Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So spel-spel bou ons 'n nuwe land

By ’n onlangse spelkompetisie vir skole in Upington, het Leslie van Rooi besef hoe gewone mense aan ’n nuwe land kan bou.

Leslie van Rooi

Ek bevind my vasgenael in die middel van ’n uitdunronde van die Universiteit Stellenbosch (US) WOW se nasionale spelfees onlangs in Upington.

Leerlinge verteenwoordigend van verskillende grade, tale, skole en kultuuragtergronde ding mee in ’n kompetisie waaraan meer as 600 skole uit al nege provinsies deelneem. En in Upington is die kompetisie straf. Byna alle plaaslike laer- en hoërskole neem deel.

Oorgehaal stap ek by van die klasse in waar leerlinge aan die strawwe kompetisie deelneem terwyl onderwysers beoordeel en ouers ondersteun. Een vir een staan die leerlinge op en spel hulle ’n woord wat hulle laat deurdring tot die volgende ronde of wat hul laat uitval. Die stryd is fel en die koue oggend in Upington help nie veel om die senuwees te laat bedaar nie.

Die laer grade klank – woord vir woord. Hoewel hulle besef dat die maatjie langsaan van ’n ander skool is, is daar min anders wat hulle onderskei. Die hoër grade kyk eers na mekaar vir tekens van tegemoetkoming en vriendelikheid, en begin dan versigtig met mekaar gesels.

Vir sommiges is dit ’n reünie, want hulle het mekaar verlede jaar, weliswaar toe in ’n vorige graad, ook hier gesien.

Een vir een vervaag die grense en word die vlak aksent-verskille maar net ’n teken dat ons met ander ore na mekaar moet luister. Die woorde word moeiliker. Die leerlinge spel so dat jy amper die letters op die grond sien val voordat ’n vlaggie wys of jy reg of verkeerd was.

Dan sit jy maar weer en hoop dat jy die volgende een ook sal kan spel. Stil-stil ondersteun hulle mekaar te midde van strawwe mededinging. Die stoei maak almal gelyk selfs te midde van kompetisie; die taal trek nou skielik meer saam. Almal is gelyk – hier moet jy net kan spel en die leerlinge hou beslis nie terug nie.

In Upington vind ons mekaar. So spel-spel. Woord vir woord.

Buite merk ek dat van die ouers in kampeerstoele sit en met mekaar oor ’n koppie koffie gesels. Ook hulle steek grense oor terwyl hulle mekaar se name leer ken. Hul toenadering tot mekaar is gebou op senuwees wat knaag, ’n verstaan dat elke ouer dieselfde ervaar en natuurlik dat die beperkte plek in die son op ’n koue binnelandse wintermôre hulle noop om kennis te maak.

In ’n klein dorp met groot ongelykheid mag ’n mens dit nie onderskat nie.

Hoeveel geleenthede is daar werklik vir leerlinge, en daarmee saam hul ouers, van verskillende agtergronde om mekaar te vind? Wanneer kry jy ooit die kans om verskillende skole in uiteenlopende gemeenskappe in dieselfde dorp te besoek? Wanneer sal dit weer so maklik wees om valse grense oor te steek en om egte maats te maak?

In Upington vind ons mekaar. So spel-spel. Woord vir woord.

En sonder dat hul dit dalk direk besef, bou hulle aan ’n nuwe land.

Die akroniem WOW staan vir Woorde Open Wêrelde. Dit doen WOW beslis. Dit gee die leerlinge van Leerkrans buite Upington die kans om gelyk mee te ding met leerlinge van skole in Durbanville, Pretoria en Secunda.

Maar ek dink dit doen veel meer.

Dit bied leerlinge wel die geleentheid om te bou aan spel-, taal- en denkvaardighede, maar bowenal vind hulle mekaar as gelykes te midde van groot ongelykheid en toekomsonsekerheid.

Woord vir woord spel die leerlinge – party ooglopend armer as ander. En sonder dat hul dit dalk direk besef, bou hulle aan ’n nuwe land. Woorde word omskep in glimlagte van toenadering wat hopelik nie sal vervaag nie.

* Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie by Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Upington  |  Ongelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.