Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soen jou regte koebaai, Poetin en KGB is hier
Charles Smith

Koebaai Mzanzi, hallo Poetinstan.

Vandeesweek was die begin van die einde van die Reënboogland. Ons beweeg vinnig oor na ’n land wat totaal deur die Guptas en Poetins oorgeneem is.

Oor ’n jaar of vyf gaan jy net Russies en Chinees in die Sarie Marais-hotel in Reddersburg en Van Zylsrus se kroeg kan praat terwyl Russiese kernreaktors en Chinese torings orals opskiet.

In Sandton en op Naval Hill in Bloemfontein gaan Mao Zedong en Wladimir Poetin se standbeelde naas Jacob Zuma s’n opgerig word om Nelson Mandela s’n te vervang. Ons gaan meer lyk soos Noord-Korea as die diamant van Afrika wat ons eens was.

Vergesog? Dink weer. In Bloemfontein is die Vrystaatse regering se hoofgebou na Fidel Castro vernoem terwyl kommunisme in die Kuba-styl reeds hier geld. Kubaanse dokters en ingenieurs word ingevoer terwyl Afrikaanse dokters wyk na Kanada. Studente gaan na Kuba, Rusland en China vir opleiding, waar Ace Magashule, die premier, meer en meer tyd deurbring. Die staat is die mense se moeder en die liewe leier word ’n messias wat die armes seën en hul geld sluk terwyl die staat verval.

Die Vrystaat, eens as Boere-republiek ’n modelstaat, is naby hieraan. Die staat is op die rand van ineenstorting, maar kaders kry ingevolge Rolex-kommunisme as burgemeesters en beamptes astronomiese salarisse

Ek is seker baie Afrikaners sal Poetin hier verwelkom en dink Russies is koel. Dis waar die uitverkoop van Afrikaans aan universiteite belangrik is. Julle het gebid vir die Engelse god as verlosser van ons kollektiewe pyn, maar die weerstand teen die nuwe kolonialis is só verweer dat Poetin net hier gaan instap met sy tenks en handlanger van Nkandla wat idioties grynslag.

Ons veg dan so lekker teen mekaar in ons eie droomland en verkoop ons taal vir poste.

Jy sal moet Russies praat in die Sarie Marais as jy jou wodka sluk, swaer, of vanaand op jou staatsplaas gaan die KGB van jou maalvleis maak. Net soos boere reeds in ’n vlaag van propaganda en geweld van hul plase gedwing word. Vra vir ’n boer hoe hy voel as sy beeste se hakskeensenings afgekap is en brul van pyn. Vra ’n boer se geliefdes en werkers oor hul onnoembare pyn as hy gemartel en doodgeskiet word. Vir niks.

Of nee – nie vir niks nie. Dit is deel van die stille revolusie waarmee die ANC onder Zuma besig is. Die diktator verwyder ál meer mense wat hy as vyande brandmerk en kry magte van buite vir absolute beheer. Fase een was beheer van die Party. Fase twee staatskaping. Fase drie alleen-mag deur middel van Grootbroer. Môre is kameraad KGB voor jou deur.

Wie gaan Zuma voor Desember stop? Wie gaan die kernreaktors stop? Ons? Ons veg dan so lekker teen mekaar in ons eie droomland en verkoop ons taal vir poste. Poetin is voor die deur. Soen jou regte in Mzanzi koebaai, swaer.

Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.