Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soms draai skuilname jou ’n rat voor oë
Hennie van Coller

Ek het nog altyd ’n broertjie dood aan briefskrywers wat onder skuilname briewe aan koerante skryf. Dalk omdat anonimiteit dikwels benut word om ongebreidelde aanvalle op instansies – én mense – te loods.

Onlangs was daar heelwat korrespondensie hieroor in brieweblaaie. Van die argumente (soos dat openbaarmaking van jou identiteit sou kon lei tot allerlei vorme van verdagmakery en self viktimisasie in die werkplek) is oortuigend. Ook die stelling dat die inhoud van ’n brief belangriker is as die identiteit van die skrywer, hou oënskynlik water. Oënskynlik, want heelwat briewe is wydlopig, oppervlakkig en persoonlik. Anders as baie lesers wil ek weet wat die skrywer se “papiere” is, en dit behels meer as die blote uitstal van titels. Maar ek heg nou eenmaal meer waarde aan Theuns Eloff se ontleding van die politiek as aan dié van “Dwarstrekker” van Heilbron. Insgelyks weeg Naas Botha se rugbyontleding vir my swaarder as die menings van “Rugbyliefhebber” van Reitz.

Wat ek wel geniet, is die verskeidenheid van skuilname wat dikwels heelwat verklap van die skrywer: “Gat teen die juk” wek nie dieselfde verwagting as “Lydsame Moeder” nie.

Skuilname in die literatuur is ook ’n verskynsel waaroor ’n studie geskryf sou kon word. Veral nou waar die vroeëre bykans afwesige mens-agter-die-boek nou skielik die kollig betree.

“Boerneef” impliseer reeds iets van ’n hunkering na die plaas, ontheemding in ’n stadsruimte en ’n soeke na identiteit in volkskuns.

Letterkundiges soos N.P. van Wyk Louw en T.T. Cloete het skrywers en hul persoonlike geskiedenis as irrelevant vir boekinterpretasie en -evaluering beskou. Hulle sou ril as hulle vandag die skrywer as openbare figuur moes belewe: gaste in sepies en op besprekingsprogramme; aanbieders van kookkursusse en TV-programme. ’n Skrywer se “postuur” berus deesdae nie net op wat hy of sy neergepen het nie, maar óók op hul voorkoms, sportmotors en uitrustings. Selde word besef dat ook skuilname ’n onmiskenbare rol speel in die wyse waarop ’n skrywersbeeld tot stand kom.

“Boerneef” impliseer reeds iets van ’n hunkering na die plaas, ontheemding in ’n stadsruimte en ’n soeke na identiteit in volkskuns. Boerneef se “rympies” is aanvanklik geringskat en gesien as vingeroefeninge van ’n kunskenner, woordeboekmaker en professor in die letterkunde.

“Kleinboer” wek konnotasies van “uitgeboer”; iemand bykans verlore tussen die leenhere, maar met die verlange om steeds ’n akkertjie te bewerk, onverswak. Al is dit in jou agterplaas in Yeoville. Kleinboer se redelik grafiese verslae van sy seksuele eskapades het vir baie literatore gelyk na ’n parodie van die Afrikaanse roman, sonder om die nostalgiese verlange na die agrariese in sy werk raak te sien.

Onlangs is “Lodewyk G. du Plessis” bekroon – ’n egte, manlike Afrikaanse skrywersnaam, sekerlik na sy oupa vernoem, sou jy dink. Gaan lees Die dao van Daan van der Walt om agter te kom hoe skuilname jou soms ’n rat voor die oë draai en verwagtings deurbreek.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Skuilname  |  Skrywers  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.