Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonder enige oortollighede die nuwe jaar in
Aniki
Aniki Joseph

Sonder enige oortollige bagasie. Só vertrek ons uit Kaapstad. Vier grootmenslywe in ’n studentemotor met ’n sondak en ’n bagasieruim kleiner as ’n vuurhoutjiedosie. Daar is net plek vir een tas, ’n skoensak en ’n sakkie met toiletware. Ons reis lig.

Die eerste afklim is op Evita se Perron in Darling. Ek neem ’n selfie tussen ’n turkoois koei met kolle en ’n hemelhoë kaktus in Tannie se Tuin, verloor myself in Boerassic Park tussen karikatuurstandbeelde van politici van weleer en van onlangs. Vind die pad terug tot onder fotorame met rooi rose waarop geskryf staan: Wat is ’n huis sonder ’n moeder? Wat is ’n huis sonder ’n vader? Inderdaad.

Vlak verby Vredenburg, skuins voor Paternoster, staan ’n vuisvoos windpomp. “Moertoegepomp”, lees die naamplaat onder die geroeste windpompwiel met skaars drie lemme en ’n voëlnes daarin. Motoriste stop, neem foto’s en skaterlag uitbundig. Humor is goeie medisyne.

Sewe dae en sewe nagte op ’n plek genaamd “Onse Vader”, is so naby as wat jy kan kom aan hemel op aarde! Asuur lig, spierwit huisies en roeibote. Hier leef mens en natuur in harmonie met mekaar. Geen kettingwinkels, geen verkeersknope. Meer as 300 jaar gelede het Paternoster bekend gestaan as St. Matinusbaai. Die gebied was destyds ryk aan ghwano, pikkewynkolonies, seekoeie, luiperds en Weskus-kreef. Weens die uitputting van kreefreserwes in die gebied word die bestuur van die oorblywende voorraad en die ontwikkeling van akwakultuur streng toegepas. Dit is ook hier waar die bekroonde Wolfgat-re­staurant vandag witgekalk tussen duineplante sorgsaam met die natuur omgaan.

Daar staan geskryf dat ’n mens se goedheid en jou sonde jou medemens raak.

Sononder die laaste aand in Paternoster staan ek kaalvoet op die strand. Branders breek in skuim om my enkels. Ver bokant die golwe se gedruis hang ’n sekelmaan en die aandster. Daar staan geskryf dat ’n mens se goedheid en jou sonde jou medemens raak. Dat mens nie aanhoudend moet terugkyk nie, maar ook tog padwysers sal oprig. Ek dink oor dit alles . . . Dan vang my oog die vuurtoring. Soekend en draaiend vind die lig ook vir my. Op ’n strand in Paternoster.

In Kaapstad snuffel ons die Slap Snoek-restaurant uit. Daar sit ons kompleet soos Kaptein en Gadija van Sara se geheim. Smul tydsaam aan die vis en slaptjips met sout en asyn op waspapier in ’n kartonboksie. Dit smaak na Suidooster en die see. Nes dit moet. Oorvloedig in eenvoud.

Gedurende die vakansie ryg ek daagliks helder krale aan ’n dun leerstringetjie. Ek gee elke kraal ’n naam en beloof myself om dit gereeld te dra. Om myself te herinner om lig te reis, ouerskap te waardeer, humor nie gering te skat nie, in harmonie met my medemens en die aarde om te gaan en eenvoud te koester.

Met erkenning aan Freda Schoeman, stuur ek vandag vir elkeen ’n blyweesboodskap vir 2020 wat geluk in jou mag oopbreek en vrede soos ’n posduif op jou dak laat sit.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Paternoster  |  Herinneringe  |  Nuwe Jaar  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.