Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: By goedkoop altaar van hoop geen plek vir materialisme

Sou dit waar wees dat die Covid 19-pandemie besig is om ’n verskuiwing na “postmaterialisme” te veroorsaak?

Is dit moontlik dat waardes wêreldwyd heroorweeg word en dat welstand belangriker begin raak as welvaart?

Sonja Loots
Sonja Loots

Daar is wel aanduidings van perspektiefverskuiwings. Tydens die inperking het ons familie, vriende en gemeenskappe weer na waarde leer skat. Om geskei te wees het die kosbaarheid van samesyn onderstreep. Toe almal tot stilstand kom, het ons nuutgevonde plesier geput uit ons tuin, agterplaas of balkon. Die bekoring van stiller stede en tyd in stadige pas was ’n onverwagte toeverlaat. Die voordele vir die planeet toe die samelewing in sy spore vassteek, was duidelik. En terwyl mense in hul huis vasgekeer was en lewens stukkend geval het, was dit nie die bankiers en aandelemakelaars tot wie hulle hul gewend het nie, maar kunstenaars. Die dae is verwyl met boeke en musiek, en die verskillende soorte kunsvorme wat aanlyn beskikbaar was. ’n Mens sou miskien kon praat van ’n ingrypende besef dat juis dáárdie dinge wat nie monetêre waarde het nie, waardevol is.

Só peins ek toe ek die groot pakhuis in ’n nywerheidsgebied van Kaapstad binnestap om ’n koffietafeltjie te koop. Dit is die soort wat plat in ’n boks kom en wat mens dan met groot kopkrap en binnemondse gemompel by die huis aanmekaar gaan skroef. Dit is goedkoop en op groot skaal vervaardig en Greta Thunberg sal met my raas omdat ek nie eerder in ’n tweedehandse winkel gaan rondsnuffel het nie. Dit is ook nie al waaroor ek skuldig voel nie.

Poshlost, hoor ek die skrywer Vladimir Nabokov al smalende sê. Nabokov het hom vergaap aan die materialisme van 1950’s-Amerika en aan die banaliteit, vulgariteit en trivialiteit van die efemera waarmee Amerikaners hul huise volgestop het. Poshlost was sy woord vir die ingesteldheid van ’n sekere soort verbruiker.

En net daar kry die vulgêre klein aankoop vir my betekenis omdat dit deel raak van ’n ekologie van deernis en dankbaarheid.

Hy het hulle as “filistyne” beskryf omdat hulle kleinlik snobisties was en sonder begrip van kuns. Hul belangstellings was materieel en gemeenplasig. “The philis- tine is the product of triteness and mediocrity,” het hy geraas en geblaas.

In sy lesings by Cornell het hy dikwels vir studente ’n advertensie gewys wat ’n perfekte illustrasie van sonnige Amerikaanse materialisme en kitsch was. Dit was ’n foto van ’n huisvrou wat met haar hande voor haar gevou, of in gebed, straal oor haar nuwe messe en vurke. Nabokov het daarna verwys as “the adoration of spoons”.

Dit is geen wonder dat naoorlogse Amerika Nabokov verstom het nie. Sy familie was Russiese aristokrate, maar hy het op 18-jarige ouderdom uit St. Petersburg gevlug en sy enorme familiefortuin aan die Bolsjewieke verloor. As uitgewekene in Europa het hy geraap en geskraap en op die ou end het hy en sy Joodse vrou die laaste skip uit Nazi-besette Frankryk na Amerika gehaal. En daar het hy vir mense begin vertel van poshlost, ’n woord wat volgens hom bedink is in ou Rusland, waar aristokratiese eenvoud en goeie smaak hoogty gevier het.

En só, met ’n vingerwuiwende Nabokov in my gedagtes, stap ek koponderstebo uit die pakhuis met my cheap and nasty tafeltjie. Die werknemer wat by die deur staan en mense se temperatuur meet, die een wat so vriendelik gegroet het toe ek binnekom, wink my terug. “Thank you for paying my salary,” sê hy. Met groot opregtheid. Dit raak my diep. En net daar kry die vulgêre klein aankoop vir my betekenis omdat dit deel raak van ’n ekologie van deernis en dankbaarheid.

Die tafeltjie het wonder bo wonder aanmekaar geskroef gekom en die pootgewikkel is opgelos. Vanoggend staan daar ’n blompot met blomme op, en ’n beker koffie, en die blad is besaai van boeke en koerante. Dit is nou ’n soort altaar waar ek sit en pieker oor die planeet, waar ek uitsien na die nuwe era van postmaterialisme, waar ek tyd maak om my seëninge te tel en gereeld weer die man by die deur se seënwens met verwondering onthou.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.