Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonder genoeg skole gaan chaos voortduur

Groot chaos het vanjaar met die registrasie van leerlinge by Gautengse skole geheers en ouers gaan naels kou totdat daar genoeg skole is, skryf Paul Colditz.

Lesufi se ry: Ouers wie se kinders nie plek in skole gekry het nie, staan tou voor ’n kantoor van die onderwysdepartement. Foto: Deaan vivier

Daar is 23 076 openbare skole in Suid-Afrika. Daarvan is 2 071 in Gauteng. Kyk ’n mens ’n bietjie dieper na die werklikhede in die land, kan ’n mens verstaan waar die jaarlikse krisis vir ouers en kinders met toelating tot skole in Gauteng vandaan kom.

Die tabel hierby toon die volledige prentjie van die getal en verspreiding van skole en leerlinge in alle openbare skole in die land.

Die probleem is onmiddellik duidelik: In Gauteng moet skole veel meer leerlinge akkommodeer as in ander provinsies. Laat ’n mens Gauteng se getalle buite rekening in hierdie oefening, dan is die gemiddelde besetting per skool in Gauteng 1 039 teenoor 554 in die res van die land. Die statistieke toon ook dat die Wes-Kaap volgende aan die beurt is met probleme vir leerlinge en ouers as dit kom by beskikbare plekke in skole.

Toegegee, baie van die meer landelike provinsies het klein skole wat in uitgestrekte gebiede geleë is. Dit is natuurlik nie in Gauteng met sy hoë bevolkingsdigtheid en relatief klein geografiese omvang van toepassing nie. Steeds is dit egter nie die volle verhaal nie. Gautengers het te kampe met ’n probleem wat ’n lang aanloop het.

Te min skole

Die vraag is hoe hierdie probleem in Gauteng ontstaan het en of dit voorsienbaar was. Die antwoord is weer in die statistieke.

In 1999 was daar 1 900 openbare skole in Gauteng wat aan 1 569 423 leerlinge onderrig verskaf het. Dus, ’n gemiddelde besetting van 826 leerlinge per skool. Sedertdien tot in 2019 het die getal skole met 171 vermeerder, maar die getal leerlinge met 581 672. As die gemiddeld van 1999 van 826 leerlinge per skool as norm gebruik sou word, beteken dit die getal skole in die provinsie sou met ’n enorme 704 moes vermeerder het en nie ’n skamele 171 nie.

Geen beplanning

Die waarskuwingstekens van wat met skoolgetalle in Gauteng gaan gebeur, was al twee dekades lank sigbaar en akuut, maar is geïgnoreer.

Nog elke jaar groei die bevolking in Gauteng weens instroming van mense uit ander provinsies en lande op soek na ’n beter lewe en geleenthede. Dit is immers, soos die naam aandui, die plek waar goud te vinde is.

Politici en beplanners wat hul oog op die bal gehou het, sou hierdie probleem sien aankom het. Plaaslike owerhede het egter nie in die immer groeiende hoëdigtheidsgebiede plek voorsien waar skole gebou kon word nie; die provinsiale tesourie moes die geld voorsien; die departement van openbare werke moes die geboue oprig en die departement van onderwys moes die beplanning doen.

Die Skolewet plaas die verantwoordelikheid op ’n provinsiale LUR vir onderwys om voldoende skole vir leerlinge in daardie provinsie te voorsien uit geld wat vir dié doel deur die provinsiale wetgewer bewillig moet word. Dit is nie die individuele skole, hul beheerliggame of skoolhoofde se verantwoordelikheid nie, maar hulle en die kinders in hul skole moet die spit afbyt vir die politici en burokrate se versuim.

Die huidige LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, word gereeld oor die probleem oor die kole gehaal, maar hy was nie alleen aandadig nie. Maar wat wel waar is, is dat die statistieke Le­sufi nie vlei nie.

Met gebruiklike basuingeskal het hy ’n jaar gelede aangekondig dat 43 nuwe skole teen Maart 2019 geopen sou word. Vir 2019 alleen sou dit een skool per week wees. Volgens Lesufi was dit die resultaat van ’n projek wat reeds in 2014-’15 van stapel gestuur is.

Die amptelike statistieke vertel egter ’n gans ander verhaal. In 2018 was daar 2 077 openbare skole in die provinsie en nou is dit 2 071. Dit is dus in werklikheid ses skole minder.

Nog meer verstommend is juis die datum 2014 toe hierdie projek volgens Lesufi aangepak is. Toe was daar 2 070 skole in die provinsie.

Regtig, mnr. Lesufi? 43 nuwe skole?

Ouers moes toustaan 

n Klompie jare gelede was toustanery van ouers voor Gautengse skole ’n algemene gesig wanneer die registrasieproses vir die volgende jaar begin het. Dit was nie net weens ’n tekort aan skole nie, maar ook weens desperate pogings van ouers om in voorkeurskole plek te kry.

Vir dié toustanery moes ’n oplossing gevind word. Dit kon nie ’n eenvoudige oplossing wees nie, want deel van die rede vir die toustanery was juis ook die behoefte en strewe van ouers wat aan hul kinders die beste opvoeding wil gee. Beste opvoeding beteken ook nie net klasonderrig nie. Dit is ook die vele buitekurrikulêre aktiwiteite wat baie skole aanbied wat vir kinders hoop op ’n beter toekoms skep.

Die aanlyn registrasieproses

Onder leiding van Lesufi is die aanlyn registrasieproses eensklaps in werking gestel. Dit moes die toorstokkie wees wat die probleem sou oplos. Die probleem is egter dat beter benutting van tegnologie nie meer skole uit die kuberruim laat verskyn nie. Al wat in werklikheid gebeur het, is dat ouers van fisiese toue by skole verplaas is na digitale toue.

Dit het ook daartoe gelei dat ouers nou makliker by gesogte skole kon aansoek doen.

Skole met plek vir 300 leerlinge kry aansoeke van duisende nuwe aspirant-leerlinge.

Die LUR is gewaarsku en gevra om die stelsel eers te toets deur dit gelyklopend met die gewone aansoekproses en stelselmatig te implementeer.

Hy het egter nie geluister nie. Die gevolg was en is steeds katastrofies. Tegniese gebreke wat vermy kon gewees het, kom steeds voor en elke jaar is daar ’n nuwe tegniese of programmeringsfout.

Sentralisering

Iemand wat die bestuur van groot stelsels ken, sal verstaan dat die geheim van suksesvolle bestuur daarvan daarin geleë is dat die lokus van gebruik en bestuur daarvan tot op die laagste vlak afgewentel moet word – daar waar die regstreekse kontak is met mense wat daardeur geraak word, en waar die uitwerking daarvan aan eie lyf gevoel word. Dit moet by die skole self bestuur kan word, maar nee, die aanlyn registrasieproses sentraliseer alle magte en bevoegdhede in die hande van ’n handjievol burokrate wat besluite oor duisende ouers en kinders se toekoms moet neem.

Die gevolg was onder meer dat honderde ouers met hul kinders by skole in die noorde van Pretoria opgedaag het onder die indruk dat hulle toelating tot daardie skole gekry het. Volledige stelle skoolklere is selfs vir die kinders aangekoop want, wat hulle betref, het die stelsel vir hulle gesê “accepted”.

Wat hulle nie verstaan het nie en wat die skole nie vir hulle kon sê nie omdat die skole nie seggenskap daaroor gehad het nie, is dat “accepted” bloot beteken hul dokumentasie is aanvaar en nie dat hul kinders by die skole ingeskryf is nie.

Soos ons maar in Suid-Afrika gewoond geraak het, het protes en politiekery oorgeneem en was selfs ’n hofbevel nodig om orde te herstel.

Volgende jaar en elke jaar daarna gaan ouers in Gauteng naels kou – totdat daar genoeg skole is.

* Colditz is uitvoerende hoof van Fedsas (die Federasie van bestuursliggame van Suid-Afrikaanse skole.)

Meer oor:  Registrasie  |  Chaos  |  Leerlinge  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.