Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So skaaf-skaaf skep ons aan ander mense
Annemarie van der Walt

Die gepiekery duur nou al byna ’n week, en dit bloot vanweë ’n WhatsApp-boodskap wat ten beste beskryf kan word as een “lost in translation”.

“Mandam, I am creating you,” skryf die bestuurder van my huishoudelike sake by die berghuis. Ek stuur ’n rits vraagtekens en “How can I help?” terug en sy antwoord weer met dieselfde sin. Dié keer met iedere emoji-blommetjie wat te vinde is.

Kos my ’n halwe dag se gedagtespronge voordat ek “Eureka!” kan uitroep. “Greeting”, Bongani is “greeting” my.

Oor die mandam wonder ek lankal nie meer nie. Dit is nou al standaard, en ek koop die hele idee van ’n man-dam, al jeuk my vingers om ’n “n” aan te las by daardie dam.

Maar nou loop ek sedertdien gedurig en dink aan hoe ’n mens ander mense “create”, en andersom. Dit wat ons van die meeste medemense sien en beleef, is mos maar net ten dele, maar tog kleur ons soveel kere daardie prentjie in met ons eie kryte uit die verwysingsveld se penneblik.

Geen twee mense onthou dieselfde nie, en elk skep ’n persoonlike gedagtenis.

Vir daardie oorhaastige vrou in die supermark met haar gemanikuurde hande maar skurwe hakskene, skep ek ’n storie, maak my eie afleidings en plaas haar sekuur in ’n kassie. Binne sekondes.

Ons skep ook aan kollegas, vriende en selfs geliefdes. En wanneer jy die dag ’n waarheid oor hulle uitvind, is jy so ewe verbaas. Dit klop mos nie met jóú storie oor die mens nie?

Aa, en daar is ook die verraderlike land van die verlede; die onbetroubare herinneringe wat kan parte speel met die verbeelding. Geen twee mense onthou dieselfde nie, en elk skep ’n persoonlike gedagtenis. “Dit is mý waarheid [. . .] solank as wat ons lewe, sal ons gevorm word deur ons verlede,” beklemtoon Marita van der Vyver herhaaldelik in ’n onderhoud oor haar nuutste boek en jeugmemoires, ’n Baie lang brief aan my dogter.

My piekery lei my na ’n skryfstuk van Nini Bennett ’n week gelede op Versindaba oor gesigblindheid, ’n neurologiese versteuring genaamd prosopagnosia, waaraan tot een uit 50 mense ly en wat beteken hulle sukkel om gesigte te herroep, onthou of van mekaar te onderskei.

As voorbeeld noem Nini die digter T.T. Cloete wat selfs nie sy geliefde vrou, Anna, se gesig kon herroep nie en dit só beskryf in ’n aangehaalde vers uit die bundel Heilige nuuskierigheid: “[. . .] in die soet trekke wat ek op haar afwesige gesig wil pas / om haar afwesige liggaam wil kontoer na my sin / wat ek liefhet vul sy eiesinnig anders in [. . .]”

Wie skep vir wie, hier? Hoe kyk ek na ander, hoe word daar na my gekyk? Of, soos Cloete se slotdigreël dit belig: “[. . .] sy hou haar ver agter in my oë onsigbaar onuitwisbaar vas . . .”

Opeens kry die woord “sienderoë” vir my ’n verreikender betekenis as ooit tevore. Wil ek, ondanks maskers, priemend omgaan met diegene naby. En, net dalk, groet ek ook voortaan met ’n “ek skep jou”.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Nelspruit.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Herinneringe  |  Memoir
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.