Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Solank dit die virus behaag
Anton van Niekerk

Wat omtrent hierdie tyd van inperking irriteer ’n mens die meeste?

Vir sommiges staan maskers voor in die ry van verpestinge wat ons elke dag moet verduur. Ander se velle is al dun geslyt van die ewige handewassery. Om na rugby- of sokkerwedstryde op TV te kyk en geen enkele toeskouer op te merk nie, bring vervreemding. Om jou beste vriend nie regtens met die hand te mag groet nie – ook al het jy hom of haar weke laas gesien – voel amper soos verraad.

Vir my is al dié aspekte van ver­vreem­ding egter nietig voor die enkele ding wat my die ergste in hierdie tyd irriteer, naamlik die onvermoë om te kan beplan.

Soos die ouer geslag Afrikaners altyd geneig was om enige planne wat in die mou gevoer word, met ’n vroom “DV” (Deo volente: as die Here wil) te kwalifiseer, só, lyk dit my, moet ons deesdae alles wat lyk of ruik na ’n plan of voorneme kwalifiseer met die versugting “as die virus dit toelaat”. Dit dryf my teen die mure uit.

’n Mens kan beplan om ’n klas of lesing te gee, maar net as die virus jou nie verban na Teams of Zoom nie. ’n Mens kan beplan om ’n naweek weg te gaan of vakansie te gaan hou, maar ’n gogga en sy verspreiding bepaal of daar iets van sal kom.

Dis eers wanneer ’n mens blootgestel is aan die realiteit van ’n winter-belewenis dat jy ernstig daaroor raak om jou lewe in detail te beplan. So nie, oorleef jy nie.

Sportlui en vermaaklikheidskunstenaars kan hul longe los oefen om by ’n beplande geleentheid normaliteit te herstel in ons vuisvoos gemeenskap – maar slegs as ’n nuwe verpestelike “vlaag” nie weer toeslaan en almal verban na hul woonkamers nie.

As ’n spesie onderskei ons ons van die meeste ander lewende organismes deur ons aandrang op en vermoë tot beplanning. Wat is die kernverskil tussen ’n heuningby en ’n argitek? Albei produseer immers perfek gevormde strukture buite hul eie liggame.

Die vernaamste verskil is dat ’n by, deur niks anders te wees of te doen as “by-wees” nie, die korf help bou. As daar bye is, is daar korwe en hulle lyk almal dieselfde. Nie so met argitekte nie. Die rede? Hulle beplan wat hulle bou. Hulle “trek planne op”, voer ontwerpe uit, kritiseer laasgenoemde en verbeter daarop. Selde lyk twee sulke strukture eenders.

Ons is mense om verskeie redes, maar een van die vernaamste van hierdie redes is dat ons (kan) beplan. Vervloek is hierdie gogga wat ons daarvan wil beroof!

Dis eers wanneer ’n mens blootgestel is aan die realiteit van ’n winter-belewenis dat jy ernstig daaroor raak om jou lewe in detail te beplan.

Sowat 30 jaar gelede het ek die voorreg gehad om te luister na ’n referaat van die vermaarde Afrika-denker prof. Ali Mazrui. Sy tema was waarom dit lyk asof Afrikane se ervaring van tyd so verskil van dié van Westerlinge, soos veral (volgens hom) blyk uit Afrikane se skynbare ongeërgdheid oor beplanning.

Sy antwoord was dat Afrikane se relatief swak ontwikkelde sin vir beplanning voortspruit uit Sentraal-Afrika se gebrek aan die ervaring van winter. Dis eers wanneer ’n mens blootgestel is aan die realiteit van ’n winter-belewenis dat jy ernstig daaroor raak om jou lewe in detail te beplan. So nie, oorleef jy nie.

Inwoners van Sentraal-Afrika ken nouliks winters. Tradisioneel het hulle geleef vanuit die oorvloed wat die aarde bied, op trek agter hul vee aan. Natuurlik het hul omstandighede en belewenisse sedert vervloë tye daadwerklik verander, en is beplanning tans deel van almal se lewe. Maar, en dit was Mazrui se punt, ons is in die moeilikheid as beplanning nie ’n sentrale aspek van ons lewe uitmaak nie.

Dit is verstommend dat ’n virus wat ons klaarblyklik vyandiggesind is, sonder om dit te beplan, ons neiging tot beplanning so daadwerklik in die kiem kon smoor.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Winter  |  Somer  |  Oorlewing  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.