Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só word waarheid ’n tandelose hond

Die waarheid moet gevolge hê vir hulle wat leuens vertel en kwaad gedoen het. Sonder inhegtenisnemings en tronkstraf is die waarheid ’n tandelose hond, skryf Dawid Kuyler.

Die waarheid en niks anders as die waarheid nie? Oudpres. Jacob Zuma in die getuiebank by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Argief

In Oktober was die onderwerp van my rubriek: Om te lieg of nie te lieg nie. Teenoor lieg staan waarheid, maar wat is waarheid?

As ons ’n eed in die hof aflê, word ons gevra om “die waarheid, die hele waarheid, en niks anders as die waarheid nie” te praat. In ons howe, maar ook in ons werkplekke en by ons huise, vertel ons elkeen die waarheid, die hele waarheid, en niks anders as die waarheid – altans dit wat ons as die waarheid beskou.

Ander sal ons herinner dat ons halwe waarhede vertel of bloot blatant lieg.

Ek is oortuig dat die soeke na waarheid binne die Suid-Afrikaanse konteks een van dié brandpunte in die land is.

En maklik is dit, weens verskeie redes, beslis nie.

Waarheid is kompleks. Dit is meer as net ’n klomp feite. Dit is feite wat aan mekaar verbind moet word en binne ’n raamwerk verstaan moet word. Dit is nie so eenvoudig soos een plus een is gelyk aan twee nie.

Die Zondo-kommissie wys ons daagliks hoe moeilik dit is om agter die waarheid te kom. Baie getuies vertel wat hulle as die waarheid onthou en vertolk en adjunkhoofregter Raymond Zondo moet uit ’n warboel feite ’n relaas saamstel wat sin maak. Ons as kykers en lesers het elkeen ons eie idee van die waarheid. Ons glo ons verstaan die waarheid.

Die waarheid is egter veel meer kompleks. Net sodra jy dink jy weet wat die waarheid is, kom nuwe feite aan die lig wat die verhaal kan verander en verdiep.

Sommige politieke partye gee oorvereenvoudige antwoorde vir komplekse situasies in Suid Afrika. Die skuld vir die ineenstorting van munisipale dienste kan nie net op Jan van Riebeeck se skouers gepak word nie. Sondebokke ontken die kompleksiteit van die waarheid.

Die man op wie se skouers die groot taak rus om die waarheid van staatskaping te ontbloot: Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: AP

Waarheid is iets waarna jy moet soek. Die waarheid val nie sommer in jou skoot nie. Dit is ’n proses. Jy begin deur te erken jy weet nie wat die volle waarheid is nie. Jy weet maar net dit wat jy dink jy weet. Studies het getoon dat mense wat by ’n voorval betrokke was se vermoë om akkuraat te onthou nie so goed is nie.

Ons kan maklik dit wat ons gesien, gevoel en beleef het, vermeng met “feite” wat ons brein skep. Elke keer wanneer ons die feite oorvertel, kan dit verander.

Ander mense se weergawes speel ’n rol om ’n beter en groter prentjie te kry van die waarheid. Ons is al so gewoond aan fopnuus dat ons nie krities kyk na wat opgedis word as die waarheid nie.

Die aantal mense of die status van mense wat ’n onwaarheid as waarheid ondersteun, maak dit nog nie die waarheid nie. Jy moet deur die feite sif om by die waarheid uit te kom.

Waarheid vra harde werk. Joernaliste, speurders en mense in die intelligensiedienste sal jou vertel hoeveel werk dit kos om agter die waarheid te kom.

Dit gebeur nie oornag nie en kan soms jare neem.

Ons is dikwels ongeduldig en wil graag kits antwoorde hê. Suid Afrikaners sal moet leer om meer geduldig te wees terwyl mense wat na die waarheid soek, hul werk doen.

Ons moet onthou dat hulle wat verkeerde dinge doen geen steen onaangeraak sal laat om die leuen te beskerm nie.

Ons moet ook bereid wees om te help soek en feite te deel. Op die Kaapse Vlakte sukkel die polisie weens verskeie redes om bendebedrywighede suksesvol te bekamp.

Een van die redes is omdat mense nie betrokke wil raak nie en nie wil vertel wat hulle weet en wat hulle gesien het nie. ’n Ander rede is omdat die polisie wat die waarheid moet ontbloot ook dikwels deel is van bendebedrywighede.

Lt.kol. Charl Kinnear wat met sy lewe geboet het, was ’n ondersoeker wat nie sommer tou opgegooi het nie. Die soeke na waarheid kos dikwels mense se lewe in Suid Afrika.

Ons moet onthou dat hulle wat verkeerde dinge doen geen steen onaangeraak sal laat om die leuen te beskerm nie. Hulle maak die soeke na waarheid bitter moeilik, maar ons mag daarom nie wegskram van die harde werk om die waarheid te soek nie.

Dawid Kuyler

Dis van kardinale belang dat diegene in magsposisies net die waarheid gekonfronteer moet word As mense weet wat die waarheid is, maar niks kan doen nie, help dit nie veel nie. Diegene met mag wat iets kan doen met die waarheid, moet aangespreek word.

Dit help nie Zondo ontbloot die waarheid van staatskaping en niemand doen iets daaraan nie. Die waarheid moet gevolge hê vir hulle wat leuens vertel en kwaad gedoen het. Sonder inhegtenisnemings en tronkstraf is die waarheid ’n tandelose hond.

• Waarheid moet ’n gemeenskaplike grondslag hê. Die waarheid kan nie net vir een persoon geld nie. Ons deel met mekaar wat ons as waar beskou.

In ’n gemeenskap kom ons ooreen wat as waarheid sal geld. So is ons Grondwet die gemeenskaplike basis waarvolgens ons ons lewe inrig en waaraan ons mense se dade meet.

Mense wat die Grondwet ignoreer en hulself as verhewe bo die Grondwet beskou, mense soos oudpres. Jacob Zuma, wys dat hulle nie die gemeenskaplike grondslag van die waarheid aanvaar nie.

Ons het die reg nodig om ons te help om by die waarheid te bly.

• Kerke is veronderstel om die waarheid te beliggaam. Christene glo dat Christus die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Kerke en individuele gelowiges moet die waarheid van die liefde en geregtigheid beliggaam en uitleef.

Dit is nie so eenvoudig om dit te doen nie. Saam moet ons soek na die waarheid binne ons komplekse samelewing. Die kerk moet nie huiwer om sy profetiese taak teenoor diegene in magsposisies na te kom nie.

Mag die waarheid seëvier.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Charl Kinnear  |  Waarheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.