Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Solank jy die verlede net onthou

My pa was die eerste skoolhoof van die Hoërskool Ben Viljoen, Groblersdal. Onlangs het ek en my uitgebreide gesin weer ’n nostalgiese besoek aan dié dorp gebring waar my ouma en haar tweede man, Dick Engelbrecht, ook vir jare gewoon het.

Prof. Hennie van Coller van Bloemfontein Foto: Verskaf

Kleintyd het hulle ons altyd ingewag by die braamheining met sy stekels. Terwyl ma uitpak en pa en oupa Dick die Mellowwood se prop breek, het ek die foto’s van generaals Smuts en Hertzog gaan bekyk: eersgenoemde verban tot oupa se studeerkamer, want my Nat-ouma kon hom nie veel nie.

Die dorp lyk florerend en die NG Kerk waar ou ds. Schoeman die leraar was tydens ons verblyf, is in ’n pragtige toestand met flinke en vriendelike mense wat ou foto’s en geskiedenisboekies vir ons uitgesnuffel het.

My eerste vyf jaar in Groblersdal bestaan uit herinneringsflitse: van ’n seekoei wat vassit in die grondkanaal; swart mans wat met groot kanne DDT verbete spuit om malaria en die tsetsevlieë hok te slaan; my pa se plotjie met ’n steenmakery, dam en lemoenbome op pad na Loskopdam; vrugtefeeste by ryk oom Karel Schoeman; kerkdienste met die sedige ds. Schoeman aan die woord; ’n sirkus met ’n nar wat sing: “honey bee, honey bee, what have you brought from the hive to me . . .”; reuse-witbrode van Andrews die bakker; uitstappies na oom Chris Wiid se plaas; besoeke aan die Harringtons se garage; die arme dr. Conradie wat moes koes vir my bruin teddiebeer; sementstene wat ek saam met my swart maatjie gemaak het; my futiele poging om met my trapkar, die Jabula, oor die kanaal te vlieg soos die helde elke Saterdag reggekry het in die B-rolprente wat ons getrou bygewoon het; foto’s van kinders wat gesterf het in ’n busongeluk voor teen die saalmuur.

Die geheue is verraderlik. Dinge vervaag of raak verwronge; erger: objekte word verwoes en verdwyn.

In die Nederlandse skrywer Jan Wolkers se roman Terug naar Oegstgeest gaan die hoofpersoon – die outobiografies-getinte “Jan”, in sy gedagtes terug na die dorp Oegstgeest (naby Leiden), waar hy sy jeugjare deurgebring het. Maar dan keer hy ook fisiek terug om telkens die geheue te kontroleer.

Wat hy uiteindelik besef, is dat die geheue verraderlik is. Dinge vervaag of raak verwronge; erger: objekte word verwoes en verdwyn.

Daarom was ek verras dat baie dinge wat ek onthou, tog bestaan het. Soos die grondkanaal en die trap waarteen ’n meisie opgehardloop het met die yslike bak kos wat ek vir die siek kinders gaan vaslê het in die kombuis – hoewel die hoë trap in my geheue nou kleinerig lyk (en die bak seker ook beskeie was).

Wat net weer wys hoe ook jou perspektief verander met tydsverloop.

Spoorsny na die verlede laat jou besef dat spore heenwys na objekte wat afwesig is en slegs as herinneringsbeelde onaangetas sal bly bestaan.

Solank jy kan onthou.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Verlede  |  Herinneringe  |  Onthou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.