Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só stel Batohi en Cronjé teleur
Gert Coetzee

Konnichiwa. Om te leen by kollega Hendrik Cronjé wat van Japan berigte oor  die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi skryf.

Die plan was om ’n Brandpunt oor rugby te skryf en veral oor hoe die “klein” spelers daar onsin maak van die sindroom waaraan vorige Springbok-afrigters gely het dat slegs “groter” spelers gekies word.

Totdat Volksblad Woensdag op sy voorblad berig het dit kos die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sedert die aanstelling van adv. Hermione Cronjé, hoof van sy ondersoek-direktoraat, in Mei al R300 000 om haar weekliks van Kaapstad na Pretoria te laat vlieg en vir haar verblyf in ’n “luukse hotel”.

Asook adv. Shamila Batohi, NVG-hoof, se verduideliking dat daar niks onbehoorliks hieraan is nie. Alle staatsamptenare bly in die hotel teen R2 000 per nag, Cronjé (Hermione) vlieg nie eersteklas nie en het kinders tuis.

By my as leser wek Batohi se reaksie wanbegrip, selfs weersin, eerder as ’n meelewende kopknik. Inteendeel, dit versterk die indruk van die diepte van die probleme in ons staatsdiens – en dus ons land.

By my as leser wek Batohi se reaksie wanbegrip, selfs weersin, eerder as ’n meelewende kopknik.

Maar ek ly aan joernalistieke sinisme. En ontbreek begrip vir hoekom dit nodig is om ’n spesifieke amptenaar teen R720 000 per jaar (geprojekteer oor 12 maande) elders te baseer as met die aanstelling geweet is die werk gaan van daar verrig word.

Hoekom is iemand anders dan nie aangestel nie? Is Cronjé werklik al mens wat die werk sou kon verrig?

My twyfelsug kom teen die agtergrond dat Batohi met groot gewag deur pres. Cyril Ramaphosa ingestuur is om voor te loop in die stryd teen korrupsie. En Cronjé is weer met taamlike fanfare aangewys om die ondersoeke vir die vervolging van staatskapers te lei. Sedertdien laat Batohi kort-kort deurskemer ’n geldtekort kortwiek die NVG in sy werk.

Voorts is ek gekontamineer weens my blootstelling as parlementêre verslaggewer aan geldvermorsing in die staatsdiens. Daar het ek telkemale beleef hoe groot afvaardigings die dag vooraf vlieg na die Kaap waar hulle teen groot koste oorbly (en eet). Net om die volgende dag by die parlement te verneem daar is nie ’n kworum van LP’s nie en hulle kan – tot hul vreugde – verdaag vir nóg ’n latere uitstappie.

Soos Batohi in haar – taamlik verontwaardigde – verduideliking sê, is daar niks onbehoorliks aan die koste vir Cronjé se vliegery en blyery nie.

Toegegee, dis nie onwettig of – ingevolge staatsdiensregulasies – seker onregmatig nie. Nogtans . . .

Batohi skerm ook vir haar ondersoekhoof wat dan persoonlik soveel opoffer en sy meen “ons” skuld haar (Cronjé) veel meer.

Ek’s bevrees Batohi se verweer ruik na die denkwyse van eiegeregtigheid.

Werklik? Word Cronjé nie ingevolge ’n kontraktuele verbintenis met haar werkgewer vergoed nie?’

Jammer. Ek’s bevrees Batohi se verweer ruik na die denkwyse van eiegeregtigheid en selfs slagofferskap wat onder die ANC-regering ons so diep in die knyp het.

En na die gerieflike sindroom in die staatsdiens dat die geldkraan nooit opdroog nie en die put bodemloos is.

Van die voorvegters teen korrupsie sou ’n ander voorbeeld welkom wees.

Hulle kan by private ondernemings (lees: sonder belastinggeld) leer dat sakebeginsel een altyd geld: Jy gee nooit meer geld uit as wat jy verdien nie. Anders is jy bankrot.

Neem maar my renons in Batohi se retoriek as komende van iemand wat net so skepties is oor die SAUK se gespog dat sy verlies vanjaar slegs R482 miljoen beloop.

Wat my wel opgewonde maak, is hoe in ’n ontwrigte mediabedryf gemeet en gepas kon word sodat ’n ander Cronjé (Hendrik) van Japan vir lesers waarde kan toevoeg. Kanpai!

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Nvg  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.