Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só toets jy ’n vryer tydens die pandemie
Erla-Mari Diedericks

Die koronavirus – en spesifiek hoe mans daarop reageer – bied vir Erla-Mari Diedericks die ideale riglyne om potensiële vryers te “keur”. Vind hier uit of jy haar “IK-toets” slaag.

Romanse en spesifiek ’n gevryery sal altyd kop uitsteek. Of daar nou ’n pestilensie is of ’n aardbewing soos hierdie naweek – daar sal altyd mense wees wat dit tot hul vryerige voordeel gaan aanwend.

Die pandemie is nou al meer as ’n halwe jaar met ons, maar die grappies – en natuurlik vrylyne (pick up lines) het onmiddellik opgeskiet soos onkruid. Maar kom ons begin eerste met die aardbewing-lyne aangesien dit nou die jongste verskynsel is.

’n Oue, maar getroue een? Wel, Kaapstad se aardbewing oor die naweek het 6,1 gemeet. Jou optellyn? “Die aardbewing was dalk 6,1, maar jy is ’n 10, Skattebol.”

Wil jy regtig die aarde voel beweeg? Kom dan hier, Bokkie!

Romanskrywers en aardbewings is natuurlik ou vriende want ons almal het al die een of ander soetsappige storie gelees waar die paartjie in die bed is en dan – op die orgasmiese oomblik – “beweeg die aarde” of is “daar ’n aardbewing”.

“Did the earth move for you too, Baby?” – sou hierdie naweek egter waar gewees het vir baie mense wat op daardie juiste oomblik met katel-kaskenades besig was.

“Wil jy regtig die aarde voel beweeg? Kom dan hier, Bokkie!” – is nog ene. En as die voorwerp van jou belustigheid bang is vir aardbewings, kan jy altyd aanbeveel dat sy “onder jou kom skuiling soek”.

Is dit korona of is dit jy?

Die korona-seksgrappies en -vrylyne is nog erger – dalk juis omdat ons nog te midde van die Covid-19-pandemie is en van die pickup lines – wat taamlik donker is – dalk nog te na aan die lyf voel.

“Het ek korona of is dit net jy wat my asem wegslaan,” is byvoorbeeld een so ’n lyn wat uiters onsensitief en onsmaaklik kan wees.

Hierdie een is ’n bietjie beter: “Jy ruik so lekker, is dit ontsmettingsmiddel?” Of: “Soek jy ’n stouterd? Want ek het my hande net vir 19 sekondes gewas . . .”

Hei, ek was my hande, selfs al is daar nie ’n pandemie nie.

My gunsteling is: “Ek het jou sien staan aan die ander kant van die kroeg. Ons het in mekaar se oë gekyk. Bly daar!”

Of hierdie een is ook oulik: “Hei, ek was my hande, selfs al is daar nie ’n pandemie nie.”

Ek weet nie of dit sal werk as jy vir iemand sê haar glimlag is netso aansteeklik soos die virus nie, maar ’n “aansteeklike glimlag of lag” is oor die algemeen ’n begrip wat ek nie sommer nou in ’n romanse sal gebruik nie.

‘Is daardie 'n bottel handreiniger in jou broeksak?’

Dan is daar die afstandkwessie. Die feit dat dokters aanbeveel dat jy ’n afstand van 2 m moet handhaaf wanneer jy in kontak is met ander mense, skiet natuurlik ’n gevryery in die voet. Maar dit sorg wel vir heel oulike optellyne. “Is daardie ’n bottel handreiniger in jou broeksak of is jy net bly om 2 m ver van my te wees?”

Jy kan dit natuurlik omswaai na: “Wil jy graag nader as 2 m van my wees?” as jy bereid is om ’n korona-kans te waag vir die liefde.

Ek sal graag jou kurwes wil afplat.

Getroude mense of paartjies wat saambly en moes oorleef tydens al die inperkings-fases, kon natuurlik ook hierdie lyn probeer: “Dit is nie asof jy ander opsies het nie . . .” Dit mag egter dalk nie ’n goeie reaksie ontlok nie.

Ten einde laaste is daar hierdie ene: “Ek sal graag jou kurwes wil afplat.”

In my geval bied die koronavirus – en spesifiek hoe mense daarop reageer – vir my die ideale riglyne om mans vir potensiële verhoudings te “keur”. Benewens die ou toets wat ek altyd gebruik, naamlik politiek, sport, rook en gender-ingesteldheid (rassisties, seksisties, te sportief en ’n roker werk nie vir my nie) het ek gou ’n nuwe IK-toets ontwerp. Die IRK- toets. Dit staan vir Intelligensie Rakende Korona.

My vraag op die liefdesoek-app Tinder is eenvoudig: Hoe ervaar jy die inperking en wat het jy die meeste gemis?

Daar is mans wat spog dat hulle vrye siele is wat weier om ’n masker te dra (sal nooit in der ewigheid met hulle uitgaan nie) en dan is daar diegene wat glo die virus is geskep deur Bill Gates om ons almal te dwing om ingeënt te word sodat ons as slawe ingespan kan word in ’n geldlose gemeenskap. Of so iets.

Dié wat rook gemis het, is ook van my lysie geskrap. Die wat in detail beskryf het hoe hulle gereed is om “enigiets te bespring” is ook blatant geïgnoreer. Die enkeles wat die korona-kwessie as verskoning vir ’n rassistiese tirade gebruik het, is ook summier uitgewis.

Maar my gunsteling-reaksie? Dié mans (en ja daar was ’n paar) wat gekla het dat my vraag te “slim” is vir so ’n mooi meisie soos ek . . .

*Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings in hierdie rubriek is haar eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seks  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.