Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sona, maar tog so ver, Cyril

Die ligpunt van die staatsrede – ironies genoeg – was pres. Cyril Ramaphosa se aankondigings oor Eskom, terwyl die EFF ons weer gewys het hoe lyk beurtkrag in politieke formaat. Wat ’n frustrasie!

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Met laasgenoemde se ploertagtige ontwrigting van die verrigtinge het dié spannetjie bullebakke gewys hulle is steeds in die duister oor die werkinge van ’n grondwetlike demokrasie.

Laat Dawie eers sê die situasie is veel beter gehanteer as toe Jacob Zuma president was, maar die probleem is dat die indruk gewek is dat die verbetering deur Ramaphosa se toedoen was.

Zizi Kodwa het byvoorbeeld tydens die opskorting van verrigtinge van regeringskant gesê Ramaphosa sál voortgaan om sy staatsrede te lewer – iets waaroor alleen die voorsittende beamptes kan besluit.

Die punt is dat die parlement nie beter funksioneer omdat ons ’n beter president het nie – die parlement moet altyd so funksioneer om die president (en die res van die regering) verantwoordbaar te hou – soos wat die Grondwet voorskryf.

Die werking van die parlement is bepaald iets wat dringende aandag verg (insluitend beduidende boetes vir die ontwrigters) maar dis ’n onderwerp vir ’n ander dag.

Terug dan eers na die inhoud van die staatsrede (Sona) voordat die EFF ook Dawie se rubriek ontwrig. Sona, maar tog so ver, is die oorweldigende gevoel waarmee Dawie vandag sit.

Dis bemoedigend dat Ramaphosa deur praktiese stappe aangetoon het dat hy weet wat nodig is om die Eskom-krisis om te keer.

Die groot vraag is egter of Ramaphosa en sy ministers vir André de Ruyter, die uitvoerende hoof van Eskom, genoeg politieke dekking gaan gee sodat hy kan doen wat nodig is – insluitend afleggings om koste te bespaar. In dié verband is die regering se onbehoorlike inmengery by die SAL-sakereddingsproses bepaald nie ’n goeie teken nie.

Hy sal dus sigbaar en van voor af moet lei om sy eie party te reinig en te herbou, want uit die remmende rommel van die Zuma-era kan niks nuuts staangemaak word nie.

Ramaphosa se eerlikheid oor die stand van die ekonomie en die enorme probleem wat staatskuld skep, was eweneens bemoedigend. Hy weet kennelik maar te goed dat finansminister Tito Mboweni se ekonomiese plan die regte koers is om in te slaan.

Juis omdat Ramaphosa se staatsrede so ’n sterk ekonomiese fokus gehad het, sal alle oë nou op Mboweni wees om te sien hoe hy vleis aan die bene van die staatsrede gaan sit.

Voorheen het Ramaphosa en Mboweni byvoorbeeld verwys na die noodsaak om “ongewilde besluite te neem”. Maar neem die land nou in vertroue oor wat hierdie besluite is en wanneer hulle geneem sal word.

Sekerlik het dié besluite al in Ramaphosa se gedagtes vorm aangeneem? Sluit dit in die politieke wil om die vakbonde se mag te breek sodat die ekonomie en die onderwysstelsel nie meer gyselaar gehou gaan word nie?

Sluit dit afleggings in om die staat se enorme salarisrekening te besnoei? Dawie wag met ingehoue asem op die begrotingsrede van 26 Februarie.

Wat ons dan bring by ’n ander netelige sakie – die interne stryd in die ANC. Feit is dat indien Ramaphosa sy reg­rukplanne momentum wil gee, hy mense soos Ace Magashule en ander opdrifsels van die Zupta-era oortuigend sal moet verslaan.

Ramaphosa kan dit nie vir ewig uitstel om tot dié geveg toe te tree nie, want veral op ekonomiese gebied loop die uurglas ál vinniger leeg.

Hy sal dus sigbaar en van voor af moet lei om sy eie party te reinig en te herbou, want uit die remmende rommel van die Zuma-era kan niks nuuts staangemaak word nie.

Dit sal bepalend wees in die vraag of Ramaforie toe eintlik ’n Ramasprokie was wat nooit waar geword het nie . . .

Meer oor:  Dawie  |  Staatsrede2020  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.