Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So wen jy die ANC-boerpot
Johann Maarman

Skop die hond tot die eienaar sy kop by die deur uitsteek, is die sê-ding as ’n mens iemand wil uitlok en bykom. Die taktiek is jy neuk met dit wat na aan die eienaar se hart lê sodat hy geen keuse het om tot die geveg toe te tree nie.

In die week waar die boeie van die Valke om die gewrigte van die staatskapers geklap het, is dit duidelik dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nou eers die klein hondjies skop voordat hulle die geveg met die base begin.

Iewers moes iets meegee, want hierdie land is in die laaste paar jare rot en kaal geplunder deur ANC-kaders wat nie ’n greintjie skaamte het om miljoene der miljoene rande te steel nie.

Dit is maklik. Jy betaal ’n skamele R20 lidmaatskapgeld aan die ANC, wurm jou in by die regte faksie wat vir jou tenders bewimpel en dan wanneer daar makietie gehou word, koop jy Moët & Chandon by die bokse en Johnnie Walker Blue vir jou weldoeners. As jy nog meer welwillendheid aan die dag wil lê, dra jy ’n paar miljoen oor na die ANC-hoofmanne se trustrekeninge en die kersie op die koek is as jy die bevrydingsorganisasie se rekening so ’n bietjie kan stu.

Maklik. Alles vir R20. En die versoeking is nét te groot vir sommige kaders.

Kom ons wees doodeerlik. In die ANC se wagbeurt strompel die land van een skande na die ander.

Een ANC-vriend sê die afgelope week oor koffie dat R20 van jou ’n miljoenêr kan maak en dis makliker as om die Lotto te speel. In die Lotto het jy ses nommers nodig om die boerpot te wen. In die ANC betaal jy R20 en met die regte kontakte kan daai R20 jou ’n ses-syfer-bedrag as dividend oplewer.

Kom ons wees doodeerlik. In die ANC se wagbeurt strompel die land van een skande na die ander. Nie dat dit nie voorheen ook gebeur het nie, maar onder die ANC het ’n plundertog posgevat wat ’n mens se asem skoon wegslaan.

Die ANC het die onderskeiding dat die grootste wapenskandaal onder sy neusvleuels gebeur het. Ons wag nog dat die groot indoena sy dag in die hof kry – iets wat die Man van Nkandla tot elke prys probeer vermy met sy vertragingstaktiek.

Met die Zondo-kommissie het ’n mens gesien dat Piet, Paul en Klaas op die vet van die staat gelewe het en die gemene deler was dat hulle die tjap van ANC-kameraad gehad het.

Maar ’n mens wonder wat is nog in die kas wat nog nie ontbloot is nie. Ministers, adjunkministers, direkteurs-generaal, polisiehoofde en burgemeesters is almal deel van die web van korrupsie, maar hoeveel ander nog is betrokke? Watter ander geraamtes is daar nog in die kas waarvan ons nie weet nie?

Dis mos belaglik dat mense knus in hul pos bly sit terwyl hulle by staatskaping betrek word.

Net die afgelope week het ons gehoor van Stella Ndabeni-Abrahams, wat daarvan beskuldig word dat sy toutjies getrek het dat haar man se maatskappy voordeel trek uit regeringstenders. Die vrou is verdomp die minister van kommunikasie en digitale tegnologie. Hoe kan sy nog in haar pos aanbly terwyl sulke beskuldigings teen haar gemaak word?

Wat maak haar anders as Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, wat op verpligte verlof geplaas is toe sy en haar man by beweerde betrokkenheid by ’n onregmatige Covid-19-tender betrek is?

Dit wys net weer hoe deurtrek die ANC is met die kanker van korrupsie. Selfs in skandalige korrupsiesake word daar nog van die een vis en van die ander een vleis gemaak.

Skeer almal oor die kam en maak skoon die ANC-huis.

Maar dit is dalkies net te veel gevra, want in die ANC-kartel is daar weinig wie se hande skoon is. En dis die reine waarheid.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie  |  Beloning  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.