Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só verfyn spoke ANC-buitmodel
Gert Coetzee

Mooi, man, as jy daarin geslaag het om The President’s Keepers in die hande te kry. Hou maar die bloeddrukpilletjies byderhand vir woedebestuur oor hoe ons land – onder dekmantel van die struggle – slinks en gewetenloos gestroop word.

Nkandla is ’n vulletjie. Die “spioene” (eintlik geheime diewe) het die ANC se bloudruk vir staatsdiefstal vervolmaak.

Die basiese plan vir selfverryking werk dieselfde – bewimpel tenders vir nie-bestaande “dienste” en dinge; en ken dit toe aan ’n ANC-pêl, meestal met struggle-bande, wat ’n fopmaatskappy stig vir die invloei van staatsgeld as betaling vir “kontrakte” vir die kamtige kommoditeite.

Met terugvloeiende gunslone aan die bemagtigers. Dink Nkandla; dink wapenkontrakte; dink toilette op die vlaktes, leë webtuistes, Vrede-melkplaas. Teen miljarde rande.

Met hul spookkontrakte vervolmaak die Staatsveiligheidsagentskap se Jacob Zuma-aangestelde spioene net die model vir buitery.

Die meesterskuif is dat hulle skuil agter wetgewing wat ondersoeke na die SVA in belang van “openbare veiligheid” verbied. Juis uitpratery hieroor is die los draad wat Jacques Pauw in sy ondersoek losgetorring het.

Die spoke, met Arthur Fraser as Groot Spook, is deur Zuma ná sy magsoorname in 2007 hier ingesmokkel

Die SVA se Principal Agent Network (PAN) het in drie jaar daarin geslaag om miljarde rande se belastinggeld op nikswerd knoeiprojekte, soos Easimix, Émigré, Vodka, Pack, Kwababisa, Psycho en SO, te vermors. Al projek wat iets werd was, skryf Pauw, was Mechanic wat die aankoop van 293 voertuie – BMW’s, Audi’s, Golf GTI’s en kleineres, asook drie ingerigte voertuie vir “tegniese waarneming – behels het. As bergplek is leë pakhuise vir meer as R70 miljoen gehuur of gekoop – met as begunstigdes van die kontrakte . . .

Reggeraai! Die hoofspoke.

Die voertuie staan steeds in onbruik in die duur bêreplekke, maar in belang van landsveiligheid mag dit nie ondersoek word nie!

Die spoke (bynaam vir “spioene”), met Arthur Fraser as Groot Spook, is deur Zuma ná sy magsoorname in 2007 hier ingesmokkel. Soos wat hy sy kornuite in alle strategiese instellings herontplooi gekry het. Op Planeet Zuma werk dit soos wat Pauw skryf: “Whether you have to get to the top of the Kremlin or clamber up Jacob Zuma’s slithery and geangrenous pole, politics is a messy business. Everyone on that pole, from the lowest to the highest, is vying for position and trying to hoist himself or herself a little higher.” En: “There is only one certainty in life on JZ’s pole: his survival is our survival and the face that you are on the pole is only because he is at the top.”

Só werk dit in Zuma se Mafiaanse ANC. En verdamp die geld. Al sê hy (voorverlede week in die parlement) apartheid het die armoede geskep.

Verkeerd. Apartheid het selektiewe rykdom geskep. Daardie rykdom moes nuwe rykdom help skep vir oordeelkundige herverspeiding om ongelykheid te wis.

Nie as ’n vet beursie vir ’n paar bevoorregte boefbase en hul koppelaars se eie sak nie. Die ANC-model vir diefstal geld nasionaal, provinsiaal, plaaslik en in staatsverwante instellings. Só is dit gesteld met die party – en die land – aan die vooraand van sy nasionale leierskongres by Nasrec. Met Cyril Ramaphosa as leier van die teengroep wat aanvoer hulle wil juis dié soort vuilspel uitroei.

In “How we will rebuild South Africa” in City Press (19.11) skryf Ramaphosa “A new deal for economic growth rests on rooting out corruption, improving education, creating jobs and restoring investor confidence.” Dit sal bars gaan. Ás sy kamp wen. Sy skoonmakery kan by die spoke begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.