Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só vang jy ’n ryk man . . . of dalk nie

Die raad wat in internet-artikels aan vroue gegee word oor hoe om ’n ryk man te vang, fassineer haar, skryf Erla-Mari Diedericks.

Man paying for shopping. Young happy woman with ba
Die ironie van ’n geldsoeker is dat sy reeds soos ’n ryk vrou moet lyk om ’n ryk man te vang.

Ek weet ek is lief daarvoor om onder die manlike geslag in te klim, maar as jy nou regtig in die donkerste, vlakste psige van ’n vrou wil gaan loer, lees net ’n paar van die artikels aanlyn oor hoe om ’n ryk man te vang.

Jy het reg gelees.

Die internet is propvol artikels oor hoe ’n vrou ’n stywe bankrekening en beursie (wat toevallig behoort aan ’n man) in die hande kan kry sonder om self daarvoor te werk.

Die onderwerp self is dalk alledaags. Almal weet tog daar is ’n klas vrou wat sonder om te blik of bloos ’n gemanikuurde hand by ’n man se broek sal insteek om by sy beursie uit te kom. Maar wat my geheel en al fassineer, is die raad wat in dié artikels gegee word.

1. Wees vars en versorg

Wat beteken “vars”? Om nie verby jou “sell by date” te wees nie? Of beteken dit jy moenie na sweet en desperaatheid ruik nie? Ek sien natuurlik voor my geestesoog ’n vars blaartjie wat deur ’n ou bok met baie geld geherkou word.

Versorg, soos hier bo genoem, beteken nie noodwendig net skoon naels en gekamde hare nie. Die ironie van ’n geldsoeker is dat sy reeds soos ’n ryk vrou moet lyk om ’n ryk man te vang. Lang, hare. Perfek gemanikuurde naels. Plooiloos. Haarloos. Opgetof. Baie soos ’n poedel op skeerdag.

2. Lyk konserwatief

Die woord “konserwatief” duik gereeld op in hierdie manvang-artikels. Volgens die vroue wat die artikels skryf, wil almal met die dorpsdelila slaap, maar niemand wil met haar trou nie. Minirokkies en lae halse is dus nie ’n slim idee nie. Tensy jy net van sy geld per uur ontslae wil raak. Nee, maan die artikels. ’n Welgestelde man wil trots wees op sy meisie. Sy moet elegant lyk.

Toe rokkies dra. Bedeesd onder haar versorgde kuifie deurloer. As ek egter so kyk na die Donald Trumps en Hugh Heffners van die lewe, weet ek darem nie of dit waar is nie.

3. Geen tatoeëermerke, meisies!

Daar vlieg my loopbaan as geldjagter natuurlik by die deur uit. Want ryk mans hou blykbaar van ’n maagdelike lyf. Of is dit nou vel? Hoe hulle sal voel oor keisersnit-letsels en rekmerke, kan ’n mens net raai.

4. Gee jouself ’n jaar

’n Ryk man het natuurlik baie keuses, dus as jy ná ’n jaar nog nie ’n outomatiese tellermasjien met bene tot voor die kansel gesleep het nie, moet jy maar jou sente en seëninge tel en aanbeweeg na die volgende Meneer Ryk.

5. Word ’n kelnerin by ’n gholfklub

Die idee hier is dat jy moet rondhang waar ryk mans is. Maar natuurlik is die meeste geldjagters arm en kan nie bekostig om – die hemele help ons – haar eie drankies te koop nie. Dus is dit blykbaar ’n goeie idee om ’n kelnerin te word en ryk mans te bedien totdat hul beursies jou kan bedien.

6. Verdien sy respek

En hoe doen jy dit? Deur seks te weier. Aldus die manvang-skrywers. Die redenasie hier is dat mans glo vroue net in twee kategorieë plaas: Koeke en terte.

Terte is natuurlik sappig en lekker en word vinnig verorber. Wat die geldjagtervrou wil wees, is ’n vrugtekoek. Een van daai vrugtekoeke wat jy vir lank in die kas kan hou soos die troukoeke van ouds. En nee, dit beteken nie jy kan jouself nou elke aand gaan versuip in brandewyn soos wat gedoen word met vrugtekoeke om dit ryk en sag te hou nie.

7. Wees interessant

Erla
Erla-Mari Diedericks

Glo dit of nie, maar blykbaar as jy die inspeksie geslaag het en sonder tatoeëermerke, vetrolle, vuil hare en ’n donker verlede is, moet jy ook gesonde verstand aan die dag lê.

Die skrywers beveel aan dat jy jouself met stokperdjies besig hou, maar kom nie met voorstelle vorendag nie. Dalk iets soos diamantringe versamel? Of jou seer voete in koeksodawater week in die aande nadat jy die hele dag kelnerin gespeel het in die hoop om ’n ryk man se oog te vang?

Wat egter nie met dié raad vermeld word nie, is dat jy beslis na die man se pype sal moet dans. En seks gaan deel van die ooreenkoms wees, vrugtekoek of te nie.

En of dit so goeie idee is om op ’n gholfbaan rond te trippel, weet ek ook nie. Netnou vra hy jou om na sy balle om te sien. En dit kan nogal harde werk wees.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.