Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soms huil ’n dokter, of vloek

‘Dit spuit my papnat!”

Barend de Vos
Barend Vos

Dit is die dokter op ons dorp se grappie gewoonlik wanneer jy, kleinserig tot in jou kleintoontjie, jou gesig by voorbaat op ’n plooi trek as hy met die spuitnaald nader staan.

Maar hy is heel handig met daardie gevaarlike implement en hy benader sy doodbang pasiënt (amper sê ek slagoffer) met groot deernis. Voor jy jou kom kry, is die ergste oor en verby.

Maar ek vermoed ons dokter dra in hierdie dae ’n swaar las.

Verlede week by die Bybelstudiegroep, uit die bloute, begin oom Cor stof opskop oor hoe kortaf die man met hom was toe hy wat oom Cor is, hom bel om iets te bespreek.

Dit het my nogal verras; dit is nie soos ek ons dokter ken nie.

Maar soos dit moet wees, was dit toe gister my beurt om deur te loop. Ek moes ’n roetine-inspuiting kry en het soos gewoonlik ineengekrimp en my gesig getrek en op my tande gekners – en toe kom daar géén “dit spuit my papnat”-grappie nie. Daar was wel, dit kan ek sweer, ’n geïrriteerde frons op die geneesheer se gesig.

Later, nadat ek my ergste kinderagtige gebelgdheid afgeskud het, stuur ek ’n WhatsApp: “Ek wil maar sê ek bid vir jou, dokter, vir jou en jou huis. Julle leef onder onmenslike druk.”

Minute later bel hy my, en hy begin praat. En hy praat en praat en praat.

Hy praat soos ’n mens wat oplaas ’n oor gevind het waarin hy kan kla, kan huil, soms kan vloek.

Hy kan nie oor hierdie dinge met sy vrou praat nie, sê hy. Sy dra reeds so swaar, sy moet boonop die kinders beskerm.

Hy praat daardie middag met my oor mense se onbegrip, oor hulle skeptisisme en hulle agterdog. Oor doodgewone boeliegedrag by diegene van wie hy dit die minste sou verwag.

Hy praat daardie middag met my oor mense se onbegrip, oor hulle skeptisisme en hulle agterdog. Oor doodgewone boeliegedrag by diegene van wie hy dit die minste sou verwag.

“Kyk, dominee,” sê hy iewers in daardie lang amperse monoloog, “as ek met my geloof sukkel, kom spreek ek jou. As ek my testament wil verander, maak ek ’n draai by die prokureur. Maar sê jý nou vir my hoekom mense – intelligente mense, goeie mense, kerkmense, van my jare lange pasiënte – wat deesdae vrae oor die mediese wetenskap het hulle tot Facebook en WhatsApp-groepies wend en daar hulle antwoorde vind.

“En dan bel hulle my of stuur ’n boodskap waarin hulle my meedeel dat die mediese wetenskap met foefies besig is en dat alles een groot geldmaakspulletjie is.

“Ek het nog nooit soveel kwaadwilligheid in so ’n kort tydjie teëgekom nie,” het hy bygevoeg, en die verslaentheid was hoorbaar in sy stem.

Ek het probeer skerm: “Mense is onseker, hulle is bang.”

Hy het my kortgeknip: “Is vrees dan ’n alibi vir onbeskoftheid?”

Gisteraand by ons Bybelstudiegroep praat ons toe oor die vooruitgang in die mediese wetenskap.

“Ons het mos al gesels,” onthou Christo, “oor die maansiek-kind. En oor Petrus se skoonma met die koorsduiwel.”

Oom Cor val stroopsoet in: “Nou weet ons van epilepsie en van . . . sommer net plein koorsigheid.”

Johan vertel van sy oorlede oudste broer wat ’n dokter was: “Toe hy gestudeer het, was daar nog nie iets soos antibiotika nie. Die dokters moes destyds almal met penisillien gesond kry en baie pasiënte was allergies daarvoor. Húlle moes maar net doodgaan, het hy altyd gesê. Goddank vir vooruitgang.”

Toe maak ek my Bybel oop en sê: “Kom ons praat dan vanaand oor die Groot Geneesheer en die geneeshere wat Hy aan ons geskenk het.

“En oor die Skepper van die wetenskap en die lig wat Hy in dié dae vir ons maak.”

  • Vos is die skrywer van Uit die Beek.
Meer oor:  Druk  |  Spanning  |  Boelie  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.