Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soek na klein stukkies lig
Jan Lubbe
Jan Lubbe

Die jong man oorkant my in die eetplek ken ek van kleins af. Talentvolle sportman, sterk leier, skoon van gelaat. Hy vryf oor sy bruingebrande voorarm om te wys: wit. Ek ken al daardie gebaar as jy hulle vra oor hul kanse om vir ’n span gekies te word: die vryf oor die vel.

Hy is ’n millenniër, vyf jaar jonger as die nuwe Suid-Afrika. En wit.

My gedagtes dwaal na die vorige dae.

Donderdag is die misdaadstatistieke van die land bekend gemaak, ysing- wekkend. Kontakmisdaad – moord, aanranding, seksuele oortredings – het met 2,6% gestyg na 617 000 gevalle die afgelope jaar. Dit is 1 700 per dag; een per minuut.

Die vorige Donderdag het mense swart gedra, veral vroue. Vrydag was ons gemeente se kermis; almal moes hard werk om reg te maak, niemand harder nie as ons kantoorbestuurder.

Halfnege die oggend kom die telefoonoproep waarvoor sóveel Suid-Afrikaners vreesbevange is: haar swaer is op ’n hoewe buite die stad aangeval, geslaan, vasgebind en as sy eie wapen nie geweier het nie, was hy dood. Saam met hom ook oorrompel en vasgebind, sy getroue Sotho-werker – dié het dit reggekry om die tou om die hande van sy werkgewer af te kou sodat hul albei kon ontsnap. Genoeg gehad; verkoop die melkkoeie en hoenders, pak op.

Dis die sleg van hierdie gestelery – dit bring daai apartheidsgoed weer terug; niemand vertrou mekaar meer nie.

Ons hou kermis. Vriende en vreemdelinge daag op, kuier en koop.

Ons het juis onlangs in ’n wyksbyeen- koms oor gasvryheid teenoor vreemde- linge gesels, oor wat dit beteken om “die ander” te verwelkom – want ons land brand; ons het ’n onherbergsame plek vol haat geword, só word hoër op in Afrika vertel. Vrydagmiddag laat ontdek ’n lidmaat wat mense sonder onderskeid gehelp het, sy beursie is gesteel, kontant, kaarte en al. Kort daarna, nog een: Haar selfoon is gevat – sy het die vrou met die kopdoek tussen die mense sien verdwyn. My moed sak oor projek vriendelik-met-almal.

Toe ek laataand op pad na die stasie in die vuil middestad ry om ons moeë kombuiswerkers te gaan aflaai, besorg oor hul veiligheid dankie-sê vir hul harde werk, sug een moedeloos: “Dis die sleg van hierdie gestelery – dit bring daai apartheidsgoed weer terug; niemand vertrou mekaar meer nie.”

Halfpad deur Saterdagoggend kry ek die boodskap: My ma het ’n vrou wat kwansuis pantoffels verkoop in haar huisie in ’n aftree-oord ingenooi en water en iets te ete aangebied. Met haar omdraaislag kombuis toe, het die besoeker haar selfoon gegryp en is daarmee by die deur uit. Buite het die taxi gestaan en wag.

’n Vrydag en Saterdag in Suid-Afrika. Ons almal ly. Waarvandaan sal daar vir ons hulp kom?

Voor my lê die jong man se hand nou stil oor sy voorarm. Hy’s nie een vol vooroordele nie. By die tafel langsaan sit ’n swart man en sy vrou; sy stylvol geklee, hy in ’n Springboktrui. Toe hulle kom, vat hulle mekaar se hande en bid sag.

Ons leef in ’n baie moeilike tyd, en selfs die president na wie ons opgesien het, erken nou dat dit “eintlik nogal sleg is”.

Ons sal moet waak teen die wraak wat in ons opwel. Ons sal moet soek na kalmte. Ons sal die klein stukkies lig moet raaksien.

Soos wyle Johnny Clegg gesing het: “I’m searching for the spirit of the great heart / under African sky . . . ”

Lank gelede toe sy lesers ook sulke wanhoop in die gesig gestaar het, het ’n visserman geskryf dat uit hul geloof, daar selfbeheersing en volharding moet groei (2 Pet. 1:6). Die ander apostel het dit ’n vrug van die Gees genoem: selfbeheersing (Gal. 5:22).

Wie nóú ewewig kan behou en selfbeheersing beoefen, is wys. Daaruit kom die daadkrag wat sal help.

Meer oor:  Wantroue  |  Vertroue  |  Apartheid  |  Armmoede  |  Diefstal  |  Besteel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.