Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Baie borde ‘mince’ gelede was woede tog eenvoudiger

Daar is min dinge meer mistroostig as mince. ’n Mens moet dit eintlik maalvleis noem, maar omdat enige kontak daarmee jou kommin laat voel, raak dit maar altyd op die ou end mince. Vervlakste mince, met daardie mislike reuk van geld-rek-net-so-ver en ma-is-moeg.

Onmoontlik om dit gaar te maak sonder om te wonder wat van jou drome geword het, hoe en hoekom dinge so vreeslik skeefgeloop het, waarom jy so baie dubbelkenne het, of jy ooit in ’n sportmotor deur die strate van Parys gaan ry en of daar nog êrens in die wêreld iemand is wat jou liefhet. Mince is vir mislukkelinge. Die enigste iets wat dit nog erger kan maak, is Aromat.

Sommige aartsentoesiaste sal beweer daar is planne wat help. Knoffel en rooiwyn. Vermommings genaamd moussaka of bobotie. Boerebolognaise (’n hoop spaghetti bo-op supermarkpasta met tamatiesous uit ’n bottel). Die waarheid is egter: Jy kan poedelkaal met net ’n vereboa aan staan en kook, maar mince bly altyd maar mince. Daar is niks aan te doen nie.

Toe ek jare gelede ’n jeremiade hieroor laat opklink, terg die skrywer Vincent Pienaar: Hoe sou jy daarvan gehou het om ’n naam te hê wat rym met mince? Ek dink dikwels met ’n grinnik aan Vince se kwinkslag, maar die grinnik kwyn altyd weer, want wanneer mens staan en kyk hoe bloederige mince vaal word in die pan, verdamp alle lewensvreugde.

Vandeesweek was dit weer sulke tyd. Ten minste is dit nie soja-mince nie, probeer ek myself opkikker. Wees dankbaar dat jy teen maandeinde hoegenaamd kos het! En toe tel ek maar my foon op sodat ek met een hand in die kuberruim kan rondsoek na iets om my aandag af te lei terwyl ek met die ander hand die pan se inhoud roer.

‘Mince’ bly maar altyd ‘mince’?.?.?.

Ek vind dit in die vorm van videomateriaal van ’n skynbaar gewone man op ’n skynbaar gewone weeksaand wat in ’n Johannesburgse restaurant waansinnig van woede raak omdat daar nie kaas op sy focaccia is nie. Skynbaar is ook die ander restaurantgangers totaal van hul trollie af. Hulle staan in ’n halfmaan om hom en krys soos Furies. Hulle stamp en stoot aan hom, en hy aan hulle. Die vlamme brand ál hoër totdat hy sy pistool uitpluk en woes begin rondswaai. Die vegtendes koes effe, maar gaan voort om hom uit te jou, want raserny bruis so heftig deur hulle are dat selfs die bedreiging van koeëls wat hulle kan deurboor, min effek het.

Woede. Daar is baie soorte. Politieke woede wat verandering teweegbring en vernietiging saai. Kreatiewe woede wat groot talente ontketen. Ondergrondse, ongesublimeerde woede wat verhoudings vergiftig. Versteurde woede wat moordenaars en psigopate voortdryf. Sosiale woede wat gebore word uit gefrustreerde verwagtings. En dan ook twee voorheen ongedokumenteerde gevalle: Die woede wat opwel as daar nie kaas op jou focaccia is nie, en die woede as iemand in ’n restaurant waar jy ook is, kla omdat daar nie kaas op sy focaccia is nie.

Jô, dink ek terwyl ek Worcestersous soek. Jare gelede, voordat ek en my kenne saans vir my gesin staan en mince maak het, was woede veel eenvoudiger as nou. “I used to love my anger,” skryf die Frans-Britse feminis Elif Shafak onlangs in ’n Guardian-rubriek. “When I was young, it was precious to me, this smouldering rage, which I would hold between my palms like a lantern without realising it was not much of a provider of either light or warmth.” Sy kom tot die slotsom dat woede, selfs geregverdigde woede, slegs produktief kan wees wanneer dit gebalanseer word met liefde en empatie.

Daar is natuurlik ’n grens aan hoeveel diep gedagtes mens langs ’n pan vol mince kan dink. Kos is op die tafel, gil ek. My gesin kom aangestorm. Hulle steek bedremmeld vas as hulle sien dis weer mince. Is daar darem kaas om bo-oor te strooi, kreun een. Hy hou van kaas, bra. Daar kan net een antwoord wees. Ja, skat.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.