Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So vaar Suid-Afrika met virus

Pres. Cyril Ramaphosa lei sigbaar van voor te midde van die pandemie en kry dit reg om die land se mense te besiel met sy boodskappe oor die situasie. Sy sterk punt is oortuigende kommunikasie en die waardige styl wat hy na sy amp bring. Sy groot ondersteuning in ’n onlangse peiling is dus geen “verrassing” nie.

Hy het duidelik ook goed na kundige advies geluister.

Hy word van volpunte (8/10) weerhou deur sy volgehoue vaagheid oor “ekonomiese herstrukturering” en teenstrydighede oor die SAL en die bestuur van die inperking.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (7/10)

Soms verg dit ’n krisis vir iemand, wat tot nog toe taamlik gemiddeld voorgekom het, om na vore te tree. Hy het.

Hy is eerlik in sy mededelings en dryf die program om voorsiening te maak vir bykomende sorgsentrums en beddens sterk. Internasionaal is hy op die voorpunt met die strategie om mense, wat volgens inligting moontlik blootgestel is, te probeer opspoor en toets.

Die ANC staan skuldig oor swak gesondheidsdienste, maar nou dryf hy ingrypings sterk.

Die res van die ministers (4/10) sukkel maar. Verskeie van hul bydraes word gekenmerk deur swak, onoortuigende kommunikasie.

Ook arrogansie en teenstrydighede is aan die orde van die dag.

Veral skuldig is Bheki Cele, Fikile Mbalula en Lindiwe Zulu. Pravin Gordhan dra by tot verwarring met sy SAL-rondspringery.

Ebrahim Patel sou op sy eie beter punte gekry het. En daar is onbillike kritiek op dr. Nkosazana Dlamini-Zuma bloot omdat sy onduideliker praat. Sy speel ’n kernrol in die kabinet en om plaaslike regering te probeer red.

Die inperkingsplan (7/10) was ’n goeie idee en die regte plan vir Suid-Afrika se omstandighede. Nadat die koring van die kaf geskei is, blyk dit internasionaal die beste model te wees om met ’n sterk inperking weg te spring. Lande wat nie het nie, sukkel om die agterstand in te haal.

Vra maar vir Boris Johnson, Britse premier wat enkele weke gelede volgehou het dit is sy werk om te bly handskud . . .

Die gepaardgaande ekonomiese hulppakket is so-so, maar hoe anders met beperkte bronne.

Dit bring verligting vir armes.

Die uitvoering (3/10) van die inperkingsplan is swak.

Onder erge druk word swak punte onthul. Dit sluit in die land se uiters swak dienslewering en korrupte karakter met kospakkies wat gesteel is.

Die opheffing van die inperking in fases maak sin, maar blyk onnodig ingewikkeld te wees. ’n Vinniger en doelgerigter oopsluit van die ekonomie word deur baie waarnemers gevra.

Die ontplooiing van die veiligheidsmagte was nodig om veiligheid te verseker, maar wandade en swak opleiding ondermyn dit.

Die breë publiek (5/10) kry hier ten regte of onregte ’n gemiddelde punt.

Die gewone bitterbekke ten spyt, besef die meeste mense die erns van die saak en wil graag help. Baie probeer die beste van ’n slegte saak maak en gebruik hul nuwe tuistyd om aan te pas by “werk van die huis af” en te help deur insamelings en meer. Tog is dit duidelik dat baie mense nie die begrip van ’n gesonde afstand onder die knie het nie. Dit is die enkele faktor wat in die guns van die virus werk.

Dié met net sosiale media as inligtingsbron is waningelig.

da

Politieke partye, burgerlike organisasies, ander belangegroepe en die private sektor (6/10) word hier weens ’n gebrek aan plek almal saam gegroepeer.

Dis onbillik teenoor partye soos die VF Plus, DA en groepe soos Solidariteit en Outa wat werklik insette van gehalte lewer en hulself aktief laat geld. Dié deel van die groep sou sewe of agt uit tien kon haal.

Die private sektor speel ’n reuserol, ook agter die skerms, om die regering te help. Daar is wel te veel eiebelang en te min openbare insette oor hoe vorentoe – veral oor veilige werkplekke.

Uiteraard is die rapport bloot ’n meningsrubriek. Hier is geen wetenskaplike toekenning van gewigte nie en dit is oop om onderwerp te word aan die diskoers om sin van ons situasie te maak. Lesers is welkom om soos gewoonlik saam te praat.

Die gemiddelde punt kom dus neer op 5,7 uit 10. Dalk verdien ons tog dat dit afgerond word na 6 uit 10. Daar is baie lande waar dit veel ellendiger gaan.

Hoewel baie mense nou reeds ongeduldig is met die stand van sake, besef die meeste dit kan nie veel anders nie. Hopelik besef Ramaphosa dat heelwat nog nodig is vir sy regering om “voor die kurwe” te bly.

Meer oor:  Koronavirus  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.