Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Solank ’n mens kan droom is als reg, of hoe?

Miskien moet ek jou van my droom vertel, sê hy, en vryf met sy hand oor sy ongeskeerde wange.

Dis ’n Dinsdagoggend, en hy sit in ’n kroeg op ’n dorp in die Karoo waarvan ek die naam liewer nie gaan noem nie.

Dana Snyman.

Ek hys my tot op die hoë stoeltjie langs hom by die toonbank. In die hoek, skuins onder die pyltjiebord, veg ’n waaier moedig teen die hitte.

Wat drink jy? vra hy, en hou ’n hand vol skrape na my uit. Ek’s Willie. Aangenaam. Maak dit ’n bier, sê ek. Black Label.

Ek skat hom iets verby 60. ’n Kakiehemp met twee knope wat makeer. Moeë oë.

Ellatjie, bring vir hierdie man ’n Black Label! roep hy na die kroegmeisie.

’n Paar stoeltjies van ons af sit twee ander manne krom oor hul glase – een met ’n bleekgeswete John Deere-pet op die kop.

Wil jy regtig hoor? Hy kyk so skuinserig, byna verleë, na my.

Ek is op pad die binneland in en het net vir ’n vinnige iets koud hier stilgehou. Vertel, sê ek. Hy trek eers ’n kring met sy glas oor die toonbank voor hy begin praat.

Ek droom eergisternag ek lê op die plaas en slaap, sê hy. Op die bed, daar waar ek en my vrou elke nag slaap, daar lê ek. In ons kamer.

Hier klop iemand aan die voordeur. So ’n dringende klop. Ek spring op, en soek my skoene, maar kry nie die goed nie. Intussen bly die een daar voor klop. Kwa! Kwa! Kwa! Ek besluit, los die skoene, en gaan sommer so in my slaapbroek voordeur toe. Gang-af . . .

Hier agter hom staan my Isuzu, my plaasbakkie, en hy sê dieselfde vir my: Ons kom groet jou net . . .

Hy gee my weer daardie verleë kyk. Wil jy verder hoor? Ek knik.

Ek gaan maak die voordeur oop. En hier staan my ou Thames Trader-lorrie voor die deur – die een wat al jare stukkend langs die stoor staan.

Dit was nog my oorle’ pa s’n. En hy praat met my, daai Thames. Ons kom groet jou net, sê hy.

En ek stap so om, en hier, agter hom, staan my Isuzu, my plaasbakkie, en hy sê dieselfde vir my: Ons kom groet jou net.

En ek kyk so, toe staan daar ’n ry goed oor my werf, verby die vrugteboord, af in die pad.

Agter die bakkie staan my baalmasjien, en ’n ent verder, agter een van my Lister-enjins, staan ’n windpomp, die ou Climax wat die dam by die skaapkraal vol hou.

Ek stap na hom toe. Dieselfde storie. Ons kom groet jou net, sê die windpomp. Ek stap met die ry af. Die trekker. Die sleepwa. Hulle kom groet my net, sê hulle.

Toe sien ek dit: Heel agter in die ry staan my vrou, met ’n paar koffers by haar. Hy raak stil en vryf en vryf weer oor sy ongeskeerde wange.

Die man met die bleek John Deere-pet kyk in ons rigting. Nou wat praat jy weer so baie vandag, ou Willie? vra hy. Ek vertel hom net van my droom, sê Willie.

Minstens het jy nog ’n droom, sê die man met die bleek John Deere-pet en vat na sy glas. Hulle sê as ’n mens nie meer kan droom nie, is als verby vir jou.

Meer oor:  Meningsberig  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.