Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sona was teater van weerstand

Ironie, parodie en tragikomedie lê ons agterveld vol én is ons voorland.

Donderdagaand se staatsrede (Sona)-spektakel het getoon hoe erg die tuig kan skawe as ’n koloniale koets aan ’n weerbarstige, vertonerige hings vasgemaak word.

Ná hul uitsprake vooraf was die vraag nie óf die EFF-rooiberette onmin sou saai nie, selfs nie waaroor nie, maar slegs hoe gou hulle op hul voete sou kom om die speaker se kalmte te verstoor. Soos Thandi Modise die gordyn op die aand se verrigtinge op gedrae toon wou oopkatrol, was Julius Malema die eerste onder die rooigetooides om teatraal kapsie te maak. Met oë wat vlam en ’n stem wat skeur.

En só is ’n rits gewaande prosedurele besware, die een kort op die hakke van die ander, uit die geledere van die EFF na die speaker gekartets.

Enkele dae nadat die kortlyste vir die Fleur du Cap-teaterpryse bekendgemaak is, was dit ’n stuk fyn afgerigte pantomime.

Al had etlike van die beswaarmakers die parlementêre reëlboekie in die hand, dikwels so voosgeblaai soos ’n matriekhandboek op die vooraand van die groot eksamen, het die onderskeie besware selde by die letter van die aangehaalde reël gepas.

Wat die gees daarvan betref, was daar sonder uitsondering ’n reuse- ironiese kloof tussen die reël en die gedrag wat onder skoot was. Die reëlboek rig immers prosedure. Die beswaarmakers had dit oor Groot Politiek, vernaam Pravin Gordhan se volsit van die openbareondernemings-ministerstoel.

Vir iedereen met selfs net ’n bietjie wêreldkennis was dit oombliklik duidelik dat die reëls waarop die EFF-lede so puntenerig én parmantig gestaan het, juis óók in hul visier was.

Dat hulle “beswaarde Genis”-houding sellofaanbedekte parodie was. Dat dit inderwaarheid die einste werkswyses, gewoontes en beleefdhede van die uit-Londen-ingevoerde-parlement – die olie wat haar ratte laat draai – was wat in die spervuur was. Enkele dae nadat die kortlyste vir die Fleur du Cap-teaterpryse bekendgemaak is, was dit ’n stuk fyn afgerigte pantomime.

Die kostuums – mynwerker-oorpakke vir die mans en huisbediende-jurke vir die vroue – is al op verhoë die land oor gebruik. Die toeskouer se oog beweeg gou oor die ragfyn sy en satyn. Asof deur ’n magneet, word dit na die groot spatsel rooi getrek.

Soos karakters in ’n Ionesco-verhoogstuk, was die Rooies goed ingeoefen.

Soos karakters in ’n Ionesco-verhoogstuk, was die Rooies goed ingeoefen. Hul woorde en karakterisering had hulle netjies in pag. Nóú was dit ’n man wat ’n vuvuzela-beurt had, dán ’n vrou.

Oraloor was die skyn van uiterste, letterknegtige erns oor die instandhou van die reëls – terwyl die geheel vinnig in ’n reddelose chaos verval.

En tussendeur, om die waaragtigheid van die drama nog verder te ironiseer, kom die rysige oud-akteur Fana Mokoena orent. Ook hy speel die rol van ’n diep beswaarde, reg onder die oë van oudpres. Thabo Mbeki. In die fliek Mandela: Long Walk to Freedom (2013), het Mokoena die rol van sy pa, Govan Mbeki, vertolk.

En al was die EFF se vertoning derhalwe ’n stuk pryswennerteater, was dit soos ’n André Rieu-konsert veral gerig op die baie wat nie vir ’n fluweelsitplek in aanmerking gekom het nie, maar by die huis moes inskakel.

Vandaar dan ook dat die vertoning nie veel langer as ’n uur kon duur nie. Ná hul teaterstuk – kort op die hakke van ’n vinnige pouse – ’n dramatiese klimaks bereik het, is hulle flink vort. Dis asof die bloed toe uit die verrigtinge geloop het. In hul vaarwater het ’n vergadering gedempte parlementslede agtergebly. Die trompette was stil, maar ’n mens se ore het nog gesing.

Die EFF wil sodoende sê dat die parlement – die alewig beleefde gepraat – ’n koloniale oorblyfsel is. Dat dit nie hiér hoort nie. Dís die gevaarlike boodskap, so sê die studiegids, van hul oproerige weerstandsteater.

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Eff  |  Politiek  |  Sona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.