Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Blinde digters kennelik in vele gedaantes

“Vier donker oë blits fel en woes / wyl twee gedaantes mik en koes”.

In Ernst van Heerden se gedig “Die bokser” staan ’n man voor ’n spieël en worstel met sy weerkaatsing. Hy staan soos ’n bokser voor sy ewebeeld en wieg; mik dan ’n metaforiese mokerslag na die self. Die spieël spat aan skerwe.

“Sy beeld versplinter in die glas / waar netnou my gestalte was; / ’n flikkerweerskyn word verskerf, / ’n lyf stort soos ’n koring-gerf”.

Dié mooi ou gedig draal die afgelope ruk in my gedagtes omdat die koms van Covid-19 en die meegaande veranderings soveel selfkonfrontasie afdwing. Met Van Heerden se triestige vegter in my agterkop, maak Andrew Daries Jeptha toe ook boonop die afgelope week sy opwagting in my leeslewe.

Jeptha, ’n skrynwerkerseun van Kaapstad, was die eerste swart bokser wat ’n Britse bokstitel verower het.

Hy het as hoërskoolseun in gevegte in die Vaudeville-teater in Loopstraat en Fillis se sirkus op die Kaapse Parade sy loopbaan begin. Nadat hy hier ’n bokskompetisie gewen het wat deur die besoekende wêreldkampioen Kid McCoy gereël is, is hy vort na Engeland.

Hier raak die verhaal donker. Die gevolg van die taai gevegte was dat sy sig begin agteruitgaan. In die Moorfield-ooghospitaal word bloedsuiers op sy oë geplaas. Dit is seer en dit werk nie.

Hy hou teen sy beterwete aan met boks en in 1907 verower hy sy weltergewigtitel in ’n gevegsaal genaamd Wonderland in Whitechapel Road. Hy slaan vir Curly Watson, die Royal Navy se bokskampioen, in die vierde ronde uit.

’n Mens moet altyd terugploeg, glo hy.

Sy sig versleg verder. In ’n desperate poging om geld te verdien, neem hy deel aan ’n toneelstuk in die Vaudeville-teater in Londen genaamd Black against White.

Dit is ’n nagemaakte boksgeveg waarin die Britse liggewigkampioen Jack Gold­swain aand ná aand vir Jeptha karnuffel. Natuurlik simboliseer dit die oorwinning vir die Britse koloniale ryk. Jeptha, lig van gelaat, moet sy lyf en gesig besmeer met ’n konkoksie van gebrande kurk om swart te lyk. Die kurk in sy oë en die loesings laat sy sig verder agteruitgaan.

In 1909 probeer hy na die kryt terugkeer. Die skeidsregter staak die geveg omdat Jeptha sy houe blindelings plant.

Die man wat as “le Negre”’ in Frankryk en as “the Boer” in Ierland geboks het, keer terug na Kaapstad. Nou heeltemal blind. Hy dikteer sy memoires en probeer oorleef met die geld wat hy verdien uit die verkoop daarvan.

Daar is ’n eksemplaar in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad; en dit is ook die onderwerp van ’n pragtige monografie deur die Universiteit van Kaapstadse professor Kurt Campbell.

Om dit te lees, is teen alle verwagtings in nie deprimerend nie. Dit is inspirerend.

Sonder ’n sweem selfbejammering deel hy sy herinnerings en gee hy raad aan jong boksers. ’n Mens moet altyd terugploeg, glo hy. Hy vra ander om dit ook te doen.

Oor die wreedheid van die Vaudeville-ervaring rep hy geen woord nie. Oor pyn en swaarkry net die nodigste.

Sy lewe is in donkerte gehul, maar sy woorde is lig. Hy herroep oomblikke van skoonheid en verwondering op sy reise. Hy onthou en bedank mense wat gaaf was met hom. Die laaste paragraaf is ’n viering van vriendskap.

Daar word vertel dat hy tot met sy dood op die sypaadjie tussen die blommeverkopers in Adderleystraat gesit en die boekie teen een sjieling verkoop het. Ek glo dat hy daar sit en dagdroom het oor al die plekke waar hy gelukkig was.

Soos in sy memoires, het hy in sy gedagtes weer betowerd deur Kew Gardens gestap of vrolik in Brighton se branders baljaar. Hy het opnuut katedrale, kastele en paleise bewonder. Aan sy baie vriende gedink. Nie besig om met homself te ba­klei soos Van Heerden se bokser nie.

Hy was geen Homeros nie, maar nogtans ’n gids na die lig vir almal van ons, waar ons ook al vasgetrap is deur die virus. Blinde digters kom kennelik in vele gedaantes.

Meer oor:  Andrew Daries Jeptha  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.