Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soms nodig om troosgoed te laat gaan
Annemarie van der Walt

’n Mens raak mos maar gewoond aan jou goeters, al het dit ook geen nut nie. Daardie krom kershouer waarvan die was drup op tafels, jou eerste gereedskapstrommel waarin slegs drie skroewedraaiers en ’n hamer pas en die skewe mandjie waaruit als foeter is niks anders as trooskombersies nie.

Dis soos om vir jare lank saam te leef met ’n deurhandvatsel wat net met ’n baie presiese krink in jou pols daarop saamwerk – jy raak blind daarvoor en leef met die gebreke.

Tot die dag wat iemand met vars oë deur jou plek stap en ongemaklike vrae vra oor jou hou-goed en lakse onderhoudswerk. “Die voëlhok . . . hoe lank staan die ding al daar?” vra die oudste tydens ’n kuier en nadat sy, soos kinders maak, die yskas reg gepak en bestek opgeneem het van die ouerlike huishouding.

“Ag, dit was net nou die dag . . .” is my verweer wat summier kortgeknip word: Dis járre, en die hok moet waai as dit nie gebruik word nie. Ek wou nog verduidelik dis soms asof ek oorle’ Kokkie steeds kan hoor. “Onthou jy hy kon ‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’ fluit?” Sy knik onsentimenteel: “Toe vrek hy.” En wel kort nadat hy die eerste note van “Kent gij dat volk” baasgeraak het, my droom van ’n gebalanseerde bewussyn oor politiek en geskiedenis in ’n voël aan flarde.

Sy dink, verklaar die oudste met ’n wye armswaai, ons moet ’n thrift sale hou. Ek soek nog na ’n Afrikaanse ekwivalent, maar voordat ek “spaarsaamheidsverkoping” kan spel, moet ek bontstaan.

Die televisie? Ja, dit ís reeds nege jaar net vir DVD’s (“O, die oude doos! Showmax, Netflix!”) en dan moet ek die ding uit die hoek skuif en die mat halfpad oprol voordat ek my sit kan kry op die bank. Die banke? “Ma het nog nooit van die kleur gehou nie.” Dis gekoop in my sindelike fase, mompel ek, en omdat julle kinders met vuil voete oor als geklim het.

Sy dink, verklaar die oudste met ’n wye armswaai, ons moet ’n thrift sale hou.

Die rooi kussingoortreksels, die oranje dit en die blou dat? Dit was als impulsiewe aankope om die einste sindelikheid hok te slaan en ek glo daaraan soos Audrey Blignault oortuig was rooi lipstiffie verhef jou siel.

So bereik die reistas met net een wieletjie, die horlosie sonder wysters, die leë prentrame, ’n ongebruikte laaikas, vier ou toksakke, drie eierspane en wat nog als finaal rommelstatus en beland in die motorhuis.

Teen my sin raak ek tog meegevoer en dag so tussendeur die weg- en uitdraery dis pure vryheid, dié ontslae raak van belemmerende en gewaande troosgoed.

Die huis is stil. Ek gaan soek my kruisvarende aanvoerder en kry haar in haar kamer omring met skoendose vol ou briefies; ’n gunsteling-speelding of twee uit haar kinderjare.

Ek draai weg, gaan haal die gereedskap wat nodig is om solank die simpel deurhandvatsel reg te sien. Dis moeilik genoeg om te kies wat moet in en uit ’n lewe: Ek kan ten minste iets loop doen aan die deur.

Meer oor:  Menings  |  Besittings  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.