Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Akademie se strategie oor prys lafhartig

Die omstredenheid oor die toekenning van die Deleen Bekkerprys aan Christiaan Olwagen, waaroor Rapport verlede week berig het, is onsmaaklik. Ongelukkig is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die beoordelaars, nie onskuldig aan hoe sake verloop het nie. Hulle moes die debakel voorkom het. By gebreke daaraan moet hulle nou meer doen om die verwarring op te klaar.

Luidens ’n mediaverklaring vroeër vanjaar, steeds te lees op die Akademie se webblad, word die prys toegeken vir “die beste draaiboek vir ’n rolprent in Afrikaans”. Só is die prys ook in 2013 aangekondig toe dit ingestel is. Of dit bedoel is vir oorspronklike draaiboeke of draaiboekverwerkings, of vir enige van hierdie moontlikhede, is nooit uitgestippel nie. Dit was die eerste fout.

Die tweede fout was die slordige bewoording van die mediaverklaring. Enersyds verklaar dit dat die prys toegeken word vir die draaiboek van die rolprent Johnny is nie dood nie. Die sterk rolverdeling en uitstekende ensemblespel word egter ook genoem, met die rolprent pleks van die draaiboek wat bestempel word as “historiese en artistieke mylpaal binne die Afrikaanse film-kanon”.

Prof Martin Botha, filmkenner van die Universiteit van Kaapstad, meen luidens berigte die beoordelaars moes duideliker aangedui het dat die toekenning “vir die visuele interpretasie van die oorspronklike teks asook vir die regie was”. Maar is dit so? En indien wel, is dit nie dalk in stryd met die reglement nie? As die beoordelaars sommer goedsmoeds die reglement oorboord gegooi het, sou mens kon argumenteer dat ook dít ’n fout was.

Niemand argumenteer dat ’n draaiboek oorspronklik moet wees om bekroonbaar te wees nie. Daar is ook geen sprake van plagiaat nie.

Dus: Tot tyd en wyl die beoordelaars dit duidelik stel dat die prys toegeken is vir regie pleks van die draaiboek, en kan bevestig dat só ’n besluit met die reglement strook, moet mens aanvaar dat hulle die draaiboek bekroon het. In die lig van die bekgeveg wat losgebars het, moet die beoordelaars bereid wees om prontuit te verklaar dat hulle seker is die draaiboek is die werk van Olwagen en dat Malan Steyn nie saamgeskryf het aan die draaiboekverwerking van sy drama nie.

Niemand argumenteer dat ’n draaiboek oorspronklik moet wees om bekroonbaar te wees nie. Daar is ook geen sprake van plagiaat nie. Die Akademie en/of beoordelaars moet egter, en moes lankal, geantwoord het op die volgende vrae: Is die toekenning vir die draaiboek, of vir regie? Meen hulle die draaiboekverwerking is die werk van slegs die persoon wat hulle bekroon, of die werk van twee mense wat voor die voltooiing van die projek stry gekry het? Om hierdie vrae in die lug te laat hang en te hoop dat die storm vanself sal oorwaai, of te redeneer dat die gepeupel moet wag op die uitlees van ’n vollediger commendatio op die bekroningsaand, is nie ’n werkbare strategie nie.

Volgens die Akademie se eie missie en doelstelling “ondersoek dié Akademie voortdurend aktuele sake van openbare belang, neem standpunt daaroor in, en tree meermale adviserend, fasiliterend en meningsvormend op deur direk by die verloop van gebeure betrokke te raak”. Dat die beoordelaars in alle tale oor hul besluit swyg, is in stryd met die rol wat die Akademie sê hy speel.

Kunstenaars is weerloos en prystoekennings jaag emosies op. Daarom moet reglemente duidelik wees, moet beoordelaars hulle by reglemente hou, en moet commendatio’s dien ter stawing en verheldering van die gronde vir die toekenning. Die toekenning van die Deleen Bekker-prys opper tot dusver meer vrae as wat daar antwoorde is. Dit is morsig en uiters onregverdig teenoor twee talentvolle kunstenaars.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.