag – lees dit gerus).

Hoe vinnig sake agteruitgaan, is bepaald rede tot ernstige kommer: Tussen 2008 en 2019 het die aantal mense wat wil werk, maar nie kan werk kry nie en al moed opgegee het om werk te kry, van 6,5 miljoen tot 10,3 miljoen toegeneem. Daar is elke dag 1 700 meer mense wat werk soek, maar net 500 kry werk, lui die verslag.

Die feit dat die werkloosheidsprobleem voortgesette ekonomiese ongelykheid tussen wit en swart help in stand hou, skep ’n tikkende tydbom.

Verlede jaar het Statistieke Suid-Afrika (SSA) in ’n verslag oor ongelykheid vyf klassifikasies vir maatskaplik-ekonomiese status gebruik: chronies arm, arm, kwesbaar, middelklas en elite. Statisties gesproke was daar eintlik geen wit mense in die laagste vlak nie.

Die meeste wit mense lê in die hoogste twee inkomstegroepe. In die middelklas is 20,5% wit en 66,2% swart, maar in die elite is 65,4% wit.

Terselfdertyd is 94,4% van alle chronies arm huishoudings swart, asook 86,4% van alle arm huishoudings en 91,1% van alle kwesbare huishoudings.

Jy hoef nie heldersiende te wees om te verstaan dat hier enorme potensiaal vir ’n revolusie lê en broei nie. So wát moet gebeur om te verhoed dat daar ’n onstuitbare veldbrand in die droë gras van voortgesette ontneming ontstaan?

Die eerste ding is dat die ANC nou moet erken dat swart ekonomiese bemagtiging bloedweinig gedoen het om die armste swart mense in die land op te hef. Wat dit gedoen het, is om ’n groepie swart mense baie ryk te maak.

Wat dringend nodig is, is ’n model van inklusiewe ekonomiese groei wat onder meer sou behels dat die stiksienige arbeidswetgewing en die burokratiese rompslomp waaraan klein en mediumgrootte ondernemings onderwerp word, die nekslag toegedien moet word.

Dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, ons finansminister, dit besef, maar het hulle die nodige politieke wil en vastrapplek om dit nou deurgevoer te kry?

Sonder inklusiewe groei gaan al meer mense afhanklik word van die welsynstelsel wat, gegewe die beroerde stand van ons staatsfinansies, eenvoudig nie volhoubaar is nie.

Dan verg die onderwys dringende aandag. Jaar ná jaar kry onderwys die grootste hap uit die begrotingskoek, maar daar word eenvoudig nie waarde vir geld op dié enorme belegging gekry nie. Die redes hiervoor is natuurlik wydlopend, maar ’n uiters groot probleem bly die wyse waarop die onderwysvakbond Sadou steeds die onderrigstelsel gyselaar hou.

Dié vakbond dwarsboom deurlopend pogings om hoofde vir die prestasie van hul skole verantwoordelik te hou, hy bedryf verwoestende stakings, en skop ook vas teen maatreëls om gehaltebeheer deur inspekteurs te vestig.

Die punt is dat bevryding nie alleen lê in die afwesigheid van ’n verdrukkende staat nie. Ware bevryding lê in bates soos goeie onderwys, betroubare dienslewering, volhoubare werkskepping en ’n regering wat sigbaar vir ál sy mense omgee.

Dawie hoop dat hierdie sake hoog op Ramaphosa se agenda is wanneer hy op 13 Februarie sy staatsrede lewer. Want soos die sakeman dr. Anton Rupert gesê het: Jy kan nooit rustig slaap as jy weet jou buurman is honger nie.

Meer oor:  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.