Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só word ons soos die krewe in ’n pot water

“Die publiek wéét waarmee julle besig is, maar julle gee skynbaar nie om dat hulle weet nie,” het oudminister Pravin Gor­dhan die afgelope week in die parlement aan die Eskomdireksie gesê.

“Die publiek wéét dat julle deel is van ’n sameswering en dat julle staatseiendom en -hulpbronne vir persoonlike gewin misbruik. Wat selfs erger is, is dat staatska­pers soos julle nie omgee dat die publiek weet nie.”

’n Mens kon die frustrasie in sy stem hoor. Frustrasie met die skaamtelose korruptes wat Dinsdag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare rekeninge verskyn het, maar miskien ook frustrasie met die publiek. Want wat die afgedankte minister van finansies nie gesê het nie, is dat ons, die publiek, skynbaar ook nie omgee oor staatskaping nie.

Van Gordhan se pleidooi dat gewone Suid-Afrikaners moet mobiliseer, het daar maar min gekom.

Dit is ’n frustrasie wat joernaliste en rubriekskrywers ook toenemend beleef: Wat help dit om verontrustende feite aan die groot klok te hang as Suid-Afrikaners houtgerus bly aankarring asof daar niks in hierdie land skort nie?

Knorrige gelatenheid is vir sommige ’n luukse wat hulle kan bekostig omdat hulle ’n ontsnappings-plan het.

Die veteraanjoernalis Ed Herbst skryf dié week in ’n BizNews-artikel oor staatskaping van ’n ander aard – verwikkelings by die staatsuitsaaier – dat Suid-Afrikaners geleer het om nuus oor groteske onbekwaamheid en verstommende korrupsie by die SAUK met knorrige gelatenheid te begroet. Tog gaan Herbst voort om te berig oor magsvergrype deur ANC-kaders by sy voormalige werkgewer. Soos Coleridge se Ancient Mariner ken hy ’n verbysterende verhaal en sal hy met mag en mening iemand vind aan wie hy dit kan vertel. “And thus spake on that ancient man, / The bright-eyed Mariner.”

Waarom sou dit wees dat Suid-Afrikaners so gediend is met knorrige gelatenheid oor die vergrype waaraan die regering hom daagliks skuldig maak?

Suid-Afrikaners is oorweldigend negatief oor die rigting waarin die land beweeg. Luidens ’n peiling deur die konsultantegroep Brunswick sê 76% landsburgers van alle ouderdomsgroepe en rasse dit gaan nie goed nie.

Tog doen ons niks hieraan nie.

Tog doen ons niks hieraan nie.

Knorrige gelatenheid is vir sommige ’n luukse wat hulle kan bekostig omdat hulle ’n ontsnappingsplan het. Hy vlug nie landuit nie, het Whitey Basson, voormalige uitvoerende hoof van Shoprite, onlangs verklaar oor die verkoop van R1,8 miljard se aandele. ’n Portefeuljebestuurder van Gryphon-Batebestuur het dit as buitensporige gedrag bestempel, maar Basson het volgehou hy “diversifiseer”.

Nee, ook hy gaan net mooi nêrens heen nie, het Spur se Allen Ambor gesê nadat hy R100 miljoen se aandele verkoop het. Die waarheid is waarskynlik dat albei here nog nie die land verlaat nie. Selfs op daardie soort begroting gaan die lewe in Europa of Noord-Amerika nie dieselfde wees as hier nie. ’n Herehuis in Londen se Holland Park, sê maar, vergelyk maar swak met die oop ruimtes van Jonkershoek.

En die res van ons, diegene wat nie miljoene Shoprite- of Spur-aandele het om te verkoop nie? Waarom vind ons knorrige gelatenheid ’n gepaste reaksie?

Waarskynlik omdat dit nog nie sleg genoeg gaan nie. As ’n mens die koerant opsy skuif, is daar nog steeds ’n tjoppie vir die kole en ’n wyntjie byderhand. Die ­“ancient mariners”, hulle met verhale wat ons eerder nie wil hoor nie, probeer ons systap, want wie sien tog nou kans vir die trek na Sydney?

Dit is helaas ’n gevaarlike benadering. Die land verkeer al bykans 18 maande lank in ’n krisis wat aanhoudend verdiep en uitkring. Ons hou uit en ons hou aan, maar die gevaar bestaan dat ons die krewe is in die pot vol al hoe warmer water. Ons raak gewoond daaraan. Totdat . . .

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.