Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Bottom en klaar! Hlaudi as hofnar eintlik nie snaaks

Ai, wat ’n koddige kaartmannetjie is die Hlaudi Motsoeneng tog! Verkiesings is dodelik ernstige sake, maar te midde van soveel gewigtigheid raak mens later skoon laglustig en dan begin jy rondsoek vir ’n hanswors wat sake kan opvrolik.

Te oordeel na die reaksies wat hy voor en ná die verkiesing ontlok het, was Meneer Negentig Persent net mooi 100% geskik vir dié doel.

Die vrolikheid het begin met ’n videogreep van Hlaudi (wat altyd oor Hlaudi in die derde persoon praat) se aankondiging dat Hlaudi die toekomstige president van Suid-Afrika is. In heelparty van Suid-Afrika se 11 landstale het mense hulle hieroor verkneuter. “Jy het te veel van daai Enter­prise-polonie gevreet, jou malkop”, “Jy moet ’n dokter én toordokter gaan sien”, “So hoog soos ’n vlieër” en “O phela ka hope” (“hy woon in droomland”) was van die gaafste kommentare.

Hlaudi het toe by wyse van ’n verkiesingsmanifes verduidelik dat Hlaudi hom gaan beywer vir jong mense, gestremdes en mense met “albionism” (soos hy dit in Engels genoem het). Facebook en Twitter het ontplof met skares gesiggies wat lag dat die trane soos watervalle by hul geel emotikonwange afstroom. Die Twitter-reaksie “I am cracking my ass up the fyusha president is albinion” het min of meer die bui opgesom.

Hlaudi, wat op ’n keer vir Hlaudi as “intellectual acamedic” beskryf het, het egter volgehou dat Hlaudi ná die verkiesing vir vars lug in die Uniegebou gaan sorg. Dit het heelparty proesende navrae ontlok oor wat hy rook en/of drink. Gratis loopbaanadvies het gelui dat hy ’n beter komediant as politikus sal maak. Sielkundige analises het ingesluit dat Hlaudi nie genoeg speelgoed gekry het toe hy ’n kind was nie en daarom met kiesers probeer speel. Ander kommentaar het bestaan uit nóg ’n horde emotikons van mense wat hulle ’n boggel lag; meme van mense wat van rusbanke, beddens en geboue afval soos hulle skater; en die vraag: “As jy wen, gaan jy al twee jou vriende ministers maak?”

Hulle hét ineengestort. Van die lag.

Hlaudi het gedreig: “Diegene wat nie glo dat Hlaudi die vermoë het om Suid-Afrika te verander nie, sal almal ineenstort. Almal van hulle.” Hy was reg. Hulle hét ineengestort. Van die lag. Des te meer nadat dit bekend geword het dat minder as 5 000 mense landwyd vir sy African Content Movement (ACM) gestem het. Baie van Hlaudi se ondersteuners wou vir Hlaudi stem, maar hulle het per ongeluk vir ’n ander party gestem, het Hlaudi verduidelik. Met die insig eie aan ’n “acamedic” het Hlaudi ook verklaar dat “many people in small numbers” vir Hlaudi gestem het. Die swak uitslae is nie die einde van die wêreld nie, hy sál nog in die toekoms die land se president wees, “bottom en klaar”.

Nie die einde van die wêreld nie, nee, maar hopelik wel van Hlaudi. En daarmee is die versoeking groot om die lagtrane af te vee en vir altyd van hom te vergeet, met as laaste terloopse nagedagte dat die rol van die hofnar nog nie uitgedien is nie.

Die enigste probleem is dat hierdie hofnar, hierdie kostelike windlawaai wat ons met die een katoolse kwinkslag ná die ander vermaak, nie so lank gelede nie nog ’n skrikbewind gevoer het as buffel en boeman van die openbare uitsaaier.

Totdat die openbare beskermer hom as kwaksalwer sonder selfs ’n matrieksertifikaat ontbloot het, het hy talle lewens verwoes. Talle afleggings het gevolg op die netto verlies van R622 miljoen in die 2017-’18-boekjaar, en die dood van Suna Venter aan gebrokehartsindroom versinnebeeld die impak van sy megalomanie en magsug op die werknemers wat deur hom geterroriseer is.

Die regering wat die vergrype van Hlaudi en ander korrupte, onbekwame hondsvotte soos hy moontlik gemaak het, is steeds aan die bewind. Van die staatska­pers is pas opnuut as parlementslede verkies. Hierdie toedrag van sake is allermins snaaks, al slaan die besimpelde hofnar duisend maal bollemakiesie. Totdat ons finaal ontslae is van al die uitvaagsels wat ons besteel en belieg het, lag ons met ’n traan, “bottom en klaar”.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Hlaudi ­Motsoeneng  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.