Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
So Zoom ons die toekoms in

Deesdae is daar talle aanlyn vergaderings tussen staatshoofde om vrede te maak in Afrika. Pres. Cyril Ramaphosa en die Afrika-Unie hou nou meer vergaderings as ooit. Dit het wel groot voordele, maar hou ook nadele in, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Zoom en koronavirus is al twee woorde wat byna sinoniem geword het. Foto: Getty Images

Baie van ons het die laaste paar maande die wondere van Zoom ontdek.

Die moontlikhede is legio: van aanlyn joga-klasse en konsultasies met terapeute tot groot webinare en hoëvlak-vergaderings tussen staatshoofde.

Soveel so dat die maatskappy Zoom Video Communications se waarde die hoogte ingeskiet het vergeleke met ’n jaar gelede.

Die vinnige skuif na aanlyn vergaderings is net weer ’n bewys van mense se aanpasbaarheid. Sommige van ons het gou geleer jy moet maar ’n lipstiffie of ’n helderkleurige serp langs jou rekenaar hou, net ingeval iemand ’n vinnige vergadering reël en aandring die kameras moet aangeskakel word. Die kindertjies wat gedurende TV-onderhoude of webinare die kamer insluip en dan vriendelik (of soms minder vriendelik) deur hul ouers van die skerm af weggewys word, is ook nie meer iets nuuts nie.

Wanneer dit kom by diplomasie en internasionale betrekkinge, hou die era van Zoom beslis voordele in. Wêreldwyd word die meeste groot vergaderings nou aanlyn gedoen. Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en die Afrika-Unie (AU) het omtrent al hul vergaderings sedert Maart na ’n aanlyn platform geskuif.

Pres. Cyril Ramaphosa het as AU-voorsitter die laaste paar maande meer vergaderings van staatshoofde gehou as enige ander voorsitter van die AU die laaste paar jaar.

Vergaderings oor krisisse kan dus nou baie vinnig bymekaargeroep word en miljoene rand word bespaar wat andersins aan reiskoste, sekerheid, ensovoorts bestee sou word.

Pres. Cyril Ramaphosa het as AU-voorsitter die laaste paar maande meer vergaderings van staatshoofde gehou as enige ander voorsitter van die AU die laaste paar jaar. Aanvanklik het Ramaphosa se aanlyn ontmoetings gedraai rondom Covid-19 en hoe Afrika die mas gaan opkom te midde van die ekonomiese krisis wat dié pandemie oor die vasteland heen veroorsaak.

Meer onlangs was hy ook besig om die AU se tema vir vanjaar, gerig op vredespogings, aanlyn in werking te stel.

Twee vergaderings is nou al op hierdie manier belê met die leiers van Ethiopië, Egipte en Soedan om die netelige – en baie plofbare – kwessie van die gebruik van die Nylrivier te bespreek. Ethiopië begin eersdaags water uit die Nyl gebruik vir sy Groot Ethiopiese Renaissance-dam, wat broodnodige krag vir stede soos Addis Abeba sal verskaf. Tot dusver is dit nog onduidelik of ’n bindende ooreenkoms bereik is, maar die oorlogstromme wat ’n paar weke gelede in Ethiopië en Egipte geslaan is, is vir eers stilgemaak.

En dit via ’n aanlyn vergadering.

Meer mense kan deelneem

Met Zoom kan baie meer mense as voorheen by konferensies en vergaderings betrek word. Foto: Getty Images

Benewens sulke gesprekke is daar ook ’n kans vir organisasies soos die AU om meer mense ’n stem te gee en om meer inklusief te wees. Aanlyn platforms en webinare kan nou ook menseregte-aktiviste, gemeenskapsleiers en plaaslike nieregeringsorganisasies insluit. Dit is ’n verbetering vergeleke met die AU-berade in Addis Abeba wat net ’n baie klein, uitgesoekte groepie amptenare betrek.

Die grootste bate van die Zoom-era is dan ook dat dit mense oor landsgrense en vastelande heen bymekaar bring. Die wêreld is nou platter as ooit tevore.

Maar daar is ook nadele.

Selfs al is dit gemakliker, goedkoper en vinniger om voor jou eie rekenaarskerm te sit, steun diplomasie deur die eeue heen baie op die informele en dit wat in wandelgange gesê word.

Wat sou Ramaphosa in die privaatheid vir Ethiopië se eerste minister, Abiy Ahmed, gesê het as hulle in persoon bladgeskud het? Sou Egipte se Abdel Fattah el-Sisi iets in sy oor gefluister het wat dalk die onderhandelinge ’n hupstoot kon gee? Vir konferensiegangers by die AU is informele geselsies langs die kantlyne altyd baie meer waardevol as wat agter ’n mikrofoon gesê word.

Nou is ’n private boodskap aan ’n mede-webinaarganger die beste wat ’n mens kan doen. Ongelukkig vervang dit nie ’n geselsie rondom ’n koppie koffie buite die vergadersaal nie.

Liesl Louw-Vaudran

Dan is daar natuurlik die steeds groeiende digitale gaping.

’n Mens moet – as ’n minimum vereiste – wel krag en internettoegang hê. Danksy Eskom is dit vir Suid-Afrikaners nooit ’n gegewe nie, maak nie saak in watter bedryf jy betrokke is nie.

Baie van ons brand om weer die pad te vat na werkafsprake elders in die wêreld. ’n Plakkaat teen jou muur of ’n aanlyn besoek is tog net nie dieselfde as die werklike tee in die Sahara nie.

Maar vir nou is Zoom die nuwe normaal.

En ek raai dat aanlyn vergaderings in ’n post-Covid-19-wêreld steeds ’n werklikheid sal bly. So, installeer dalk maar daardie nuwe sagteware, dit kan jou dalk nog baie jare nuttig te pas kom.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.