Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Branders, wolke moet ’n plek hê op doenlyste

’n Kind vertel my onlangs hoe hy in die moeilikheid beland het omdat hy tydens ’n skoolaktiwiteit sy aandag nie kon wegskeur van die branders waarna hy staan en kyk het nie. “Wat niemand verstaan nie,” verduidelik hy hartseer, “is dat dit die mooiste branders was wat ek nog in my hele lewe gesien het.”

Daardie oomblik van hopelose droomverlorenheid bly my by toe opvoeders, leerlinge en studente die afgelope week na klaskamers en lesingsale moes terugkeer omdat die vakansie verby is.

Dit was tyd om die werkweek brullend entoesiasties te bestorm en doelgerig aan die werk te spring.

Nie almal het dit reggekry nie. Terwyl studente met waterige oë dwarsdeur my kyk en ek sélf ook sukkel om te fokus, dwaallees ek ’n besonderse boek raak. The Invention of Clouds deur Richard Hamblyn beskryf hoe Luke Howard in die 1800’s die vader van moderne weerkunde geword het met sy beskrywing en benoeming van wolkformasies. As kind, lank voordat hy ’n held van die Victoriaanse wetenskap sou word, het Howard ure lank by vensters sit en uitstaar. Wolke het hom geboei en volgens sy eie bekentenis het hy min aandag aan sy lesse gegee. Net Latyn het hom effens geïnteresseer.

Terwyl sy klasmaats en onderwysers waarskynlik raadop was met die “lui” of “stout” seun wat agterin die klas sy dae sit en omdroom het, was Howard besig om uit te pluis dat alle wolke variasies van sekere basiese vorms is. Hy het later, as 20-jarige, die enigste iets van waarde wat hy op skool geleer het, ’n paar woorde Latyn, gebruik om die drie vernaamste wolksoorte te benoem: cirrus, Latyns vir ’n plantrank of haar; cumulus, Latyns vir ’n hoop of stapel; en stratus, Latyns vir ’n laag of laken. Om rekening te hou met hoe wolke voortdurend transformeer, het Howard ook ’n reeks tussentydse en saamgestelde wysigings, soos cirrostratus en stratocumulus, uitgelig.

Die insig dat daar vorm in die vormloosheid van wolke is, was bedrieglik eenvoudig. Die impak van Howard se wetenskaplike artikel “Essay on the Modification of Clouds” (1803) was egter enorm. Hy was ook die eerste wat ingesien het dat wolke sigbare tekens is van die uitwerking van atmosferiese variasies en het die fondament gelê vir die bestudering van die ontwykende fenomene weer en klimaat.

John Constable is deur Howard se insigte aangevuur om twee somers lank by Hampstead Heath te staan en wolke te skilder.

Howard se wetenskaplike publikasie het nie net wetenskaplikes laat regop sit nie, maar ook digters en skilders. Johann von Goethe het in sy gedig “Howards Ehrengedächtnis” hulde gebring aan die wolk-wetenskaplike. Hy het met Howard begin korrespondeer en as woordsmid van die Verligtingsera in wolke geïnteresseerd geraak.

John Constable is deur Howard se insigte aangevuur om twee somers lank by Hampstead Heath te staan en wolke te skilder. En op sý beurt het Percy Shelley hom laat inspireer tot die skryf van sy pragtige gedig “The Cloud”, met daardie onvergeetlike, wonderskone slotreëls oor die verdwyning en verskyning van ’n wolk: “I silently laugh at my own cenotaph, / And out of the caverns of rain, / Like a child from the womb, like a ghost from the tomb, / I arise and unbuild it again.”

Dalk was Howard vertroud met Aristophanes se beskrywing van wolke as die beskermgode van die dromers en luiaards van 2 500 jaar gelede. En dalk kan hulle daardie rol steeds vertolk (saam met die branders). In die week wat kom, moet ons daardie lang doenlyste korter maak. In die week wat verby is, was ons dalk besiger as wat ons besef het.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.