Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sokker help bou aan vrede en vreugde

In Jesaja 32 en 65, asook in Romeine 14 vers 17 word dit duidelik gestel dat mense geskape is vir ’n lewe van geregtigheid, vrede en vreugde. Sport is een menslike praktyk wat ons herinner aan hierdie mooi werklikheid.

In hierdie dae is dit onder meer die rugbytoernooie, die Formule Een Grands Prix, die Wimbledon-tennistoernooi, en veral die Sokker Wêreldbekertoernooi in Rusland waar ons, benewens feilbaarheid en teleurstelling, tog iets ervaar van die geregtigheid, vrede en vreugde van menswees.

Groot was my vrou se teleurstelling toe haar gunstelingspan, Spanje, deur Rusland uitgeskakel is. Ek moes haar probeer troos deur te wys op die billikheid van die uitslag, ondanks Rusland se meer verdedigende en negatiewe benadering tot die wedstryd. Rusland het klaarblyklik ’n keuse gemaak vir oorwinning deur verdediging. Dis tog billik en regverdig. Die besef van billikheid het troos en aanvaarding bevorder by Spanje-ondersteuners. Waar daar geregtigheid is, groei daar troos en heling. Dit is waar vir sokker en vir samelewings.

Benewens geregtigheid is sport ’n ruimte van vrede. Nasies wat teen mekaar oorlog gemaak het, speel teen mekaar, geniet mekaar, waardeer mekaar se talente, haal die beste uit mekaar. Daar is weliswaar allerlei winsbejag en sinistere magte aan die werk in sport, maar dit neem nie die feit weg dat sport ’n keuse is téén geweld en vír vrede nie.

Waar daar geregtigheid is, groei daar troos en heling. Dit is waar vir sokker en vir samelewings.

Een van die uitstaande kenmerke van sokker is dat daar in hierdie sportsoort nie ’n wegvlug van emosies bestaan nie. Sokker is ’n sport van intense emosie. Emosies soos teleurstelling en hartseer, passie en woede, vasberadenheid en vreugde word spontaan, sonder skroom en getemperdheid, tot uitdrukking gebring. Die emosie van vreugde word sekerlik die heel sterkste uitgedruk. Hierdie vreugde vul ons vir ’n oomblik met lig te midde van soveel donkerte in die wêreld, met ligtheid te midde van soveel swaarkry, met soete Elims te midde van só baie bitter Maras.

Die vreugde van sokker gee ons voorsmakies van ware vriendskap. Vir die bekende Griekse filosoof, Aristoteles, is vreugde die hoogtepunt van vriendskap.

Aristoteles identifiseer drie soorte vriendskap. Mense word vriende omdat die een vir die ander waarde toevoeg. In ’n tweede soort vriendskap voeg albei vriende vir mekaar waarde toe. Die doel van die derde soort vriendskap is om mekaar eenvoudig net te geniet. Sport dra by tot vreugdevolle vriendskap!

Sport is ’n universeel-menslike geskenk wat ons inspireer vir ’n lewe van geregtigheid, vrede en vreugde.

Amper pas ek ’n krieketadvertensie van weleer aan: “I don’t like sport; I love it”.

  • Nico Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Vrede  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.