Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sobukwe moenie vergete held word nie

Hy dink met Menseregtedag terug aan die een struggle-held wie se naam deesdae nie meer te veel gehoor word nie, skryf Willem Fransman jr.

Robert Sobukwe is een van Suid-Afrika se vergete struggle-helde hoewel hy in veral die 1950’s ’n belangrike politieke rol gespeel het. Foto: Gallo Images

Menseregtedag is Sondag in Suid-Afrika gevier.

Vir lank was dié dag nie-amptelik as Sharpeville-dag bekend.

Eintlik is dit nie reg dat ’n mens ’n dag soos hierdie “vier” nie. Herdenk is dalk ’n beter woord. Want volgens die Handboek vir die Afrikaanse Taal (HAT) beteken die woord “vier” om “iets feestelik te herdenk”. Daar is egter ’n ander betekenis waarvan ek hou: (om) eer (te) bewys aan.

Dit is wat ons op Menseregtedag moet doen: om met groot eer en amper oorwoë respek terug te dink aan daardie mense wat hul lewe afgelê het om ’n hele nasie te bevry.

Dit is ook belangrik om eer te bring aan die leiers wat instrumenteel was in die gebeure rondom 21 Maart 1960 in Sharpeville.

Die verhaal van Sharpeville sal nooit volledig wees as die naam van Robert Mangaliso Sobukwe nie ook vermeld word nie.

Gedurende die jare van ons stryd om bevryding was hierdie seker een van die gevreesde name binne ons landsgrense.

Sy leierseienskappe is vroeg deur almal raakgesien en kort voor lank word hy as die eerste president van die studenteraad verkies.

Hierdie oudonderwyser en stigter van die Pan Africanist Congress (PAC) was ’n doring in die vlees van sy politieke teenstanders. Toe hy nog ’n vry man was en selfs ook nadat hy in hegtenis geneem is, het sy politieke teenstanders en selfs die regering van die dag hom as ’n beginselvaste mens beskou.

Sobukwe is op 5 Desember 1924 in Graaff-Reinet gebore.

Hy was die jongste van ses kinders wat arm grootgeword het. Eers ontvang hy plaaslik sy laerskoolopleiding en later word hy by ’n Metodiste-kollege in Healdtown onderrig.

Hy sluit hom in sy studentejare by die Universiteit van Fort Hare-Universiteit by die ANC se Jeugliga aan (1948).

Sy leierseienskappe is vroeg deur almal raakgesien en kort voor lank word hy as die eerste president van die studenteraad verkies. Hier bewys hy hom as ’n uitstekende orator. Oudpres. Nelson Mandela en oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe was van sy tydgenote.

Onderwyser en politikus

Willem Fransman jr. by Robert Sobukwe se graf in Graaff-Reinet. Foto: Verskaf

Ná sy studies word hy as onderwyser by ’n hoërskool in Standerton aangestel. Hy word uit die pos ontslaan toe hy in 1952 openlik sy steun aan die Defiance Campaign gegee het, maar hy is gelukkig kort daarna weer aangestel.

Gedurende daardie tyd was hy nie openlik by ANC-bedrywighede betrokke nie hoewel hy nog die sekretaris van die Standerton-tak was.

In 1954 aanvaar hy ’n pos as dosent in Afrika-studies aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Hy doen ook die redaksionele versorging van die koerant die Africanist waarin hy skerp kritiek op die beleid van die Nasionale Party-regering lewer.

Sobukwe het hom toenemend by die “Africanist”-groepering in die ANC geskaar. Hy was ’n sterk ondersteuner van die gedagte dat Afrika (en Suid-Afrika, per se) aan Afrikane behoort.

“Africa for the Africanists” was dan ook ’n gewilde slagspreuk onder hulle. Per definisie sou ’n “African” enigiemand wees wat in Afrika woon en aan die vasteland trou sweer en wat veral glo in ’n regeringsmodel wat die meerderheidstem sou laat geld.

Sobukwe was baie geliefd onder sy volgelinge. As onderwysman het hy onwrikbaar in onderrig geglo wat vir hom ’n sterk wapen tot selfopheffing was.

Hy het die eretitel van “Prof” onder sy kamerade en volgelinge verwerf. Die gemaklike wyse waarop hy gehore toegespreek en die krag van oortuiging wat uit sy woorde gestraal het, het van hom ’n gesogte spreker gemaak. Sy steun het ook gegroei weens sy sterk oortuigings en aktiewe weerstand teen die onmenslike apartheidswette.

Ná die stigting van die PAC, is daar heimlik gehoop dat die twee groeperinge op ’n manier sal saamwerk, maar die beslissende skeidslyne is in Sharpeville getrek.

Dit het egter veroorsaak dat hy ’n doring in die vlees van die regering geword het.

Teen die einde van die 1950’s, nadat sy sienings toenemend tot onderlinge struwelinge in die ANC gelei het, skei sy paaie met dié organisasie en stig hy die PAC.

Hy word ook as redakteur van die Africanist in Johannesburg aangestel.

Ná die stigting van die PAC, is daar heimlik gehoop dat die twee groeperinge op ’n manier sal saamwerk, maar die beslissende skeidslyne is in Sharpeville getrek.

Sharpeville en daarna

Robert Sobukwe se begrafnis in 1978 in Graaff-Reinet. Foto: Gallo Images

Die PAC het op 21 Maart 1960 landwye protes teen die dra van pasboeke, die gehate “dompas”, uitgeroep. Die idee was om die pasboeke in die openbaar te verbrand.

Te midde van ’n sterk teenwoordigheid van die gewapende magte, het ’n opgewonde skare daardie dag in Sharpeville onder groot gejuig hul pasboeke op ’n groot vuur gegooi.

By die polisiekantoor is daar op ’n skare geskiet. ’n Menseslagting het gevolg; etlike mense is gewond en 69 is dood.

Op verskeie ander plekke in die land het die polisie ook brutaal opgetree.

Sobukwe het op 21 Maart ’n groot gevolg na die Orlando-polisiekantoor gelei om sy teenstand teen die dompas te demonstreer.

Sobukwe en baie van die volgelinge is summier in hegtenis geneem en voor die hof gedaag.

Sobukwe is na Robbeneiland gestuur waar hy weg van Mandela en ander struggle-makkers alleen in ’n huis aangehou is.

Ter versagting van sy vonnis sê Sobukwe: “Dit moet onthou word dat ons geweier het om in die saak teen ons te pleit. Ons het gevoel dat ons op geen morele gronde wette kan gehoorsaam wat deur ’n wit minderheid gemaak is nie. Sonder om die persoonlike eer en die integriteit van die magistraat in twyfel te trek, glo ons dat hierdie onregverdige wet nie hier van toepassing kan wees nie.”

Hy is tronkstraf van drie jaar opgelê.

Teen die tyd dat die vonnis uitgedien is, het die minister van justisie, met nuwe wetgewing vorendag gekom wat hom toegelaat het om mense onbepaald aan te hou.

Dit was ’n wet wat eintlik net vir Sobukwe gegeld het en dit het as die “Sobukwe-klousule” bekend gestaan.

Sobukwe is na Robbeneiland gestuur waar hy weg van Mandela en ander struggle-makkers alleen in ’n huis aangehou is.

Hy kon met niemand praat nie, maar gelukkig is sy vrou, Veronica, ’n verpleegster, en hul kinders toegelaat om vir kort tydperke by hom te kuier.

Dalindyebo, een van Sobukwe se seuns, het later oor een van dié besoeke vertel: “Ek het nie geweet dat ek ’n pa gehad het nie . . . ek dink ek was ses. Ons het vir ’n volle twee weke daar by hom gebly. Ons het oggende, middae en saans ingeperk in sy plek van aanhouding gebly. Daar was nie ’n lewende siel naby hom nie. As dit nie marteling was nie, dan weet ek nie wat is nie. Ek was op my gelukkigste naby hom.”

Vergete held

’n Boodskap by Robert Sobukwe se graf. Foto: Willem Fransman jr.

Sobukwe is uiteindelik in 1969 vrygelaat, maar word na Kimberley gestuur waar hy onder huisarres moes bly.

Hier het die regering gedink sal hy nie so ’n groot invloed op politiek kon uitoefen nie.

Hy het verskeie oorsese aanbiedings gekry vir lektorsposte en verdere studie gekry, maar moes dit van die hand wys as gevolg van die reisbeperkings en inperkingsbevele wat op hom bedien is.

Hy voltooi nietemin ’n regsgraad in 1975 en bedien die gemeenskap van Galeshewe, Kimberley, met regsadvies.

In 1977 word hy in die hospitaal opgeneem weens longkanker. Sy geneeshere versoek die regering om hom vryheid van beweging te gee op menslikheidsgronde, maar dit word geweier. Hy sterf op 27 Februarie 1978, net 53 jaar oud, en word, met regeringstoestemming op 11 Maart 1978 in sy geliefde Graaff-Reinet begrawe.

Tog is dit jammer dat Robert Mangaliso Sobukwe tot vandag nog, selfs deur die nuwe regering, nie toegelaat word om sy regmatige plek in ons land se heldegalery in te neem nie.

Vroeg in Februarie 2020 het ek die voorreg gehad om sy graf te besoek. Wat ’n emosionele ervaring was dit nie toe ek die inskripsie aan die voet van die graf gelees het.

“Ons onthou Sobukwe ... ons moet die verpersoonliking van ons mense se ideale wees!”

Vandag is minstens twee strate en 'n hospitaal in Kimberley na hierdie beskeie, stil reus vernoem. Modderdagweg naby Bellville waar daar soveel traanrook en brandbomme in die struggle-jare by die UWK was, is in 2013 tot Robert Sobukwe-weg hernoem.

Die eertydse Esselenstraat in Pretoria dra ook nou sy naam.

Tog is dit jammer dat Robert Mangaliso Sobukwe tot vandag nog, selfs deur die nuwe regering, nie toegelaat word om sy regmatige plek in ons land se heldegalery in te neem nie.

Maar met Menseregtedag dink ek met groot dankbaarheid aan al die onbesonge en onbekende helde van 21 Maart 1960, en veral aan Robert Mangaliso Sobukwe.

• Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Menseregtedag  |  Robert Sobukwe  |  Robert Mugabe  |  Graaff-Reinet  |  Kimberley  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.