Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Solank dit reën is daar hoop vir môre se dag
Annelie Botes

In die laaste week, en selfs op hierdie dag waar ek hier sit en skryf, het die Oos-Kaap genadige en lewegewende reën gekry.

My werk en my doenlysie het agtergeraak, want kort-kort staan ek voor ’n venster of ek sit op die stoep om na die reën te kyk.

Sedert my kleinjare is ek betower deur reën. Die Kammanassie naby Uniondale waar ek my eerste spore getrap het, was in die 1960’s ’n winterreënvalstreek.

As dit in die Junie-vakansie sousreën en die Kammanassierivier bruis, was my grootste taak om my poppe warm aan te trek en onder my flennielakens neer te lê met ’n warmwatersak. Kort-kort het ek die sak volgemaak uit die ketel wat op my ma se Aga-stoof geprut het.

Tot op deeske dag bring dit my diepe vrede as ons Sarel-kat in reënweer met ’n ingedraaide kop op die sawwe kombers op my bed slaap. Gedurende sulke tye maak ek sy melk louwarm in die mikrogolfoond, en dan gló ek hy kan my bedoelings vertolk.

Droogte is ’n uitmergelende toestand. Dít het Suid-Afrikaners in die laaste jare aan ons velle gevoel. Verbeel jou jy is ’n Karooboer met ’n dam en ’n boorgat wat die gebruikswater van elke dag voorsien.

Volgens internetsomme is dit só dat indien 25 mm reën in een dag oor 1½ km² aarde val, weeg dit 750 miljoen kg.

Maar die veld moet groei, want die diere moet eet. As genoegsame reën maande of jare aaneen wegbly, is dit rugknakkend. Wanneer dit dan op die dor verskroeide aarde uitstort, is dit genoeg om ’n geharde boer te laat huil.

Volgens internetsomme is dit só dat indien 25 mm reën in een dag oor 1½ km² aarde val, weeg dit 750 miljoen kg. Dis ontsaglik swaar en kan die veld soos ’n atoombom tref. Maar omdat dit verspreid en druppelsgewyse val, is dit een van die groot en bykans onbegryplike wonderwerke van die natuur.

Ek weet nie hoe 750 miljoen kg water in die lug bly, hoe dit daar kom, of hoe dit druppels word nie. Maar ek weet dis verdamping en kondensasie. Tog is daar niks eenvoudig aan die fyn verweefde proses van reënvorming nie.

As ’n mens die woorde van Job lees, wat ook ’n grootskaalse boer was, sê hy in Job 5:9: “Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder. Dit is Hy wat reën op die aarde gee; wat water oor die veld uitgiet.”

Dink maar aan die Israeliete wat vir 40 jaar deur ’n ongenaakbare woestyn getrek het. Sonder water uit ’n rots sou hulle nimmer die tiende dag gehaal het nie, laat staan nog die land van melk en heuning.

Reën is nie ’n vanselfsprekendheid nie. Eerder ’n wonderwerk van onskatbare en onbegryplike seën. In ons daaglikse wandel ag ons nie die waarde van reën hoog genoeg nie. Ons kla en is misnoegd en sit opgekrimp soos nat hoenders as dit koud en nat is.

Pleks ons eerder groentesop met skenkelvleis en kluitjies op die stoof kry. En die kosbare popgoed van ons lewens warm toedraai. En ondanks die ongure weer prysliedere sing, soos Job gedoen het.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Droogtehulp  |  Reën  |  Droogte  |  Reënval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.