Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sol T. Plaatje se dagboek ’n kosbare kleinood

Dis by Pdisethlogo in die distrik Boshof van die Vrystaatse Republiek dat Solomon Tshekisho Plaatje op 9 Oktober 1876 gebore word.

Fransjohan Pretorius

Hy word as Christen-Rolong groot by die Berlynse sendingstasie Pniël, naby Kimberley. Hy ontvang onderrig in onder meer Tswana, Engels, Nederlands, rekenkunde en die skryfkuns. Die sendeling Ernst Westphal en sy vrou, Elizabeth, beteken veel vir sy geestelike en intellektuele vorming.

In 1894 word Plaatje aangestel as bode en daarna briewebesteller van die poskantoor in Kimberley. Deur private studie verwerf hy die Kaapse Staatsdienssertifikaat.

Hy raak betrokke by die politiek van die swart gemeenskap en hul vriendskap met Engelssprekende “friends of the natives”, soos Samuel Cronwright-Schreiner (eggenoot van die skrywer Olive Schreiner) en adv. Henry Burton, wat belangstelling in swart politiek by hom aanwakker.

In 1898 trou Plaatje met Elizabeth M’belle, ’n Mfengu-vrou en onderwyseres. Uit die huwelik sou twee dogters en drie seuns gebore word.

Wanneer die Boere Mafeking (vandag Mahikeng) in die Anglo-Boeroorlog in Oktober 1899 beleër, is Plaatje ’n tolk in die militêre hof in die teenwoordigheid van vername Britse offisiere soos kol. Robert Baden-Powell en lord Edward Cecil.

Sy beheer van omtrent agt tale en basiese kennis van nog ’n paar kom hom goed te pas.

Van groot belang is dat Plaatje se dagboek tydens die Boere-beleg sover bekend die enigste swart dagboek uit die oorlog is. Dit gee merkwaardige insig in sy ervarings en denke as intellektuele Afrikaan, maar ook in die gewone swart mense oor wie hy skryf.

In 1902 begin Plaatje ’n joernalistieke loopbaan as redakteur van die eerste Tswana-Engelse weekblad Koranta ea Becoana (“Koerant van die Tswana”) en in 1910 van Tsala ea Becoana (“Vriend van die Tswana”) en twee jaar later van Tsala ea Batho (“Vriend van die mense”).

Plaatje word deur twee politieke kwessies gedryf.

Sy beheer van omtrent agt tale en basiese kennis van nog ’n paar kom hom goed te pas.

Die eerste, dat die Vrede van Vereeniging wat die Anglo-Boereoorlog in 1902 beëindig het, nie die gekwalifiseerde stemreg van die Kaapkolonie na die verowerde republieke uitgebrei het nie.

Klousule 8 het bepaal dat die kwessie van swart stemreg nie beslis sal word tot ná die invoering van selfregering nie – wat beteken het dat dit voortdurend uitgestel kon word.

Die ander was die Wet op Naturellegrondgebied van 1913.

Daarvolgens is die stelsel van deelsaaiery – waarvolgens swart mense wat op wit plase gebly het die helfte van hul oeste aan die wit boere afgestaan het in ruil vir die reg om daarop te boer – verbied. In wese het dit swart mense van kleinboere tot plaasarbeiders verlaag.

Teen dié agtergrond het Plaatje in 1912 met die stigting van die South African Native National Congress (wat in 1923 as die African National Congress bekend sou word) die korrespondensie-sekretaris geword.

Benewens sy boek Native Life in South Africa (1916) en vertalings in Tswana van verskeie Shakespeare-dramas is Plaatje bekend om sy roman Mhudi (1930).

Hy sterf op 19 Junie 1932 en word in Kimberley begrawe – ’n man wat sy rasgenote se belange op die hart gedra het, maar terselfdertyd die agting van alle dele van die bevolking afgedwing het.

  • Pretorius is emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Dagboek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.