Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Avbob-poësie vir wanneer die dood ook jou woorde steel

Wat daar ook al is om te voel, vóél dit: Die bevryding, die verligting, die skrik, die vrees vir vergeet of die dowwe pyn van jou eie sterflikheid.

Vind iemand wat jy met jou trane kan vertrou, met woede en verwondering en uiterste stilte. Kry daardie deel gedoen. Hoe gouer, hoe beter. Die enigste pad verby hierdie dinge is déúr hulle.

Dit is die raad van Thomas Lynch, Iers-Amerikaanse digter en begrafnisonder­­nemer, ná ’n leeftyd in die geselskap van mense in rou. Soos sy vader en grootvader voor hom, maak hy ’n bestaan uit die versorging van die dooies én die lewendes. En ja, hy dig daaroor, want hy glo in taal om ’n greep te probeer kry op die mees verbysterende ervaring van alles: die dood.

Lynch slaan die grafrede hoog aan, want hy vertel dat hy langs sterfbeddens en oop grafte twee dinge geleer het: Om seerkry te benoem, bied ’n soort troos, en verdriet wat geïgnoreer word, gaan nooit weg nie. ’n Grafrede is een van die maniere waarop ons smart verwoord – én dankbaarheid oor die mens wat ons liefgehad het en oor die ondubbelsinnigheid van pyn.

Laasgenoemde is ’n vreemde gedagte, maar Lynch wys daarop dat wanneer ons ’n geliefde aan die dood afstaan, die ergste wat kan gebeur, reeds gebeur het. “The light and air of what is known,
however difficult, is better than the dark,” skryf hy in The Undertaking – Life Studies from the Dismal Trade.

’n Mens sou dink dat Suid-Afrikaners, mense wat in noue vertroudheid met die dood leef, lankal geleer het om verlies te verwoord. Tog nie. Dikwels steel die dood die woorde van hulle wat agterbly.

Juis daarom het die begrafnisondernemer Avbob ’n sonderlinge projek van stapel gestuur: In al 11 tale is mense gevra om oor die dood te dig.

Die gedagte het ontstaan langs die graf van ’n tweejarige wat aan neuroblastoma gesterf het.

Boek oor ons land en mense – in al 11 landstale.

Op sy begrafnis kon sy oupa geen woorde vind nie. Al wat hy kon uitkry, was ’n gefolterde “Tata, Kiewiet”. Die besef dat woorde ’n manier is om na jou asem te snak nadat jy wind-uit geslaan is, selfs met die woorde van ánder wanneer jy jou eie nie kan vind nie, het pas uitgeloop op die verskyning van ’n bundel met ’n keur van die gedigte wat, in antwoord op Avbob se oproep, uit alle uithoeke van die land ingestroom het.

In dié bundel, I Wish I’d Said, word die dood uit vele monde, in al 11 landstale, gekonfronteer. Die dooies word besing, hul liggame in lewe en dood aandagtig beskryf. Die treurwerk bestryk die dood van oumense en kinders; en daar is ’n ryke verskeidenheid aan emosies en herinneringe.

Dit is egter allermins makaber, want by die lees van soveel gedigte uit soveel oorde staan ’n mens verstom oor die dood as groot gelykmaker. Dit getuig van gedeelde menslikheid en die oplos van skeidslyne in die skadu van die dood.

Dit is ’n boek oor ons land en ons mense en dit herinner ons, almal oorlewendes van ’n gewelddadige geskiedenis en samelewing, hoe om gehoor te gee aan Lynch se aanwysings oor afskeid neem:

There’s no easy way to do this.

So do it right:

weep, laugh, watch, pray, love,

live, give thanks and praise;

comfort, mend, honor,

and remember.

 * I Wish I’d Said – A Product of theAvbob Poetry Project, word uitgegee deur Naledi en kos R200.
 *Dr. Sonja Loots is ’n lektor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die
Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Die Ander Kant  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.