Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Bly staan soos Horatius in ons eie tragedie van Shakespeare

“Hoe sat, tam, plat en onsinnig lyk my al die doenighede van hierdie wêreld; niks beter nie as ’n ongeskoffelde tuin, met die onkruid aan die saad skiet, en oorgeil plante wat dit toerank tot ’n bosgasie.”

Soos Shakespeare se prins Hamlet voel mens deesdae as jy besef dit is nie net die staat van Denemarke wat soos ’n vis van bo by die kop tot agter by die stert verrot het nie. Iets is vrot, voorwaar, en ons weet almal wat dit is. Ons word nou wel nie regeer deur ’n koning wat sy voorganger vergiftig het deur ’n fiool vol astrak van dolkruid in sy oor te giet nie, maar weliswaar deur ’n spul staatskapers en swendelaars. Getuienis oor Bosasa se omkopery van ANC-hoës voor die Zondo-kommissie getuig maar net weer daarvan, en herinner aan Hamlet se waarskuwing: “Al sou jy vuighede onder die hele aarde wou begrawe, oplaas word hulle openbaar.”

Dit is natuurlik nie die enigste element van die Zondo-verrigtinge wat pure Shakespeare is nie. Hamlet dink aan Claudius, die verraderlike oom wat sy vader as koning opvolg, as ’n slang wat opgekrul op die troon lê; en adv. Nomgcobo Jiba van die nasionale vervolgingsgesag is glo deur haar omkopers Slang genoem omdat sy giftig was en altyd gereed om toe te slaan.

Soos Hamlet aan sy moeder, sou mens graag elkeen van hierdie korrupte politici en burokrate wou vra: “Hoe kon die roos van reinheid by julle plek maak vir ’n bed van koorsblare? Hoe kon julle, nadat jy gewei het op die wonderskone berg, neerdaal na die brak moeras?”

Soos Hamlet, wat met Yorick se skedel in sy hand staan en terugdink aan ’n era van vrolikheid en onskuld in die tuine en parke van sy vader se koninkryk, onthou ons ook dat daar beter dae was.

Ons wil nie soos Ophelia “draaitjies van ou deuntjies sing” en “die nood misken” nie.

En soos Hamlet, wat die spookgestalte van die gestorwe koning in volle wapenrusting op die stadsmure sien wandel, word ons bespook deur herinnerings aan ’n ANC-regering wat nie so ’n volkome slangnes was soos nou nie.

Maar dit sal nie deug om ons in die rol van Hamlet te verbeel nie. Weifeling en vertwyfeling neem te dikwels van hom besit. Drywend in ’n see van swarighede slinger hy rond tussen histrioniese selfbejammering, neerslagtigheid en nostalgie, dolheid, ydele dreigemente en donker wraakfantasieë. Dit alles baat hom net mooi niks en mens is skoon verlig as dié liggewig op die ou end sterwend inmekaarsak.

Ook die taktieke van ’n paar ander rolspelers in die aangesig van die geslepe Claudius bied geen inspirasie nie. Ons wil nie soos Ophelia “draaitjies van ou deuntjies sing” en “die nood misken” nie. Dit gaan nie help om in die verlede te leef of te ontken dat daar groot fout is nie. Ons wil nie soos Laertes toelaat dat ons smeulende woede ons vatbaar maak vir opstokers nie; of soos Polonius deur praatsiekheid en onbekwaamheid ondergaan nie; of soos Gertrude deur komplotte verblind word nie.

Ons moet eerder wees soos Horatius, Hamlet se boesemvriend. Hy is ’n Elsi­nore-randfiguur sonder ekonomiese of politieke invloed, maar hy oorleef die politieke maalkolk waarin soveel ander ondergaan. Wanneer die Hamlet-gordyn toetrek, het Ophelia in haar modderbed verdrink, is haar vader met ’n rapier deurboor en haar broer met die skerp punt van ’n gifbestrykte floret doodgesteek. Arme Yorick se skedel lê lankal in die begraafplaas en die siel van koning Hamlet word gepuur in swawel- en foltervlamme. Rosencrantz en Guildenstern is dood. Gertrude sterf ’n grusame gifdood en haar seun en man se moordenaars bloei dood aan hul steekwonde.

Net Horatius staan nog regop. Sy geheim was dat hy deurgaans nugter gebly het wanneer emosies hoog begin loop het, sy woorde versigtig geweeg het, meer geluister as gepraat het, en voortdurend die kat uit die boom bly kyk het. Geen van die vegtende partye kon hom op sleeptou neem met hul gekonkel nie, en nooit het hy ’n beginsel verraai nie. En só, met ’n mengsel van waaksaamheid en taaiheid, sal gewone mense in Suid-Afrika hopelik die huidige regering oorleef. Soos wat die verskillende spelers mekaar se ondergang bewerkstellig, en die konkelaars een-een ondergaan in die storms wat hulle self geskep het, moet ons maar vertrou dat daar iewers ’n einde gaan kom aan hierdie morsige tragedie waarin ons gelukkig net randspelers is.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.